Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Diskriminasie – Is jy aangesteek?

Diskriminasie – Is jy aangesteek?

Diskriminasie is soos ’n virus. Dit is skadelik vir mense wat dit het, en soms weet mense nie eers dat hulle die virus het nie.

Mense diskrimineer soms nie net teen mense van ’n ander nasionaliteit, ras, stam of taal nie, maar ook teen mense van ’n ander godsdiens, geslag of sosiale klas. Soms het mense ’n negatiewe opinie oor ander as gevolg van hulle ouderdom, opvoeding, gestremdheid of hoe hulle lyk. Maar tog voel hulle dat hulle nie diskrimineer nie.

Sukkel jy met diskriminasie? Die meeste van ons kan sien wanneer ander diskrimineer. Maar dit kan moeilik wees om te sien as jy self diskrimineer. Die waarheid is dat almal van ons tot ’n mate partydig is. David Williams, ’n professor in sosiologie, sê dat wanneer mense ’n negatiewe opinie oor ’n sekere groep het en dan iemand van daardie groep ontmoet, “hulle daardie persoon anders sal behandel en glad nie eers besef dat hulle dit doen nie”.

Byvoorbeeld, in die Balkanland in Suidoos-Europa waar Jovica woon, is daar ’n minderheidsgroep waarop ander neersien. Hy erken: “Ek het gedink dat niemand in daardie groep ’n goeie mens kan wees nie. Maar ek het nie gedink dat ek diskrimineer nie. Ek het myself oortuig dat dit wat ek oor hulle geweet het, die waarheid was.”

Baie regerings maak wette teen rassisme en ander vorme van diskriminasie. Maar diskriminasie hou aan. Hoekom? Want daardie wette beperk net hoe ’n persoon optree. Dit kan nie ’n persoon se gedagtes en gevoelens beheer nie. En diskriminasie begin in ’n persoon se hart en gedagtes. Is dit dan onmoontlik om teen diskriminasie te veg? Is daar ’n oplossing vir diskriminasie?

Die volgende artikels sal vyf punte bespreek wat baie mense gehelp het om teen diskriminasie in hulle eie hart en gedagtes te veg.