Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Meidag—Wat beteken dit vir jou?

Meidag—Wat beteken dit vir jou?

Meidag—Wat beteken dit vir jou?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

Waaraan laat Meidag jou dink? Optogte en betogings? Meipaaldanse? ’n Vakansiedag?

AFHANGENDE van waar jy woon, kan Meidag jou aan uiteenlopende dinge laat dink. Maar daar bestaan wel ’n verband tussen hierdie dinge. ’n Kykie na die oorsprong van Meidag sal lig werp op die hedendaagse viering daarvan.

Vroeë herkoms

In eertydse Rome was die eerste dag van Mei een van die dae van die Floralia-fees, wat vernoem is na Flora, die godin van lente en blomme. Dit was ’n tyd van sang, dans en blomgetooide optogte. Veral Romeinse prostitute het die fees baie geniet, want hulle het Flora as hulle beskermgodin beskou.

Wanneer die Romeine ander lande verower het, het hulle hulle gebruike saam met hulle geneem. Die Romeine het egter in Keltiese lande ontdek dat die eerste dag van Mei alreeds as die Beltane-fees gevier is. Alle vure is die vorige aand, die begin van die nuwe Keltiese dag, geblus, en wanneer die son opgekom het, het mense vreugdevure op heuwels en onder heilige bome aangesteek om die somer en die hernuwing van lewe te verwelkom. Beeste is in die weivelde losgelaat, en die gode is gesmeek om hulle te beskerm. Floralia het gou met Beltane saamgesmelt en het die Meifees geword.

Walpurgis was die ekwivalent van Beltane vir Duitssprekende en Skandinawiese volke. Die feestelikhede het op Walpurgisnag begin met die aansteek van vreugdevure om hekse en bose geeste weg te dryf. Ander Europeërs het hulle eie variasies van Meidaggebruike ontwikkel, en baie daarvan bestaan vandag nog.

Die Christendom se kerke het nie ’n groot uitwerking op sulke heidense feesvieringe gehad nie. “Meidag—of Beltane—was die permissiefste dag van die jaar, die een fees wat die Christelike kerk en ander owerhede nooit werklik kon beheer nie”, sê die Britse koerant die Guardian.

Meidaggebruike

Teen die Middeleeue is nuwe gebruike bygevoeg by wat Engeland se geliefkoosde vakansiedag geword het. Mans en vroue het die nag in nabygeleë woude deurgebring en blomme en takke met bloeisels bymekaargemaak sodat hulle teen sonop ‘Mei kon verwelkom’. * Volgens die Puritein Philip Stubbes se traktaat The Anatomy of Abuses was onsedelikheid algemeen. Fuiwers het in die middel van ’n dorpie ’n boom as ’n Meipaal opgerig, en mense het die hele dag lank daarom gedans en gespeel. Stubbes het dit “dié walglike afgod” genoem. Die mense het ’n Meikoningin en soms ook ’n Meikoning gekies om oor die feestelikhede toesig te hou. Meipale en Meikoninginne was ook in ander dele van Europa algemeen.

Waarom was hierdie Meidaggebruike so belangrik? Die Encyclopædia Britannica verduidelik: “Sulke ritusse was oorspronklik bedoel om die vrugbaarheid van die oeste, en by uitbreiding van die beeste en die mense, te verseker, maar in die meeste gevalle het hierdie betekenis stadigaan verlore gegaan en het die gebruike net as gewilde feestelikhede oorleef.”

Wisselende gewildheid

Die Protestantse Hervormers het hierdie fees, wat hulle as heidens beskou het, met wortel en tak probeer uitroei. Calvinistiese Skotland het Meidag in 1555 verbied. Daarna het ’n Puriteinse Engelse Parlement Meipale in 1644 verbied. Toe Engeland gedurende die tydperk van die Gemenebes nie ’n koning gehad het nie, is die “losbandige gebruike” van Meidag ontmoedig. Meipale is egter in 1660 saam met die koningskap herstel.

Meipaalfeestelikhede het gedurende die 18de en die vroeë 19de eeu geleidelik afgeneem, maar in onlangser tye het dit herleef en is dit nou sedeliker van aard. Baie gebruike wat as tradisionele Meidaggebruike beskou word, soos kinders wat om ’n Meipaal dans terwyl hulle helderkleurige linte vleg, dateer uit hierdie onlangser tyd. Volkskundiges wat navorsing doen oor Meidag se antieke geskiedenis, ontdek egter baie van sy heidense oorspronge.

Europese emigrante het hulle Meidaggebruike saam met hulle na nuwe lande geneem, en party van hulle nakomelinge vier Meidag nog steeds op die tradisionele manier. Maar in baie lande is Meidag, of die eerste Maandag ná 1 Mei, nou net ’n openbare vakansiedag.

