Middeleeuse meesters van die meganika
OUTOMATISERING het die nywerheidswêreld oorgeneem—veral wat roetinewerk betref. Maar wanneer het outomatiese, programmeerbare toestelle op die toneel begin verskyn? Was dit net ’n paar eeue gelede gedurende die industriële revolusie in Europa? Jy sal dalk verbaas wees om te hoor dat outomatiese masjiene baie vroeër uitgevind is.
Gedurende die vroeë deel van die era wat bekend staan as die goue eeu van Islamitiese wetenskap, vanaf die 8ste tot die 13de eeu HJ en daarna, het Midde-Oosterse geleerdes wetenskaplike en filosofiese geskrifte in Arabies vertaal en sodoende die werke van bekende Grieke soos Archimedes, Aristoteles, Ktesibius, Hero van Aleksandrië en Filo van Bisantium behoue laat bly. * Hierdie en ander bronne het die Islamitiese Ryk—wat gestrek het vanaf Spanje regoor Noord-Afrika en die Midde-Ooste tot by Afganistan—van die nodige kennis voorsien om outomatiese masjiene te bou.
Volgens Donald Hill, ’n geskiedkundige op die gebied van tegnologie, kon hierdie masjiene “lang tydperke aan die gang bly—ure, dae of selfs langer—sonder dat enigiemand dit bedien”. Hoe was dit moontlik? Die ingenieurs het doeltreffende beheermeganismes ontwerp wat outomatisering moontlik gemaak het. Die masjiene het water uit verhoogde tenks vir konstante aandrywing gebruik. Outomatiese oorskakeling het kleppe oop- en toegemaak of die rigting van die watervloei verander. Die masjiene het ook terugvloeistelsels gehad, sowel as wat Hill “die voorgangers van veiligheidsmeganismes” genoem het. Beskou ’n paar voorbeelde.
Die vindingryke Banoe Moesa
Die drie Banoe Moesa—Arabies vir “seuns van Moesa”—het in die negende-eeuse Bagdad gewoon. Hulle het gebruik gemaak van die werke van hulle Hellenistiese voorgangers Filo en Hero, asook dié van Chinese, Indiese en Persiese ingenieurs, om meer as 100 toestelle te maak. Volgens die wetenskapskrywer Ehsan Masood sluit dit waterfonteine in waarvan die spuitpatroon gereeld verander het, horlosies met interessante bykomstighede en houers wat outomaties drankies geskink het en hulleself dan weer volgetap het deur middel van ’n slim kombinasie van dobbers, kleppe en hewels (siphons). Volgens die wetenskap-geskiedkundige Jim Al-Khalili het die seuns van Moesa ook eenvoudige, lewensgroot robotte gebou—’n “teemeisie” wat werklik tee geskink het en ’n fluitspeler, wat “moontlik die vroegste weergawe van ’n programmeerbare masjien” was.
Hierdie outomatiese stelsels het baie in gemeen gehad met moderne masjiene. Dit het egter “hoofsaaklik van waterdruk gebruik gemaak in plaas van elektronika, maar baie van die beginsels wat die werking daarvan beheer het, is dieselfde”, sê die wetenskapskrywer Ehsan Masood.
Al-Jazari—“Die vader van robotika”
In 1206 het Ibn al-Razzaz al-Jazari sy werk voltooi, wat soms in Engels vertaal word as die Compendium on the Theory and Practice of the Mechanical Arts (Kompendium van die teorie en beoefening van die meganiese kunste). Dit is al “’n studie in sistematiese masjienontwerp” genoem. Van Al-Jazari se tegnologie was baie meer gevorderd as dié wat deur die Banoe Moesa opgeteken is, en sy beskrywings en diagramme was so gedetailleerd dat hedendaagse ingenieurs sy toestelle kan bou.
Al-Jazari se boek bevat sketse van waterhystoestelle, waterhorlosies, kershorlosies, waterbedieners, masjiene wat musiek gemaak het en ’n pomp wat die draaibeweging van ’n waterwiel omgeskakel het in die heen-en-weer-beweging van ’n suier wat water met groot krag gepomp het. Volgens geskiedkundiges het Al-Jazari hidrouliese pompe ontwerp drie eeue voordat dieselfde basiese ontwerp in die Weste verskyn het.
Al-Jazari het ook interessante, dog bruikbare, horlosies gemaak. ’n Replika van die een wat hier geïllustreer word, is in ’n winkelsentrum in Doebai opgerig. Die tydmeganisme is ’n bak met ’n gaatjie wat in ’n waterhouer binne die olifant se maag is. Die bak raak binne 30 minute vol en sink dan, wat ’n reeks gebeure aan die gang sit waartydens toue en balle in die “kasteel” op die olifant se rug ’n rol speel. Wanneer die siklus van ’n halfuur eindig, word die waterbak weer outomaties opgetrek, en die proses begin van voor af. Hierdie toestel en ander outomatiese masjiene wat aan Al-Jazari toegeskryf word, het hom die titel “die vader van robotika” besorg.
Die verhaal van die mens se vindingrykheid is waarlik verbasend! Maar hierdie verhaal is meer as net interessante geskiedenis. Dit gee ons ook ’n breër perspektief. In ’n tyd wanneer baie spog met moderne tegnologie, word ons herinner aan hoeveel ons te danke het aan die briljante en vindingryke denkers wat ons voorafgegaan het.
^ par. 3 Vir meer inligting oor die vertaalwerk van Arabiese geleerdes, sien “Hoe Arabies die taal van die geleerdes geword het,” in die Ontwaak! van Februarie 2012.
Pomp: © Gianni Dagli Orti/The Art Archive at Art Resource, NY; horlosie: © The Metropolitan Museum of Art/Art Resource, NY