VOORBLADONDERWERP
Beskerm jou teen misdaad!
“My vriende het gewoonlik in die aand saam met my huis toe gestap. Maar een aand was ek so moeg dat ek besluit het om ’n huurmotor te neem.
“Die bestuurder het my nie huis toe geneem nie. Hy het eerder na ’n verlate stuk veld gery, waar hy my probeer verkrag het. Ek het geskreeu so hard as wat ek kon, en hy het my gelos. Toe hy weer nader kom, het ek geskreeu en weggehardloop.
“In die verlede het ek dikwels gedink: ‘Hoe kan dit help om te skreeu?’ Maar ek het uitgevind dat dit werk!”—KARIN. *
IN BAIE lande is misdaad altyd ’n gevaar. In een land het ’n regter byvoorbeeld gesê: “Ongelukkig is die vraag nie of jy ’n slagoffer sal word nie, maar wanneer jy een sal word.” In ander plekke is misdaad dalk minder algemeen. Dit is nietemin onverstandig om oorgerus te raak, want oorgerustheid kan jou kwesbaar maak.
Hoe kan jy die lewe vir jou en jou geliefdes veiliger maak, hetsy jy in ’n gebied met ’n hoë of met ’n lae misdaadsyfer woon? ’n Praktiese stap wat jy kan doen, is om ag te slaan op hierdie beginsel in die Bybel: “’n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit; onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor” (Spreuke 22:3, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Polisieowerhede raai mense ook aan om voorkomingsmaatreëls te tref—om misdaad in die eerste plek te vermy.
Beserings en materiële verlies is nie die enigste gevolge van misdaad nie. Baie slagoffers ondervind ook blywende emosionele en geesteskade. Hoe belangrik is dit dan tog dat ons doen wat ons redelikerwys kan om ons lewe veiliger te maak! Met hierdie doel voor oë kan jy kyk na stappe wat jy kan doen om jou te beskerm teen vier soorte misdaad—roof, seksuele aanranding, kubermisdaad en identiteitsdiefstal.
ROOF
Wat is dit? Roof is diefstal waartydens geweld of dreigemente van geweld gebruik word.
Watter uitwerking het dit op mense? Ná ’n reeks gewapende rooftogte in Brittanje het ’n aanklaer gesê dat al die slagoffers geestespanning ondervind, al het hulle geen beserings opgedoen nie. “’n Hele paar van hulle meld dat hulle voortdurend gespanne is en sukkel om te slaap”, het sy gesê, “en feitlik almal sê dat hulle ondervinding ’n nadelige uitwerking op hulle daaglikse werkslewe het.”
Wat kan jy doen?
Wees oplettend. Diewe is altyd op die uitkyk na ’n maklike teiken. Hulle slaan graag toe op niksvermoedende mense. Hou dus die mense dop wat jou dophou, wees bewus van jou omgewing en moenie jou sintuie afstomp of jou oordeel belemmer deur te veel te drink of dwelms te gebruik nie. “Wanneer iemand alkohol of dwelms gebruik”, is dit moeiliker vir hom “om helder te dink en te besef dat ’n situasie gevaar inhou”, sê ’n gesondheidsensiklopedie.
Beskerm jou eiendom. Beveilig jou voertuig en die deure en vensters van jou huis. Moet nooit ’n vreemdeling inlaat nie. Hou waardevolle artikels uit die oog; moet dit nie vertoon nie. “Wysheid is by die beskeidenes”, sê Spreuke 11:2. Diewe—insluitende desperate kinders—steel dikwels by mense wat nie ’n geheim daarvan maak dat hulle duur juwele en elektroniese toestelle besit nie.
Vra raad. “Die weg van die dwaas is reg in sy eie oë, maar wie na raad luister, is wys” (Spreuke 12:15). As jy reis, moet jy ag slaan op die raad van ingeligte plaaslike mense, asook die owerheid. Hulle kan vir jou sê watter plekke om te vermy en hoe om jou en jou besittings te beskerm.
