Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vetsug—Wat is die oplossing?

Vetsug—Wat is die oplossing?

Vetsug—Wat is die oplossing?

ONTWAAK! het ’n onderhoud gevoer met Diane, ’n dieetkundige, en met Ellen, ’n geregistreerde verpleegster, wat albei daarin spesialiseer om met pasiënte te werk wat oorgewig is of aan vetsug ly. Hulle is dit eens dat sekere diëte wat koolhidrate probeer uitskakel en die inname van proteïene (vleis) probeer verhoog, tot gewigsverlies kan lei. Maar hulle sê dat dit op die lange duur negatiewe sekondêre gevolge kan hê. a Dit word bevestig deur ’n mediese tabel, Handhaaf ’n gesonde gewig, wat sê: “Laekoolhidraatdiëte, veral wanneer dit sonder mediese toesig gevolg word, kan gevaarlik wees.” Verder sê dit: “[Dit] is bedoel om vinnige gewigsverlies mee te bring deur ’n ongewens hoë konsentrasie van ketoonliggame (’n afvalproduk van vetmetabolisme) te bevorder.” Indien jy ’n laekoolhidraatdieet oorweeg, sal dit goed wees om eers ’n dokter te raadpleeg.

As dit jou doelwit is om gewig te verloor, moet jy nie tou opgooi nie. “Dit is nie onmoontlik om jou gewig te beheer nie, en dit hoef ook nie te beteken dat jy moet honger ly of ’n vervelige, eentonige dieet moet volg nie”, sê dr. Walter C. Willett. “Met doelbewuste inspanning en kreatiwiteit kan die meeste mense hulle gewig oor die lang termyn suksesvol beheer deur ’n smaaklike maar gebalanseerde dieet te volg en feitlik elke dag te oefen. ’n Langer, gesonder lewe is beslis die moeite werd.” b—Ons kursiveer.

Hoe belangrik is oefening?

Dr. Willett sê: “Buiten om nie te rook nie, is oefening die heel beste ding wat jy kan doen om gesond te word of gesond te bly en chroniese siektes te voorkom.” Hoe dikwels moet ’n mens oefen? Wat is die voordele van fisiese inspanning?

Sommige deskundiges sê dat daaglikse oefening baie voordelig kan wees, al is dit net 30 minute lank. Maar daar word ook gesê dat dit jou kan help om ernstige probleme in die toekoms te voorkom as jy selfs net drie keer per week oefen. Oefening verbrand kilojoules, en die groot vraag vir iemand wat gewig probeer verloor, is: Verbrand ek elke dag meer kilojoules as wat ek inneem? As die teenoorgestelde waar is, sal jy beslis gewig optel. Stap dus of ry eerder fiets as om in ’n voertuig te ry. Klim die trap in plaas daarvan om die hysbak te gebruik. Oefen! Verbrand kilojoules!

Dr. Willett verduidelik: “Vir baie mense is stap ’n uitstekende alternatief vir ander soorte fisiese aktiwiteit, want ’n mens het nie enige spesiale toerusting nodig nie, dit kan op enige tyd en enige plek gedoen word en dit is oor die algemeen heel veilig.” Hy bedoel natuurlik dat ’n mens teen ’n flinke pas moet stap en nie net ’n wandeling neem nie. Hy beveel aan dat ’n mens, indien moontlik, elke dag 30 minute fisies aktief is.

Is ’n operasie die beste oplossing?

In ’n poging om gewig te verloor en te voorkom dat hulle in die toekoms weer gewig optel, het sommige pasiënte wat aan ernstige vetsug ly, die raad van vetsugspesialiste gevolg wat verskeie operasies aanbeveel. Vir wie is hierdie operasies? Die skrywers van die boek Mayo Clinic on Healthy Weight stel die volgende voor: “Jou dokter sal dalk ’n operasie oorweeg as jou liggaamsmassaindeks bo 40 is, ’n aanduiding dat jy aan ernstige vetsug ly.” (Sien die tabel op bladsy 5.) Die Mayo Clinic Health Letter stel voor: “’n Operasie vir vetsug word gewoonlik slegs aanbeveel vir mense tussen die ouderdomme van 18 en 65 met ’n liggaamsmassaindeks bo 40 wie se vetsug ’n ernstige mediese gevaar inhou.”—Ons kursiveer.

