DIE BYBEL SE BESKOUING
Die Paradys
Wat is die Paradys?
WAT MENSE SÊ
Party mense dink dat die Paradys maar net ’n mite is. Ander glo dat dit ’n tuinagtige Utopia is waar goeie mense vir ewig lewe en aan genotvolle en produktiewe bedrywighede deelneem.
WAT DIE BYBEL SÊ
Die woord “paradys” is al gebruik om te verwys na die mens se eerste tuiste, die tuin van Eden (Genesis 2:7-15). Volgens die Bybel was hierdie tuin ’n werklike plek waar die eerste mensepaar sonder enige siekte of die dood gelewe het (Genesis 1:27, 28). Omdat die eerste mensepaar ongehoorsaam was aan God, het hulle hulle paradystuiste verloor. Maar baie Bybelprofesieë beskryf ’n toekoms waar mense in die herstelde Paradys sal lewe.
WAAROM MOET DIT VIR JOU SAAK MAAK?
As God liefdevol is, sal dit net logies wees dat hy sy getroue aanbidders met ’n goeie lewe in ’n plek soos die Paradys sal beloon. Dit sou ook sin maak dat God mense sou inlig oor wat hulle moet doen om sy goedkeuring te verkry. Die Bybel sê dat jy God se goedkeuring kan verkry deur kennis van hom in te neem en sy gebooie te gehoorsaam.—Johannes 17:3; 1 Johannes 5:3.
“Jehovah God [het] ’n tuin in Eden geplant, . . . en daar het hy die mens geplaas wat hy gevorm het.”—Genesis 2:8.
Waar is die Paradys?
WAT MENSE SÊ
Party mense glo dat die Paradys in die hemel is, terwyl ander sê dat dit in die toekoms op die aarde sal wees.
WAT DIE BYBEL SÊ
Die oorspronklike Paradys vir die mens was op die aarde. God het dit duidelik gemaak dat die aarde die permanente tuiste van die mens is. Die Bybel sê dat God ons planeet gemaak het om vir ewig te bestaan (Psalm 104:5). Dit sê ook: “Aan Jehovah behoort die hemel, maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee.”—Psalm 115:16.
Dit is dus nie verbasend nie dat die Bybel die belofte bevat dat daar ’n paradys op die aarde sal wees. Daar sal God die mensdom met die ewige lewe seën. Harmonie en vrede sal daar heers. Pyn en lyding sal iets van die verlede wees. En mense sal die natuurwonders van die planeet Aarde ten volle kan geniet.—Jesaja 65:21-23.
“Die tent van God is by die mensdom, . . . en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie.”—Openbaring 21:3, 4.
Wie sal in die Paradys lewe?
WAT MENSE SÊ
Baie godsdienste leer dat slegs goeie mense in die Paradys sal lewe. Maar daar is baie verwarring oor wat “goeie” beteken. Party dink dat dit genoeg is om bloot aan godsdiensseremonies deel te neem en ritualistiese gebede te doen.
WAT DIE BYBEL SÊ
Die Bybel leer dat “die regverdiges” in die Paradys sal lewe. Maar wie is regverdig in God se oë? Nie die persoon wat aan godsdiensrituele deelneem, maar God se wil verontagsaam nie. Die Bybel sê: “Skep Jehovah soveel behae in brandoffers en offerandes as in gehoorsaamheid aan die stem van Jehovah? Kyk! Om gehoorsaam te wees, is beter as ’n offerande” (1 Samuel 15:22). Eenvoudig gestel, “die regverdiges” wat vir ewig in die Paradys sal lewe, is diegene wat God se gebooie, wat in die Bybel uiteengesit word, gehoorsaam.
WAT JY KAN DOEN
Gehoorsaamheid aan God se gebooie behels meer as om net deel te neem aan godsdiensseremonies. Deur jou daaglikse gedrag kan jy God behaag of mishaag. Jy kan leer om God te behaag deur die Bybel noukeurig te ondersoek. En dit is nie moeilik om hom te behaag nie. Die Bybel sê dat “sy gebooie nie swaar [is] nie” (1 Johannes 5:3). God wil jou graag vir jou gehoorsaamheid beloon deur jou in die Paradys te laat lewe.
“Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.