SEKSUELE AANRANDING
Wat is dit? Seksuele aanranding is nie tot verkragting beperk nie, maar sluit ander vorme van seksuele kontak in waarby dreigemente, geweld of intimidasie betrokke is.
Watter uitwerking het dit op mense? “Die ergste is [dat] dit nie net ’n uitwerking op jou het terwyl jy mishandel word nie”, verduidelik ’n verkragtingslagoffer. “Dit bly by jou en teister jou baie lank en verander jou lewensbeskouing. Dit verander ook die lewe van jou geliefdes.” Die slagoffer is natuurlik nie vir die seksuele aanranding verantwoordelik nie. Die aanvaller moet hiervoor verantwoordelik gehou word.
Wat kan jy doen?
Moenie jou gevoelens ignoreer nie. “As ’n plek of persoon jou ongemaklik of ongerus laat voel, moet jy maak dat jy wegkom”, sê ’n polisiedepartement in Noord-Carolina, VSA. “Moenie toelaat dat enigiemand jou oortuig om te bly as jou instink vir jou iets anders sê nie.”
Tree met selfvertroue op; wees doelgerig. Seksuele uitbuiters is op soek na niksvermoedende en kwesbare persone. Stap dus met selfvertroue en wees oplettend.
Reageer vinnig. Skreeu (Deuteronomium 22:25-27). Doen iets wat die aanvaller nie verwag nie, soos om weg te hardloop of jou teë te sit. Hardloop na ’n veilige plek en bel die polisie indien moontlik. *
KUBERMISDAAD
Wat is dit? Kubermisdaad verwys na misdaad wat aanlyn gepleeg word. Dit sluit belasting- en welsynsbedrog in, asook kredietkaartbedrog en die versuim om aankope af te lewer. Dit sluit ook swendelary in, soos bedrieglike beleggingskemas en aanlyn veilings.
Watter uitwerking het dit op mense? Kubermisdaad kos die slagoffers—en die hele gemeenskap—miljarde rande. Kyk na ’n voorbeeld. Sandra het ’n e-pos ontvang wat sy gedink het van haar bank af kom en waarin sy gevra is om haar aanlyn bankbesonderhede by te werk. Minute nadat sy haar persoonlike besonderhede gestuur het, was sy geskok om te sien dat $4 000 (VSA) [R32 000] oorgeplaas is van haar rekening na ’n buitelandse bank. Sandra het gou besef dat sy die slagoffer van swendelary was.
Wat kan jy doen?
Wees versigtig! Moenie om die bos gelei word deur webwerwe wat eg lyk nie, en hou in gedagte dat wettige finansiële instellings jou nie sal vra om hoogs vertroulike inligting per e-pos te stuur nie. Voordat jy aanlyn koop of belê, moet jy uitvind watter reputasie die maatskappy het. “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe”, sê Spreuke 14:15. En wees versigtig wanneer jy sake doen met maatskappye in die buiteland. As probleme ontstaan, kan dit moeiliker wees om dit op te los.
Kry inligting oor ’n maatskappy en sy beleid. Vra jou af: ‘Wat is die maatskappy se straatadres? Is die telefoonnommer reg? Is daar versteekte koste verbonde aan my aankope? Wanneer sal my bestelling afgelewer word? Kan ek dit teruggee of ’n terugbetaling ontvang?’
Wees op jou hoede as ’n aanbod te goed lyk om te glo. Gierige mense en dié wat iets vir niks wil hê, is die vernaamste teikens van aanlyn diewe. Die lokaas kan die volgende insluit: baie geld vir min werk, ’n lening of kredietkaart al is jou kredietwaardigheid swak of hoë rente op “laerisiko”-beleggings. “Neem jou tyd om seker te maak dat ’n beleggingsaanbod nie ’n bedrogspul is nie”, sê die Amerikaanse Federale Handelskommissie (FTC). “Hoe hoër die beloofde rente is, hoe groter is die risiko. Moenie toelaat dat iemand druk op jou uitoefen om ’n belegging te maak voordat jy seker is dat dit nie ’n bedrogspul is nie.”
