Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Redes om die Bybel te vertrou

1. Geskiedkundige akkuraatheid

1. Geskiedkundige akkuraatheid

Dit sou moeilik wees om ’n boek te vertrou wat onjuisthede bevat. Stel jou voor dat jy ’n boek oor moderne geskiedenis lees wat sê dat die Tweede Wêreldoorlog in die 1800’s plaasgevind het of wat die president van die Verenigde State ’n koning noem. Sou sulke onjuisthede nie twyfel by jou wek oor die algehele betroubaarheid van die boek nie?

NIEMAND het al ooit die geskiedkundige akkuraatheid van die Bybel suksesvol betwis nie. Dit verwys na werklike mense en werklike gebeure.

Mense.

Bybelkritici het die bestaan van Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur van Judea wat Jesus oorgelewer het om aan ’n paal gehang te word, in twyfel getrek (Matteus 27:1-26). Bewyse dat Pilatus destyds die heerser van Judea was, is op ’n klip gegrif wat in 1961 in die Mediterreense hawestad Sesarea ontdek is.

Voor 1993 was daar geen bewyse buite die Bybel dat Dawid, die dapper jong herder wat later die koning van Israel geword het, werklik bestaan het nie. Maar in daardie jaar het argeoloë ’n basaltklip in Noord-Israel opgegrawe wat uit die negende eeu v.G.J. dateer en waarop deskundiges sê die woorde “Huis van Dawid” en “koning van Israel” staan.

Gebeure.

Tot onlangs nog het baie geleerdes getwyfel aan die akkuraatheid van die Bybel se verslag van die nasie Edom se gevegte teen Israel in die tyd van Dawid (2 Samuel 8:13, 14). Edom, het hulle aangevoer, was op daardie stadium ’n eenvoudige herdersvolk wat nie tot heelwat later georganiseerd genoeg was of die mag gehad het om Israel te bedreig nie. Maar onlangse opgrawings toon dat “Edom eeue vroeër [as wat voorheen gedink is] ’n komplekse gemeenskap was, soos in die Bybel uitgebeeld word”, sê ’n artikel in die tydskrif Biblical Archaeology Review.

Regte titels.

Daar was baie heersers op die wêreldtoneel gedurende die 16 eeue waartydens die Bybel geskryf is. Wanneer die Bybel na ’n heerser verwys, gebruik dit altyd die regte titel. Byvoorbeeld, dit verwys tereg na Herodes Antipas as “distriksheerser” en Gallio as “prokonsul” (Lukas 3:1; Handelinge 18:12). Esra 5:6 verwys na Tattenai, die goewerneur van die Persiese provinsie “anderkant die Rivier”, dit wil sê die Eufraatrivier. Daar is ’n soortgelyke beskrywing op ’n muntstuk wat in die vierde eeu v.G.J. gemaak is, wat die Persiese goewerneur Mazaeus as die heerser van die provinsie “anderkant die Rivier” identifiseer.

Akkuraatheid in skynbaar onbeduidende besonderhede moenie ligtelik opgeneem word nie. As ons die Bybelskrywers kan vertrou wanneer dit selfs by klein besonderhede kom, behoort dit dan nie ons vertroue te versterk in die ander dinge wat hulle geskryf het nie?