Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Depressie—Hoe voel dit?

Depressie—Hoe voel dit?

“TOE ek 12 jaar oud was”, sê James, * “het ek een oggend wakker geword, op die kant van my bed gesit en gewonder: ‘Is vandag die dag waarop ek gaan sterf?’” James was in die greep van major depressie. “Elke dag van my lewe”, sê James 30 jaar later, “stry ek teen hierdie emosionele en geestesiekte.” James het so waardeloos gevoel toe hy jonk was dat hy sy kinderfoto’s opgeskeur het. “Ek het nie eens gedink dat ek werd was om onthou te word nie”, sê hy.

Aangesien ons almal van tyd tot tyd neerslagtig voel, dink ons dalk dat ons verstaan waaroor depressie gaan. Maar hoe voel dit om kliniese depressie te hê?

’n Wrede indringer

Kliniese depressie is meer as net tydelike terneergedruktheid; dit is ’n ernstige versteuring wat iemand dikwels verhinder om daaglikse bedrywighede uit te voer.

Álvaro word byvoorbeeld al meer as 40 jaar lank geteister deur “vrees, verwarring, angs en diepe droefheid”. Hy verduidelik: “My depressie het dit vir my baie moeilik gemaak om ander se menings te aanvaar. Ek het altyd verantwoordelik gevoel vir alles wat verkeerd loop.” Hy beskryf depressie as “’n verskriklike pyn wat ’n mens het sonder om te weet waar dit is, ’n vrees sonder om te weet waarvoor en, die ergste van alles, hoegenaamd geen begeerte om daaroor te praat nie”. Maar nou het hy ’n mate van verligting gevind. Hy weet wat die oorsaak van sy simptome is. Hy sê: “Die wete dat ander dieselfde probleem as ek het, het my beter laat voel.”

In Brasilië het die 49-jarige Maria se depressie slaaploosheid, pyn, geïrriteerdheid en “’n skynbaar eindelose gevoel van hartseer” veroorsaak. Toe haar toestand gediagnoseer is, was Maria aanvanklik verlig dat sy ’n naam aan die oorsaak van haar lyding kon heg. “Maar toe het ek angstiger geword omdat so min mense depressie verstaan en ’n stigma daaraan kleef”, verduidelik sy.

Niks om oor hartseer te wees nie?

Hoewel depressie soms ’n voor die hand liggende oorsaak het, maak dit dikwels sonder waarskuwing sy onwelkome verskyning in ’n persoon se lewe. “’n Donker wolk van hartseer hang skielik, sonder enige verklaarbare rede, oor jou lewe”, verduidelik Richard van Suid-Afrika. “Niemand wat jy ken, het doodgegaan nie en niks ontstellends het gebeur nie. Nogtans voel jy neerslagtig en lusteloos. En niks wil die wolk laat lig nie. Jy word oorweldig deur ’n gevoel van wanhoop, en jy weet nie waarom nie.”

Depressie is niks om oor skaam te voel nie. Tog het Ana in Brasilië skaam gevoel toe sy met depressie gediagnoseer is. “Trouens, agt jaar later voel ek nog steeds skaam daaroor”, erken sy. Sy vind dit veral moeilik om haar emosionele angs te verwerk. “Soms is die lyding so intens”, verduidelik sy, “dat ek fisiese pyn ervaar. Al die spiere in my liggaam is seer.” Wanneer dit gebeur, is dit feitlik onmoontlik om uit die bed op te staan. En dan is daar tye wanneer Ana nie kan ophou huil nie. “Ek gaan so verskriklik aan die huil en raak so uitgeput”, sê sy,  “dat dit vir my voel of my bloed opgehou het om te sirkuleer.”

“’n Donker wolk van hartseer hang skielik, sonder enige verklaarbare rede, oor jou lewe”

Die Bybel erken dat mense so terneergedruk kan raak dat dit gevaarlik is. Die apostel Paulus was byvoorbeeld bekommerd dat een man “deur sy oormatige droefheid [“deur oorweldigende depressie”, Jewish New Testament] verswelg [kon] word” (2 Korintiërs 2:7). Party depressiewe mense word so radeloos dat hulle wens hulle kan aan die slaap raak en nooit weer wakker word nie. Baie voel soos die profeet Jona: “Dit is beter dat ek sterf as dat ek lewe.”—Jona 4:3.

Wat kan depressielyers doen om hierdie angswekkende siekte te behandel en daarmee saam te leef?

^ par. 2 Name in hierdie reeks artikels is verander.