Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Verenigde State

Gedurende die week van 29 Oktober 2012 was daar in die stad New York ’n drastiese afname in moorde, aanrandings en roofaanvalle in vergelyking met dieselfde tydperk van vyf dae in 2011. Die rede? Die orkaan Sandy, ’n hewige storm wat die ooskus van die Verenigde State geteister het en grootskaalse kragonderbrekings veroorsaak het. “Ná ’n natuurramp of ’n verskriklike katastrofe soos [die terreuraanval op 11 September 2001] sien ons ’n afname in gewone misdaad”, het Paul Browne, ’n woordvoerder van New York se Polisiedepartement, gesê. Inbrake weens plundering het egter toegeneem, en dit het Browne nie verbaas nie. “Daar is baie onverligte gebiede”, het hy gesê.

Antarktika

Wetenskaplikes is besorg dat Antarktika se inheemse ekologie deur uitheemse indringerspesies bedreig word. Daar word geskat dat die tienduisende mense wat die vasteland elke jaar besoek, onwetend ’n gemiddelde van 9,5 sade per persoon met hulle saamdra. Dit sit dikwels vas aan hulle skoene of sakke. Uitheemse plantbevolkings is al op die westelike Antarktiese Skiereiland gevind.

Nederland

’n Vrou van 83 is die eerste persoon wat ’n prostetiese titaankakebeen ontvang het wat deur middel van ’n 3D-laserdrukker gemaak is. Die pasiënt, wie se kakebeen deur ’n beeninfeksie vernietig is, kan nou normaal eet, asemhaal en praat. Die laserdrukker het titaandeeltjies lagie vir lagie saamgesmelt om vir haar ’n nuwe kakebeen te maak, wat toe chirurgies ingeplant is.

Duitsland

Binne ’n jaar nadat daar in sommige openbare plekke in Duitsland ’n gedeeltelike verbod op rook geplaas is, is daar in ’n studie onder een groep bevind dat die aantal mense wat weens hartkrampe in die hospitaal opgeneem is, met 13,3 persent afgeneem het; weens hartaanvalle met 8,6 persent.