Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Goeie naam, of reputasie, wen vertroue en respek

’n Goeie naam is beter as groot rykdom

’n Goeie naam is beter as groot rykdom

’N GOEIE naam, of reputasie, is só waardevol dat dit in sekere lande deur die wet beskerm word. Soos byvoorbeeld beskerming teen laster—wanneer iemand jou naam deur die modder sleep, hetsy dit persoonlik, agteraf of in die media is. Dit laat mens dink aan die ou gesegde: “’n Goeie naam is meer werd as groot rykdom, die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud” (Spreuke 22:1, NAB). Hoe kan ons ’n goeie naam verkry? En wat moet ons doen sodat ander ’n goeie gesindheid teenoor ons het, of ons respekteer? Die Bybel gee vir ons ’n paar uitstekende voorstelle.

Kyk byvoorbeeld na wat die Bybel in Psalm 15 vra: “Wie sal ’n gas in [God se] tent wees?” Die psalmis antwoord dan deur te sê: “Hy wat . . . regverdigheid beoefen en in sy hart die waarheid spreek. Hy het nie . . . gelaster nie. Sy metgesel het hy geen kwaad aangedoen nie, en geen smaad het hy teen sy intieme kennis uitgespreek nie. In sy oë word die veragtelike beslis verwerp. . . . Hy het gesweer tot sy skade, en tog verander hy nie. . . . En ’n omkoopgeskenk . . . het hy nie aanvaar nie” (Psalm 15:1-5). Sou jy nie respek hê vir iemand wat volgens hierdie standaarde lewe nie?

Nederigheid kan ons ook help om ander se respek te verkry. “Nederigheid kom voor eer”, sê Spreuke 15:33, NAB. Dink daaraan: Nederige mense kyk waar hulle kan verbeter en werk dan hard om dit reg te kry. Hulle is ook bereid om jammer te sê as hulle iemand se gevoelens seergemaak het (Jakobus 3:2). Trotse mense is die teenoorgestelde en spring gou op hulle perdjie. “Trots kom voor ’n ineenstorting en ’n hoogmoedige gees voor struikeling”, sê Spreuke 16:18.

Maar wat as iemand jou goeie naam swartsmeer? Moet jy jou opruk en toelaat dat woede die oorhand kry? Vra jou af: ‘As ek my reputasie probeer verdedig, sal dit nie veroorsaak dat meer mense van die leuen hoor nie?’ Al is dit nie altyd verkeerd om iemand te dagvaar nie, gee die Bybel hierdie wyse raad: “Moenie uitgaan om haastig ’n regsaak te voer nie.” Maar “bepleit jou eie saak by jou medemens” (Spreuke 25:8, 9). * As jy hierdie raad toepas, kan jy ook duur hofsake vermy.

Die Bybel is baie meer as net ’n boek oor godsdiens. Dit is ’n betroubare gids vir die lewe. Almal wat die wysheid daarin toepas, leer eienskappe aan wat ander se respek wen en tot ’n goeie naam bydra.

^ par. 5 Nog Bybelbeginsels oor hoe om konflik op te los, kan gevind word in Matteus 5:23, 24; 18:15-17.