HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK
As jy teleurgesteld is met jou huwelik
DIE UITDAGING
Dit het gelyk of jy en jou huweliksmaat baie in gemeen het
Julle kan julle verhouding verbeter. Maar eers moet julle kyk waarom julle moontlik ontnugter is.
WAAROM DIT GEBEUR
Die werklikheid tref julle. Die daaglikse roetine van werk, die grootmaak van kinders en verhoudings met skoonouers kan huweliksgeluk ondermyn. En onverwagte probleme
Oënskynlik onversoenbare verskille. Wanneer twee mense uitgaan, is hulle geneig om die verskille tussen hulle te ignoreer. Maar eers wanneer ’n man en vrou getroud is, besef hulle hoeveel hulle van mekaar verskil wanneer dit kom by die manier waarop hulle kommunikeer, met geld werk, probleme oplos, ensovoorts. Verskille wat vroeër net ’n irritasie was, lyk miskien nou ondraaglik.
Julle het emosioneel verwyderd geraak. Herhaaldelike kwetsende woorde of dade en onopgeloste geskille kan mettertyd veroorsaak dat ’n man of vrou hom of haar emosioneel onttrek of, nog erger, emosioneel geheg begin raak aan iemand anders.
Onrealistiese verwagtinge. Wanneer party mense trou, dink hulle dat hulle die een persoon gevind het wat vir hulle bedoel is. Hoewel hierdie idee dalk romanties klink, kan dit op die ou end tot rampspoed lei. Sodra probleme ontstaan, spat die mite van die “volmaakte maat” aan skerwe en voel albei huweliksmaats dat hulle ’n fout gemaak het.
WAT JY KAN DOEN
Konsentreer op jou huweliksmaat se goeie eienskappe. Probeer die volgende: Skryf drie goeie eienskappe van jou maat neer. Hou die lysie by jou, dalk agterop ’n klein troufoto of op ’n selfoon of ’n soortgelyke toestel. Kyk gereeld na hierdie lysie om jou te herinner aan waarom jy met jou maat getrou het. As jy op die goeie eienskappe van jou maat konsentreer, bevorder dit vrede en sal dit jou help om die verskille tussen julle te aanvaar.
Reël om aangename tye saam te geniet. Voordat julle getrou het, het julle waarskynlik tyd ingeruim om dinge saam te doen. Om uit te gaan, was iets nuuts en opwindends, maar dit is nie aan die toeval oorgelaat nie. Julle kan gerus nou iets soortgelyks doen. Reël om aangename tye saam met jou huweliksmaat te geniet, soos toe julle uitgegaan het. Dit sal julle help om nader aan mekaar te kom en julle in staat stel om onverwagte probleme in die lewe makliker die hoof te bied.
Bespreek jou gevoelens. Sê nou jou huweliksmaat se woorde of dade het jou seergemaak? Kan jy dit oor die hoof sien? Indien nie, moet jy nie onvolwasse optree deur te weier om met jou maat te praat nie. Praat die saak so gou as moontlik op ’n kalm manier uit, nog dieselfde dag as dit enigsins moontlik is.
Sê nou jou huweliksmaat se woorde of dade het jou seergemaak? Kan jy dit oor die hoof sien?
Onderskei die verskil tussen jou gevoelens en jou maat se bedoelings. Nie jy of jou maat wil waarskynlik die ander een doelbewus seermaak nie. Verseker jou huweliksmaat hiervan deur opreg om verskoning te vra as jy hom of haar dalk seergemaak het. Bespreek dan spesifieke punte waarop julle kan let om te voorkom dat julle mekaar se gevoelens onwetend seermaak. Volg die Bybel se raad: “Word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik.”
Koester realistiese verwagtinge. Die Bybel sê dat diegene wat trou, “verdrukking [sal] hê” (1 Korintiërs 7:28). Wanneer jy hierdie verdrukking ondervind, moet jy nie gou tot die slotsom kom dat jou huwelik ’n fout was nie. Werk eerder saam met jou maat om geskille uit die weg te ruim, en “hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe”.