Wees ’n goeie kommunikeerder
“Ek het geleer om te luister, luister, luister. Dit maak nie saak hoe moeg ek is nie.”—MIRANDA, SUID-AFRIKA.
Die uitdaging.
“Vir my is die uitdaging”, sê Cristina, “om nie net fisies by my dogter te wees nie, maar ook verstandelik en emosioneel—ten spyte van al my ander verantwoordelikhede en die feit dat ek moeg is.”
Wenke.
Maak kommunikasie maklik. “Ek probeer die voorbeeld stel”, sê Elizabeth, ’n ma van vyf, “daarom gesels my kinders openlik met my. Ek spoor hulle ook aan om met mekaar te kommunikeer en om nooit bed toe te gaan as hulle nog kwaad is vir mekaar nie. Wat meer is, hulle weet dat ek nie ‘stilstuipe’ duld nie—hulle mag nie weier om met mekaar te praat nie.”
Moenie jou kinders ignoreer terwyl hulle praat nie. “Toe my seun klein was”, skryf Lyanne, “was hy ’n regte babbelkous, en daarom het ek hom dikwels geïgnoreer wanneer hy gepraat het. Maar toe hy ’n tiener geword het, het hy opgehou om te kommunikeer, en ek het besef dat ek ’n groot fout gemaak het. Ek het baie hard—eintlik te hard—probeer om die muur tussen ons af te breek. Ek het met ’n ouer man in die gemeente hieroor gepraat. Hy het my aangeraai om te ontspan en net gemaklik met my seun te begin gesels. Ek het sy raad toegepas, en dinge het geleidelik begin verbeter.”
Wees geduldig. Daar is “’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat”, sê Prediker 3:7. “Wanneer my kinders nie lus was om te praat nie”, sê Dulce, ’n ma van drie, “het ek seker gemaak dat hulle weet dat ek daar is om te luister wanneer hulle gereed is om te praat.” Ja, pleks van jou kinders te dwing om te kommunikeer, moet jy hulle liefdevol en geduldig aanspoor om dit te doen. Dit is wat die Bybel aanbeveel. “’n Persoon se gedagtes is soos water in ’n diep put, maar iemand met insig kan dit uitskep.”—Spreuke 20:5, Good News Translation.
Wees “gou . . . om te hoor, stadig om te praat” (Jakobus 1:19). Lizaan, wat in die vorige artikel aangehaal is, sê: “Ek moes leer om op my lippe te byt wanneer my kinders my van ’n probleem vertel. Ek moes ook leer om nie te gou raad te gee nie, maar om kalm te bly wanneer ons ontstellende probleme bespreek.” Leasa, ’n ma van twee seuns, skryf: “Ek was nie altyd ’n goeie luisteraar nie. Soms het my seuns se probleme vir my onbelangrik gelyk; daarom moes ek leer om groter begrip te hê.”
“Laat julle woorde altyd aangenaam wees” (Kolossense 4:6). “Om goeie kommunikasie tussen ons te behou”, sê Lyanne, “moes ek ’n doelbewuste poging aanwend om so kalm en ontspanne as moontlik te bly, selfs wanneer ons ernstige sake bespreek.”
As jy nie ’n doelbewuste poging aanwend om kalm te bly nie, sal jy dalk jou humeur verloor en begin skreeu, en dít kan in meer as een opsig nadelig wees! (Efesiërs 4:31). Byvoorbeeld, as ’n mens op ’n kind skreeu, kan dit kommunikasie belemmer en tot probleemgedrag aanleiding gee. “’n Kind is soos ’n skulp”, sê Heidi, wat ’n tienerdogter het. “As jy vriendelik en liefdevol praat, sal die ‘skulp’ oopgaan. As jy skreeu en jou kind verkleineer, klap die ‘skulp’ toe en hou kommunikasie op. Om my hieraan te herinner, het ek ’n prentjie van ’n oop skulp op ons yskas gesit.”
Ken jou kinders. “My twee seuns verskil nogal baie van mekaar”, sê Yasmin, wat vroeër aangehaal is. “Die een is spraaksaam; die ander een is teruggetrokke. Ek het geleer dat ek die stil een nie direk moet konfronteer nie. Ek praat eerder met hom terwyl ons met iets anders besig is, soos ’n bordspel, of terwyl hy oor ’n onderwerp gesels waarin hy belangstel. Ek vra hom dan taktvol hoe hy oor ’n saak voel.”
Gestel ’n seun voel ongemaklik om met sy ma oor sekere persoonlike sake te praat, soos in die geval van Misao se tienerseun. “Ma verstaan my nie”, het hy vir haar gesê. Sy het ’n volwasse, betroubare man in haar gemeente om hulp gevra. “Hy het my seun se mentor geword, en nou voel my seun gerus”, sê Misao.
Moenie die rol van ’n ouer verwar met dié van ’n vriend nie. “Ek het my tienerdogter my vertroueling gemaak”, sê Iwona, ’n ma van twee. “Ek het geweet dat dit nie reg is nie, maar ek het nogtans in hierdie strik getrap en moes my fout regstel.” Hoewel ’n mens ’n hegte verhouding met jou kind wil hê, moet jy onthou dat jy die ouer is, die gesagsfiguur. Wanneer jy jou waardigheid behou en jou volwassenheid en stabiliteit toon, maak jy dit makliker vir jou kinders om jou te eer en om gehoor te gee aan die Bybel se bevel: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers.”—Efesiërs 6:1, 2.
‘Jy moet jou kinders liefhê’ (Titus 2:4). Kinders het liefde net so nodig soos kos en water! Verseker hulle dus gereeld van jou liefde—in woord en daad! Dan sal hulle nie net veiliger voel nie, maar ook gewilliger wees om met jou te praat en jou te gehoorsaam.