Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | VREDE IN DIE GESIN

Hoe om tot vrede in die gesin by te dra

Hoe om tot vrede in die gesin by te dra

DINK jy dat die Bybel julle kan help om vrede in die gesin te hê? Vergelyk asseblief wat die Bybel sê met wat die volgende persone nuttig gevind het. Kyk na watter punte jou kan help om konflik te vermy, die vrede te bewaar en hegte familiebande te smee.

BYBELBEGINSELS WAT TOT VREDE BYDRA

ONTWIKKEL ’N POSITIEWE BESKOUING VAN MEKAAR.

“[Julle moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed die ander hoër as julleself ag, terwyl julle nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.”Filippense 2:3, 4.

“Ons het gevind dat dit goed is om jou maat as belangriker te beskou as jouself en ander.”—C.P., 19 jaar getroud.

LUISTER AANDAGTIG EN SONDER OM TE OORDEEL.

“Hou aan om hulle daaraan te herinner . . . [om] nie strydlustig te wees nie, om redelik te wees en alle sagmoedigheid teenoor alle mense aan die dag te lê.”Titus 3:1, 2.

“’n Mens kan baie spanning vermy as jy jou maat nie op ’n stryerige manier antwoord nie. Dis belangrik om te luister sonder om te oordeel en om sy of haar beskouing te respekteer, al stem jy nie daarmee saam nie.”—P. P., 20 jaar getroud.

KWEEK GEDULD EN SAGMOEDIGHEID AAN.

“Deur geduld word ’n aanvoerder oorgehaal, en ’n sagte tong kan die gebeente breek.”Spreuke 25:15.

“Daar sal wel konflikte wees, maar hoe dit goed afloop, hang van ons gesindheid af. Dis baie belangrik om geduldig te wees. Dit help ons gewoonlik om ons probleme uit te stryk.”—G. A., 27 jaar getroud.

MOENIE JOU MAAT BELEDIG OF FISIES MISHANDEL NIE.

“Verwyder dan nou al hierdie dinge van julle: gramskap, toorn, slegtheid, smadende taal en onwelvoeglike praatjies uit julle mond.”Kolossense 3:8.

“Ek bewonder my man se selfbeheersing. Hy bly altyd kalm, en hy skree nooit op my en beledig my nooit nie.”—B. D., 20 jaar getroud.

VERGEWE VRYELIK EN MAAK GOU VREDE.

“Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het.”Kolossense 3:13.

“Wanneer ’n mens onder druk is, is dit nie altyd maklik om kalm te bly nie en kan jy maklik dinge sê of doen wat jou maat kan seermaak. Op sulke tye is dit goed om te vergewe. Dis nie moontlik om ’n gelukkige huwelik te hê as julle mekaar nie vergewe nie.”—A. B., 34 jaar getroud.

WEES ONSELFSUGTIG EN VRYGEWIG.

“Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee. . . . Want met die maat waarmee julle uitmeet, sal hulle weer vir julle uitmeet.”Lukas 6:38.

“My man weet waarvan ek hou, en hy verras my dikwels. Dit laat my weer dink: ‘Hoe kan ek hom gelukkig maak?’ Dit het al tot baie gelukkige tye in ons lewe bygedra.”—H. K., 44 jaar getroud.

HOU AAN OM VREDE TE BEVORDER

Die familielede met wie Ontwaak! ’n onderhoud gevoer het, is net ’n paar van die miljoene regoor die wêreld wat deur die Bybel gehelp is om eienskappe aan te kweek wat tot vrede in die huis bydra. * Selfs wanneer dit lyk asof party in hulle gesin nie hulle samewerking gee nie, het hulle gevind dat dit nog steeds die moeite werd is om ’n vredemaker te wees, want die Bybel belowe: “Dié wat vrede aanraai, het blydskap.”—Spreuke 12:20.

^ par. 24 Vir meer inligting oor hoe om ’n gelukkige gesinslewe te hê, sien hoofstuk 14 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies en beskikbaar by www.isa4310.com/af. Kyk ook onder BYBELLERINGE > HULP VIR DIE GESIN.