Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Wêreld

Geweld teen vroue is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) nou ’n “wêreldwye openbare gesondheidsprobleem wat epidemiese afmetings aangeneem het”. “Sowat 35% van alle vroue sal slagoffers wees van geweld deur óf ’n huweliksmaat of kêrel óf ’n ander man”, sê die WGO. “Geweld deur ’n huweliksmaat of kêrel is die algemeenste . . . en raak 30% van vroue regoor die wêreld.”

Brittanje

In ’n opname onder 64 303 mense het 79 persent gemeen dat “godsdiens ’n oorsaak is van baie van die ellende en konflik in vandag se wêreld”. ’n Sensus wat in 2011 in Engeland en Wallis gedoen is, het aan die lig gebring dat net 59 persent van die bevolking verklaarde Christene is, in vergelyking met 72 persent in 2001. Gedurende dieselfde tydperk het die persentasie mense wat gesê het dat hulle nie aan ’n godsdiens behoort nie, van 15 tot 25 gestyg.

China

Volgens mediaberigte vereis onlangs gewysigde wetgewing dat volwasse kinders hulle bejaarde ouers nie net dikwels moet besoek nie, maar ook na hulle “emosionele behoeftes” moet omsien. Die wet “skryf nie enige straf voor” vir kinders wat nie hieraan voldoen nie.

Europa

Misdadige groepe vervals nou algemene verbruikersgoedere soos skoonheidsmiddels, skoonmaakmiddels en selfs kos. “Die moontlikheid bestaan dat feitlik elke bestanddeel wat selfs net ’n gemiddelde geldwaarde het, vervals sal word”, sê die hoofbestuurder van ’n voedselsekerheidsagentskap. ’n Deskundige skat dat 10 persent van die voedselprodukte wat in die ontwikkelde wêreld gekoop word, vervals is.