Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

KAN ONS PLANEET OORLEEF?

Woude

Woude

WOUDE is al die aarde se “longe en lewensonderhoudende stelsel” genoem en met goeie rede. Bome absorbeer koolstofdioksied, wat andersins nadelig vir ons kan wees. Hulle stel ook suurstof vry, ’n noodsaaklike komponent in die lug wat ons inasem. Omtrent 80 persent van die wêreld se landplante en -diere woon in woude. Sonder woude kan ons nie oorleef nie.

Dinge wat ons woude bedreig

Elke jaar word miljarde bome afgekap, meestal om grond skoon te maak om landerye te plant. Vanaf die laat 1940’s het die helfte van die wêreld se reënwoude verdwyn.

Wanneer ’n woud vernietig word, word die voordele van die ekosisteem en alles wat dit voorsien, ook vernietig.

Ons planeet – Ontwerp om te oorleef

Party ontboste plekke het gewys dat hulle ’n wonderlike vermoë het om te herstel en selfs uit te brei. Ekoloë het onlangs tot hulle verbasing gesien hoe vinnig ontboste plekke weer natuurlik kon groei en weer gesonde woude kon word. Kyk na hierdie voorbeelde:

  • Beboste plekke wat skoongemaak is vir boerdery en later net so gelos is, is deur navorsers gemonitor. Daar is ’n studie gemaak van 2 200 sulke gebiede in die Amerikas en Wes-Afrika, en dit het gewys dat woude in minder as tien jaar weer daar kan begin groei.

  • Navorsers skat dat daardie woude binne omtrent 100 jaar kan terugkeer na hoe hulle was voordat die bome afgekap is, volgens ’n studie wat gepubliseer is in Science-tydskrif.

  • Wetenskaplikes in Brasilië het onlangs navorsing gedoen om te kyk of die woude vinniger teruggegroei het toe mense probeer het om nuwe bome daar te plant.

  • National Geographic verwys na die navorsers in hierdie studie en sê: “Hulle was baie bly toe hulle sien dat dit onnodig was om bome te plant.” In net vyf jaar was die getoetste gebiede “vol inheemse bome”, sonder dat mense enige bome daar geplant het.

Wat gedoen word

Regoor die wêreld word daar probeer om bestaande woude te beskerm en om dié wat beskadig is, te herstel. As gevolg daarvan, sê ’n bron van die Verenigde Nasies, “het ontbossing regoor die wêreld met meer as 50 persent afgeneem” oor die afgelope 25 jaar.

Maar hierdie pogings is nie genoeg om ons woude te red nie. “Die aantal tropiese woude wat vernietig word, het nie in die laaste paar jaar veel verander nie,” sê ’n verslag wat gepubliseer is deur die Global Forest Watch-organisasie.

Maatskappye wat bome afkap vir hout sonder toestemming van die regering, maak miljarde dollars, en hierdie gierigheid is die hoofrede hoekom tropiese woude vernietig word.

Spanne werk om woude te beskerm deur ’n klein hoeveelheid volgroeide bome af te kap en deur nuwes te plant

Redes vir hoop – Wat die Bybel sê

“Jehovah a God [het] allerhande bome uit die grond laat groei wat mooi is om na te kyk en wat goed is vir voedsel.” – Genesis 2:9.

Die Skepper van alle woude het hulle ontwerp met die natuurlike vermoë om te herstel van die gevolge van volhoubare menslike gebruik. Hy wil ons woude beskerm en onderhou, sowel as hulle ekosisteem wat op ’n wonderlike manier ontwerp is.

Die Bybel wys dat God ’n einde sal maak aan die wanbestuur van die aarde se hulpbronne sodat ons planeet en lewe daarop sal oorleef. Sien die artikel “God belowe dat ons planeet sal oorleef” op bladsy 15.

a Jehovah is God se persoonlike naam. – Psalm 83:18.