Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle help boere om in die sertão te oorleef

Hulle help boere om in die sertão te oorleef

Hulle help boere om in die sertão te oorleef

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

DAAR is ongeveer tienmiljoen bokke in die sertão, a die halfdroë streek wat 1 100 000 vierkante kilometer van die noordooste van Brasilië beslaan. Die somer is nege maande lank met wolklose dae en versengende hitte wat die aarde verskroei en kliphard bak. Riviere verdwyn, bome verloor hulle blare, warm, droë winde waai en plaasdiere swerf rond op soek na watter karige weiding hulle ook al kan kry.

Maar dit lyk of Brasilië se inheemse bokke onbewus is van die droë toestande. In die ergste droogtes word bees- en skaaptroppe kleiner, maar die bokke word meer. Hoe kry hulle dit reg om in hierdie toestande te oorleef?

’n Mond ontwerp vir oorlewing

Baie mense wat in die sertão woon, beweer dat bokke enigiets eet—onder meer stewels, saals en klere. Professor João Ambrósio, navorser by die Nasionale Sentrum vir Navorsing oor Bokke, in Sobral, Noordoos-Brasilië, bevestig dat bokke op ’n skynbaar onverteerbare dieet kan oorleef, wat die wortels, droë blare en bas van meer as 60 plantsoorte insluit. Ander plaasdiere soos beeste eet hoofsaaklik gras.

Die feit dat die bokke nie so kieskeurig is nie, tel in hulle guns, maar die grootste voordeel wat hulle het, is hulle mond. Ambrósio sê dat beeste kos met hulle tong gryp en nie individuele blare of die bas van ’n plant kan afvreet nie. Maar bokke gebruik hulle klein mond, beweeglike lippe en skerp tande om die voedsaamste dele van ’n plant uit te soek en af te vreet. Weens hierdie vermoë om skaars kos te vind en af te vreet, het die bok die reputasie gekry dat hy plantegroei vernietig. “Blameer die mens wat die bok dwing om in hierdie toestande te lewe. Die bok probeer net aan die lewe bly”, sê Ambrósio.

Bokke, ’n goeie belegging

Dit is geen wonder nie dat die geharde inheemse bokke in die sertão nou ’n vername rol in bestaansboerdery speel. Vir baie gesinne is hulle ’n belangrike bron van proteïene. Aangesien beesvleis baie duur kan wees, is gebraaide of gekookte bokvleis en buxada (bokpens gestop met stukkies beespens en rys) ’n algemene dis. Bokvelle word vir ekstra inkomste aan leerlooierye verkoop. In ’n noodgeval word bokke dus maklik in kontant omgesit om medisyne of ander noodsaaklikhede te koop.

Nog ’n voordeel is dat bokke as ’t ware vir hulleself sorg. Klein troppe wei gedurende die dag saam in die onomheinde caatinga, of droë doringveld. Met sononder herken die bokke hulle eienaar se stem, en elkeen keer gehoorsaam na sy onderskeie kraal terug. Die boer tree gewoonlik net gedurende die paartyd tussenbeide wanneer hy die bokke kies wat hy gaan slag, die siekes behandel en die jonges brandmerk. Dit is so maklik om bokke aan te hou dat selfs dorpsbewoners dikwels ’n paar in hulle agterplaas het of, ten spyte van plaaslike wette, in die dorp laat rondloop. Dit is nie ongewoon om ’n bok op die dorpsplein te sien wei nie.

Ná eeue se ondervinding is dit duidelik dat dit ’n goeie belegging is om bokke aan te hou, veral vir kleinboere. Dit verg dieselfde hoeveelheid werk en grond om agt bokke aan te hou as een bees. En dink hieraan: Sê nou ’n boer het vyf beeste. As een doodgaan, verteenwoordig dit ’n verlies van 20 persent van sy trop. Maar sê nou hy het 40 bokke eerder as 5 beeste. So ’n trop sal omtrent net soveel werk en grond verg. As een bok doodgaan, verteenwoordig dit ’n verlies van net 2,5 persent. Dit is dus maklik om te verstaan waarom ongeveer ’n miljoen Brasiliaanse gesinne bokke as ’n soort versekeringspolis teen droogte en mislukte oeste beskou.

Aansporing om hard te werk

Die staat Bahia het van die grootste troppe, wat uit duisende bokke bestaan. Daar word gesê dat daar in Uauá, ’n binnelandse dorpie ongeveer 800 kilometer van die staat se hoofstad af, vyf bokke vir elke plaaslike inwoner is. Feitlik die hele gemeenskap is van bokboerdery of soortgelyke aktiwiteite afhanklik vir hulle lewensonderhoud. Die plaaslike mense skerts dikwels: “In Uauá is dit die bokke wat mense aanhou, nie die mense wat bokke aanhou nie.”

Die eerste lammertjies word in Mei gebore, ongeveer vyf maande ná die begin van die paartyd. Toegewyde bokwagters werk van vieruur in die oggend tot sewe-uur die aand om die lammertjies aan te keer en water te gee, om verlore lammertjies te vind en dié wat in gevaar verkeer, te red. Behendige herders vang elke dag honderde ooie met ’n vangriem en melk hulle om te voorkom dat die pasgebore lammertjies hulle doodsuip. Dit is ook belangrik om beserings te behandel en om perdevliegbesmetting te keer, wat klein gaatjies in die bok se vel kan veroorsaak en sy kommersiële waarde kan verminder.

