LANDE EN VOLKE
’n Besoek aan Kameroen
DIE Baka—ook bekend as Pigmeë—was waarskynlik die eerste inwoners van Kameroen. Toe, in die 1500’s, het die Portugese daar aangekom. ’n Paar honderd jaar daarna het die Foelani—’n Islamitiese volk—Noord-Kameroen verower. Vandag is 40 persent van Kameroen se inwoners verklaarde Christene, 20 persent is Moslem en die oorblywende 40 persent beoefen tradisionele Afrikagodsdienste.
Die mense wat in die landelike gebiede van Kameroen woon, is besonder gasvry. Besoekers word gegroet en in die huis verwelkom, waar daar vir hulle water en kos voorgesit word. Dit word as ’n belediging beskou om die huisbewoner se gasvryheid van die hand te wys, maar as ’n kompliment om dit te aanvaar.
Gesprekke word begin deur die lede van die huisgesin te groet en na hulle welsyn te verneem. Dit is selfs gebruiklik om te vra hoe dit met die diere gaan! “Wanneer ’n gas vertrek, is dit nie genoeg om ‘Totsiens’ te sê nie”, sê Joseph, ’n boorling van Kameroen. “Die gasheer sal dikwels ’n entjie saam met sy gas stap en aanhou gesels. Vroeër of later sal hy die besoeker groet en terugkeer huis toe. ’n Gas wat nie so behandel word nie, sal moontlik voel dat sy besoek nie waardeer is nie.”
Wanneer ’n groepie vriende saam eet, sal hulle soms uit dieselfde bord eet—partykeer met hulle hande. In Kameroen is hierdie gebruik ’n kragtige simbool van eenheid. Trouens, soms word hierdie gebruik beoefen om mense wie se vriendskap om die een of ander rede gekwyn het, weer bymekaar te bring. In sekere sin is ’n gemeenskaplike maaltyd ’n manier om te sê: “Daar is nou vrede tussen ons.”