IDENTITEITSDIEFSTAL
Wat is dit? Identiteitsdiefstal is die onwettige verkryging en gebruik van inligting oor iemand anders se persoonlike identiteit om bedrog of ’n ander misdaad te pleeg.
Watter uitwerking het dit op mense? Diewe kan jou identiteit gebruik om kredietkaarte of lenings te kry of om nuwe rekeninge oop te maak. Dan maak hulle baie skuld in jou naam! Selfs al word die skuld uiteindelik gekanselleer, kan jou finansiële reputasie jare lank geskend bly. “As ’n mens geen kredietwaardigheid het nie, het dit ’n uitwerking op alles—dis selfs erger as wanneer jou geld gesteel word”, sê ’n slagoffer.
Wat kan jy doen?
Beskerm vertroulike inligting. As jy aanlyn bank of inkopies doen, moet jy jou wagwoorde gereeld verander, veral as jy ’n openbare rekenaar gebruik het. En soos vroeër genoem is, moet jy e-posse waarin vertroulike persoonlike inligting gevra word, glad nie vertrou nie.
Identiteitsdiewe gebruik nie net rekenaars nie. Hulle probeer alles moontlik om belangrike dokumente, soos bankstate, tjekboeke en kredietkaarte, in die hande te kry. Bewaar hierdie dokumente dus op ’n veilige plek, en versnipper alle vertroulike dokumente voordat jy dit weggooi. As jy vermoed dat ’n dokument weggeraak het of gesteel is, moet jy dit natuurlik onmiddellik aanmeld.
Bly op hoogte van jou rekeninge. “Bewustheid is ’n doeltreffende wapen teen . . . identiteitsdiefstal”, sê die FTC, en hulle voeg by: “As ’n moontlike identiteitsdiefstal vroeg ontdek word, kan dit ’n groot verskil maak.” Gaan jou rekeninge dus gereeld na, en wees op die uitkyk na ongewone transaksies. Indien moontlik, moet jy by ’n betroubare agentskap ’n afskrif van jou kredietwaardigheidsverslag kry en kyk watter rekeninge en kredietkaarte met jou naam verbind is.
In vandag se wêreld is daar natuurlik geen waarborge nie. Selfs die versigtigste mense het al slagoffers van misdaad geword. Tog strek dit ons altyd tot voordeel om ag te slaan op die wysheid wat in die Bybel gevind word. “Moet dit nie verlaat nie, en dit sal jou bewaar. Wees lief daarvoor, en dit sal jou beveilig” (Spreuke 4:6). Maar nog beter, die Bybel belowe dat misdaad tot ’n einde sal kom.
Misdaad sal binnekort tot ’n einde kom
Waarom kan ons vol vertroue wees dat God misdaad uit die weg sal ruim? Kyk na die volgende:
God wil ’n einde maak aan misdaad. “Ek, Jehovah, het geregtigheid lief; ek haat roof tesame met onregverdigheid.”—Jesaja 61:8.
Hy het die krag om misdaad stop te sit. “Hy is verhewe in krag. En Hy is reg en regverdig en goed.”—Job 37:23, New Life Version.
Hy het belowe om die goddeloses te vernietig en die regverdiges te bewaar. “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word.” “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:9, 29.
Hy het sy lojales ’n vreedsame nuwe wêreld belowe. “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11.
Raak hierdie woorde jou hart? Indien wel, kan jy gerus tyd inruim om die Bybel te ondersoek om meer te leer oor God se voorneme met die mensdom. Geen ander boek bevat soveel praktiese wysheid nie. En geen ander boek gee ons ’n vaste hoop op ’n misdaadvrye toekoms nie. *
^ par. 5 Name is verander.
^ par. 22 Die meeste slagoffers van seksuele aanranding ken hulle aanvaller. Vir meer inligting, sien “Hoe kan ek my teen seksuele uitbuiters beskerm?” op bladsy 228 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
^ par. 44 Meer inligting oor belangrike Bybelleringe kan gevind word in die boek Wat leer die Bybel werklik? Kry ’n gratis eksemplaar by Jehovah se Getuies of lees dit aanlyn by www.isa4310.com/af.