Dit is ’n liefdeswerk om so vir die bokke te sorg—maar dit is nie sonder persoonlike voordele nie. Die tradisionele loonstelsel wat quarteação (verdeling in vier) genoem word wat in Uauá en in ander plattelandse gebiede gebruik word, beloon hardwerkende herders. Hulle word 1 uit elke 4 lammertjies gegee wat gedurende die paarseisoen gebore word—1 uit elke 3 as die trop se eienaar vrygewiger is. Elke lammertjie kry ’n nommer en dan word genommerde kaartjies uit ’n beker getrek. Aangesien die lot ewe maklik op gebreklikes as gesondes, maeres as vettes kan val, sorg die herders vir die trop asof dit hulle eie is.

Groter en beter inheemse bokke

Brasiliaanse bokke is afstammelinge van boksoorte wat in die vroeë 1500’s deur Europese setlaars ingevoer is. Maar inheemse bokke is oor die algemeen kleiner en produseer baie minder melk as hulle Europese voorvaders.

Die Brasiliaanse canindé produseer byvoorbeeld baie minder as ’n liter melk per dag terwyl die Britse Alpyn, sy genetiese ekwivalent in Europa, ongeveer vier liter kan produseer. Dit is al dekades lank die droom van baie boere en landboukundiges om die inheemse bok se gehardheid met die produktiwiteit van sy uitheemse voorvader te kombineer. Op hierdie manier kan “die arm man se koei”, soos baie die bok noem, soos goud word vir die boere van sertão.

Deur kruisteling van inheemse bokke met uitheemse bokke, is ’n kortpad gevind om groter diere te teel en melkproduksie te vermeerder. ’n Landboukundige navorsingseenheid in die staat Paraíba, Noordoos-Brasilië, het inheemse bokke suksesvol met Italiaanse, Duitse en Engelse bokke gekruis. Dit het gelei tot groter diere wat goed aard in hierdie droë toestande en meer melk kan produseer. Bokke wat voorheen minder as ’n liter melk per dag geproduseer het, produseer nou tussen twee en vier liter melk.

Die navorsingsentrum in Sobral het iets ontdek wat net so winsgewend is en goedkoper is om te implementeer. Navorsers het opgelet dat bokke sekere bome se blare verkies. Maar hierdie blare was net beskikbaar wanneer die bome rustend was en hulle blare verloor het. Om hierdie voedselbron te vermeerder, is al die takke van sekere bome bo ’n sekere hoogte afgesnoei. Dit het die boom gedwing om takke laer uit te stoot waar die bokke dit kan bykom. Die resultaat? Die bokke wat in die spesiaal voorbereide gebiede gewei het, het vier keer swaarder geword.

Ondanks al hierdie nuwe ontwikkelinge het eienaars van klein troppe nog steeds ’n probleem wat wetenskaplike navorsers waarskynlik nie sal kan oplos nie. Wat is dit? Wel, dit is soos een boer verduidelik: “Bokke raak gewoond aan die mense wat hulle oppas en word hulle troeteldiere. Dit kan dus ’n probleem wees om van een ontslae te raak.” Eienaars wil eenvoudig nie van hulle troeteldiere afskeid neem nie! Kan dit nog ’n rede wees waarom die bok voortbestaan?

[Voetnoot]

a Portugese setlaars het dit blykbaar die desertão, of groot woestyn, genoem omdat dit hulle aan die woestyne en grasvlaktes van Noord-Afrika herinner het.

[Venster/Prent op bladsy 27]

Die waarheid oor bokmelk

Baie sê dat dit moeilik is om te verteer; ander sê dit stink. Maar moenie die negatiewe kommentare glo wat oor bokmelk gemaak word nie. As jy dit moeilik vind om beesmelk te verteer, sal jou dokter of dieetkundige dalk bokmelkprodukte as ’n alternatief voorskryf. Alhoewel dit meer proteïene en vet bevat, is die vetliggaampies daarin kleiner en makliker om te verteer. En wat van die reuk?

Bokmelk is eintlik reukloos. As dit ’n sterk, onaangename reuk het, is dit dalk omdat die bok in onhigiëniese toestande gemelk is of omdat dit in noue kontak met ’n ram was. Die reukkliere wat agter die ram se horings is, skei ’n hormoon af wat die ooi lok. Maar hierdie hormoon besmet alles waaraan die ram raak.

[Erkenning]

CNPC–Centro Nacional de Pesquisa de Caprinos (Sobral, CE, Brasil)

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die “sertão”

[Prent op bladsy 26]

Die bok gebruik sy goed ontwerpte mond om die beste dele van ’n plant uit te soek

[Erkenning]

Dr. João Ambrósio–EMBRAPA (CNPC)

[Foto-erkennings op bladsy 25]

Kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.; bokke: CNPC–Centro Nacional de Pesquisa de Caprinos (Sobral, CE, Brasil)