Wat is van hierdie operasies? Daar is dundermomleiding, maagafskorting, gastroplastie en maagomleiding. Laasgenoemde operasie behels dat die boonste deel van die maag afgekram word, sodat ’n klein sak oorbly wat net ongeveer 14 gram kos kan hou. Die dunderm word dan afgesny en aan hierdie sak geheg. Sodoende word die grootste deel van die maag sowel as die duodenum uitgeskakel.

Maar wat dan van mense wat oortollige gewig verloor het? Was dit die moeite werd?

[Voetnote]

a Dit sluit buitengewoon hoë ystervlakke in die bloed, nierprobleme en hardlywigheid in.

b Toegewyde Christene wat hulle lewe op ’n aanneemlike wyse in God se heilige diens wil gebruik, het meer rede om gewig te verloor en gesond te wees. Hulle hoef nie ’n vroeë dood te sterf nie en kan dus meer jare van nuttige diens aan God gee.—Romeine 12:1.

[Venster/Prente op bladsy 7]

’n Voorgestelde voedselpiramide vir goeie gesondheid

Soetgoed Gekonsentreerde of verwerkte

soetgoed (selde; beperk tot 315 kilojoules

per dag)

Vette Olyfolie, neute, kanola-olie, avokado’s

(3-5 porsies per dag; een teelepel olie of twee

eetlepels neute is een porsie)

Proteïne en suiwel Boontjies, vis, maervleis, eiers,

laevetsuiwel, kaas (3-7 porsies per dag; een porsie

is gelyk aan 85 gram gaargemaakte vleis of vis)

Koolhidrate Veral volgraansoorte—pasta, brood, rys en

graankos (4-8 porsies per dag; ’n sny brood is een porsie)

Vrugte en groente ’n Groot verskeidenheid van elk (onbeperkte porsies elke dag; minstens 3 elk)

Ontwaak! staan nie enige dieet of manier om gewig te beheer, voor nie. Dit lig sy lesers bloot in oor party van die opsies wat beskikbaar is. Individue moet hulle dokter raadpleeg voordat hulle met enige oefen- of dieetprogram begin.

[Erkenning]

Gebaseer op wenke deur die Mayo-kliniek

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

Party het die volgende wenke probeer om gewig te verloor:

1. Wees bewus van hoeveel kilojoules daar is in wat jy eet en drink. Let wel: Drankies kan baie kilojoules bevat, veral versoete sappe. Alkoholiese drankies het ook ’n hoë kilojoule-inhoud. En pasop vir daardie koeldranke wat so baie geadverteer word. Kyk na die kilojoule-inhoud op die etiket. Jy sal dalk geskok wees.

2. Vermy versoeking. As daar aartappelskyfies, sjokolade of koekies byderhand is, gaan jy dit mos eet! Vervang dit met laekilojoule-versnaperings soos appels, wortels en volgraanbeskuitjies.

3. Eet ’n versnapering voordat jy ’n maaltyd geniet. Dit sal jou eetlus demp en jou dalk help om minder te eet.

4. Moenie alles eet wat voorgesit word nie. Wees selektief. Moenie eet wat jy weet te veel kilojoules bevat nie.

5. Eet stadiger. Hoekom moet jy jaag? Geniet jou maaltyd deur te let op wat jy eet—hoe die kleure en die geure mekaar komplementeer. Luister as jou liggaam sê: “Ek is versadig. Ek het nie meer kos nodig nie.”

6. Hou op eet voordat jy versadig voel.

7. Restaurante in sommige lande is bekend daarvoor dat hulle porsies baie groot is. Eet net die helfte van jou voorgereg, of deel dit met iemand anders.

8. Nageregte is nie noodsaaklik om ’n maaltyd af te rond nie. Dit is beter om vrugte of iets anders met min kilojoules aan die einde van ’n maaltyd te eet.

9. Voedselvervaardigers wil hê dat jy meer moet eet. Wins is al wat vir hulle belangrik is. Hulle sal jou swakhede probeer uitbuit. Moenie deur hulle slim advertensies en mooi prentjies om die bos gelei word nie. Jy kan nee sê!

[Erkenning]

Lys aangepas uit die boek Eat, Drink, and Be Healthy, deur dr. Walter C. Willett

[Prente op bladsy 8, 9]

Oefen!