Meidag word Werkersdag

Die optogte en betogings van die hedendaagse Meidag het in Noord-Amerika begin. Waarom daar? Tydens die industriële revolusie is nuwe masjiene gebruik wat sonder ophou gewerk het, met die gevolg dat fabriekseienaars dikwels van hulle werkers verwag het om elke dag, behalwe Sondae, tot 16 uur lank te werk. In ’n poging om die lewens van werkers te verbeter, het ’n federasie van vakbonde in die Verenigde State en Kanada aangedring op ’n werksdag van agt uur vanaf 1 Mei 1886. In die meeste gevalle het werkgewers geweier om dit toe te staan; gevolglik het duisende werkers op die eerste Mei gestaak.

Die Haymarket-oproer in Chicago, Illinois, het die eerste martelare vir die arbeidersbeweging in die Verenigde State opgelewer, en werkers in Engeland, Frankryk, Holland, Italië, Rusland en Spanje het hulle ondersteun deur ook te staak. * In 1889 het ’n kongres van die wêreld se Sosialistiese partye wat in Parys vergader het, besluit dat 1 Mei 1890 ’n dag van internasionale betogings vir ’n werksdag van agt uur sal wees. Die dag het daarna ’n jaarlikse geleentheid geword om werkers se eise vir beter werksomstandighede bekend te maak.

In republieke van die Sowjetunie is Meidag tradisioneel met militêre parades en vertonings van tegnologiese prestasies gevier. Vandag vier baie lande op die eerste Mei ’n vakansiedag wat Arbeidsdag of Internasionale Werkersdag genoem word. Die Verenigde State en Kanada vier Arbeidsdag egter op die eerste Maandag in September.

Die verband tussen eertydse en hedendaagse gebruike

Meidag was nog altyd ’n gewilde fees onder die gewone mense. Werkers het geweier om op dié dag te werk, of hulle werkgewers dit goedgekeur het of nie. Sosiale rolle is omgekeer. Die koning en koningin van die dag is uit die gewone mense gekies en die heersende klas was dikwels die mikpunt van hulle grappe. Mense het Meidag gevolglik met arbeidersbewegings begin assosieer, en teen die 20ste eeu het dit deel van die Sosialistiese kalender geword.

Soos die ou Meidag, het die Internasionale Werkersdag ’n dag van optogte deur die strate geword. Maar in die laaste jare het geweld iets algemeens geword tydens Meidagvieringe. Op Meidag in die jaar 2000 was daar byvoorbeeld wêreldwyd saamtrekke teen wêreldkapitalisme. Ongelukkig het die protesbetogings gepaardgegaan met gevegte, beserings en skade aan eiendom.

Die behoefte aan verandering vervul

Is dit realisties om te verwag dat mense die noodsaaklike wêreldwye veranderinge kan teweegbring waarby al die opregtes van hart sal baat vind? Nie werklik nie. Die waarheid van die eertydse Bybelspreuk is herhaaldelik al bewys, naamlik: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

’n Hoër krag—groter as die mens s’n—is nodig om vreedsame wêreldtoestande teweeg te bring. Die Bron van daardie krag is die aarde se Skepper, Jehovah God. Sy Woord, die Bybel, sê dat hy ‘sy hand oopmaak en die begeerte van alles wat lewe, bevredig’ (Psalm 145:16). Ons nooi jou om God se wonderlike beloftes verder te ondersoek.

Ter vervulling van die modelgebed wat God se Seun, Jesus Christus, sy volgelinge geleer het, sal God se Koninkryk kom, en God se wil sal vir seker op die aarde geskied. Die Bybel beloof dat God se aangestelde Heerser, Jesus Christus, “die arme [sal] verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos.”—Psalm 72:12-14.

[Voetnote]

^ par. 11 Voordat die Gregoriaanse kalender ’n bietjie meer as 400 jaar gelede in gebruik geneem is, het Mei 11 dae later begin as wat vandag die geval is; gevolglik was die weer warmer en die plantegroei weliger.

^ par. 19 Hierdie oproer het uitgebreek die dag nadat ’n geveg tussen stakers en stakingbrekers tot die dood van etlike werkers gelei het.

[Prent op bladsy 12]

’n Sestiende-eeuse Meipaal wat elke Meidag buitekant ’n kerk in Londen opgerig is

[Erkenning]

From the book Observations on Popular Antiquities

[Prent op bladsy 14]

Antikapitalistiese saamtrek, Meidag 2000, Londen, Engeland

[Erkenning]

© Philip Wolmuth/Panos Pictures