Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Suidoos-Asië

Volgens die Wêreld-natuurfonds is talle nuwe plant- en diersoorte, insluitende die rooioog-kuiladder (Trimeresurus rubeus), tussen 1997 en 2011 geïdentifiseer in die Groter Mekong, ’n streek wat strek oor Kambodja, Laos, Mianmar, Thailand, Viëtnam en China se Yunnan-provinsie. In 2011 alleen is 82 plante, 21 reptiele, 13 visse, 5 amfibieë en 5 soogdiere ontdek.

Europa

Mensehandel het ’n ernstige probleem geword in “die hele Europese Unie”, sê ’n verslag in The Moscow Times. Seksuele uitbuiting, dwangarbeid en selfs “onwettige handel in menslike organe” is van die redes waarom mense verkoop word. Handelaars buit armoede, werkloosheid en geslagsongelykheid uit.

Nieu-Seeland

Navorsers wat ’n studie oor TV-kykery onder kinders en tieners gedoen het, het tot die slotsom gekom dat oormatige TV-kykery “verband hou met ’n toename in antisosiale gedrag onder jong volwassenes”. Die navorsers sê dat hulle bevindings die aanbeveling ondersteun dat kinders se TV-kykery “beperk moet word tot slegs 1 tot 2 uur van gehalteprogramme per dag”.

Alaska

Byna al die dorpies van die inheemse bevolking van Alaska is aan die kus of naby riviere geleë, en 86 persent van hierdie dorpies het met oorstromings en erosie te kampe. Verslae toon dat stygende temperature die vorming van beskermende ys aan die kus vertraag, en gevolglik is die dorpies meer blootgestel aan herfsstorms.

Wêreld

Ondanks groot beleggings in tegnologie wat skoon energie opwek, soos wind- en sonkrag, is “die gemiddelde eenheid energie wat vandag opgewek word, feitlik net so vuil soos dit 20 jaar gelede was”, sê Maria van der Hoeven, uitvoerende direkteur van die Internasionale Energie-agentskap.