Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goeie waardes is soos ’n kompas wat jou kind in die regte rigting kan help

VIR OUERS

7: Waardes

7: Waardes

WAT DIT BETEKEN

Jou waardes is die standaarde waarvolgens jy lewe. Probeer jy byvoorbeeld om altyd eerlik te wees? Dan sal jy seker ook hierdie waardes vir jou kinders wil leer.

Jy wil hulle ook van kleins af leer om hardwerkend en regverdig te wees en om ander se gevoelens in ag te neem. Dit is goed om die boompie te buig terwyl hy nog jonk is.

BYBELWAARHEID: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.” — Spreuke 22:6.

HOEKOM DIT BELANGRIK IS

In hierdie era van tegnologie, is goeie waardes baie belangrik. ’n Ma met die naam Karyn sê: “’n Mens kan nou op enige tyd met die druk van ’n knoppie dinge sien wat ’n slegte invloed op jou kan hê. Ons kinders kan dalk reg langs ons sit terwyl hulle na iets slegs kyk!”

BYBELWAARHEID: ‘Volwasse mense se waarnemingsvermoëns is geoefen om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is.’ — Hebreërs 5:14.

Goeie maniere is ook baie belangrik. Iemand met goeie maniere sê “asseblief” en “dankie” en wys dat hy vir ander omgee. Goeie maniere is vandag baie skaars. Dit lyk of mense deesdae meer in tegnologie belangstel as in ander mense.

BYBELWAARHEID: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.” — Lukas 6:31.

WAT JY KAN DOEN

Leer jou kind goeie waardes. Navorsing wys byvoorbeeld dat as daar reguit vir tieners gesê is dat seks voor die huwelik verkeerd is, die kanse minder is dat hulle dit sal doen.

PROBEER DIE VOLGENDE: Soek vir geleenthede om met jou kind oor goeie waardes te gesels. As die nuus byvoorbeeld praat van iemand wat vermoor is, kan jy dalk sê: “Dis hartseer hoe wreed mense met mekaar kan wees. Hoe dink jy word mense so?”

“Dis baie moeiliker vir kinders om tussen reg en verkeerd te kies as hulle nie weet wat reg of verkeerd is nie.” — Brandon.

Leer jou kind goeie maniere. Selfs klein kindertjies kan leer om “asseblief” en “dankie” te sê en wys dat hulle vir ander omgee. “Kinders moet besef dat hulle deel is van iets groters, soos ’n familie, ’n skool of ’n gemeenskap. Hulle sal dan makliker goeie dinge doen om ander te help, nie net hulleself nie”, sê die boek Parenting Without Borders.

PROBEER DIE VOLGENDE: Gee jou kind werkies by die huis sodat hy kan leer hoe belangrik dit is om dinge vir ander te doen.

“As ons kinders nou al leer om werkies by die huis te doen, sal hulle nie so geskok wees wanneer hulle eendag op hulle eie bly nie. Hulle sal daaraan gewoond wees om verantwoordelikhede te hê.” — Tara.