Hoe moet ons bejaardes behandel?
Die Bybel se beskouing
Hoe moet ons bejaardes behandel?
GEDURENDE die somer van 2003 het duisende mense regoor Europa gesterf weens een van die ergste hittegolwe wat die vasteland in 60 jaar getref het. Die meeste van die oorledenes was bejaard. Party is agtergelaat deur familielede wat met vakansie gegaan het. Nog ander is na bewering verwaarloos of oor die hoof gesien deur die oorwerkte personeel van hospitale en verpleeginrigtings. Die koerant Le Parisien het berig dat 450 lyke in Parys alleen nie opgeëis is nie. “In watter soort wêreld lewe ons as ons ons vaders, moeders en grootouers vergeet?” het die koerant gevra met verwysing na die situasie van dié wat alleen en naamloos gesterf het.
In ’n wêreld waar die aantal mense bo 65 elke maand met ’n ongeëwenaarde 795 000 toeneem, het die versorging van bejaardes een van die grootste hedendaagse bekommernisse geword. “Die persentasie van bejaardes regoor die wêreld neem teen ’n ongekende tempo toe, en ons sal noukeurig moet aandag skenk aan hoe lande reageer op die uitdagings en geleenthede wat met die verouderingsproses gepaardgaan”, het Nancy Gordon, mededirekteur van die demografiese programme vir die Amerikaanse Sensusburo, gesê.
Ons Skepper stel ook in bejaardes belang. Trouens, sy Woord, die Bybel, gee ons leiding oor hoe hulle behandel moet word.
Respek vir bejaardes
God se Wet aan Moses het respek vir bejaardes bevorder. Die Wet het gesê: “Voor grys hare moet jy opstaan, en jy moet aan ’n bejaarde agting betoon” (Levitikus 19:32). Daar is van gehoorsame aanbidders van God verwag om voor bejaardes ‘op te staan’ (1) as ’n teken van respek vir hulle en (2) as ’n bewys van die aanbidders se eerbiedige vrees vir God. Bejaardes moes dus ’n geëerde posisie hê en as waardevolle lede van die volk beskou word.—Spreuke 16:31; 23:22.
Hoewel hedendaagse Christene nie onder die Mosaïese Wet is nie, openbaar die beginsels daarin Jehovah se gedagtes en prioriteite, en dit laat geen twyfel dat hy bejaardes hoogag nie. Die lede van die eerste-eeuse Christengemeente het hierdie beginsels verstaan. Vroeë bewys hiervan word in die Bybelboek Handelinge gevind. Sommige van die destydse Christene in Jerusalem was behoeftige weduwees. Van hulle was ongetwyfeld bejaard. Die apostels het sewe “manne van goeie getuienis” aangestel om seker te maak dat hierdie vroue daaglikse voedsel op ’n ordelike wyse ontvang en het hierdie spesiale sorg as ’n “nodige aangeleentheid” van die gemeente beskou.—Handelinge 6:1-7.
Die apostel Paulus het die beginsel om ‘voor grys hare op te staan’ op die Christengemeente toegepas. Hy het aan die jonger Christenopsiener Timoteus gesê: “Moenie ’n ouer man skerp kritiseer nie. Inteendeel, vermaan hom soos ’n vader, . . . ouer vroue soos moeders” (1 Timoteus 5:1, 2). Hoewel die jong Timoteus ’n mate van gesag oor bejaarde Christene gehad het, is daar vir hom gesê om nie op ’n ouer man neer te sien nie. Hy moes hom eerder respekvol vermaan soos ’n vader. En hy moes soortgelyke respek aan ouer vroue in die gemeente betoon. Die apostel Paulus het Timoteus—en by uitbreiding alle lede van die Christengemeente—in werklikheid aangespoor om ‘voor grys hare op te staan’.
Godvresende mense het natuurlik nie wette nodig om bejaardes met waardigheid en respek te behandel nie. Dink aan die Bybel se voorbeeld van Josef, wat alles in sy vermoë gedoen het om sy bejaarde vader na Egipte te bring en sodoende die 130-jarige Jakob van ’n wydverspreide hongersnood gered het. Toe Josef sy vader vir die eerste keer in meer as twee dekades sien, het Josef “hom dadelik om die hals geval en herhaaldelik aan sy hals in trane uitgebars” (Genesis 46:29). Lank voordat die wet van die Israeliete vereis het dat bejaardes met medelye en diep respek behandel moet word, het Josef God se beskouing weerspieël deur dit te doen.
Gedurende sy bediening het Jesus besorgdheid oor bejaardes getoon. Hy het godsdiensleiers sterk veroordeel wat gevoel het dat hulle hulle bejaarde ouers kon verwaarloos as gevolg van hulle godsdienstradisies (Matteus 15:3-9). Jesus het ook op ’n liefdevolle wyse na sy eie moeder omgesien. Terwyl hy ondraaglike pyn op die folterpaal verduur het, het hy seker gemaak dat sy geliefde apostel Johannes vir sy bejaarde moeder sou sorg.—Johannes 19:26, 27.
God laat sy lojales nie in die steek nie
Die psalmis het gebid: “Moet my nie wegwerp in die tyd van die ouderdom nie; moet my nie verlaat juis wanneer my krag ingee nie” (Psalm 71:9). God sal nie sy getroue knegte “wegwerp” nie, selfs wanneer hulle voel dat hulle nie meer ’n bydrae lewer nie. Die psalmis het nie gevoel dat Jehovah hom in die steek gelaat het nie; hy het eerder sy eie behoefte erken om selfs meer op sy Skepper staat te maak namate hy ouer geword het. Jehovah reageer op sulke lojaliteit deur ’n mens lewenslank te ondersteun (Psalm 18:25). Dikwels kom hierdie ondersteuning van mede-Christene.
In die lig hiervan is dit duidelik dat almal wat God wil eerbiedig, ook aan bejaardes respek moet betoon. Bejaardes is beslis kosbaar in die oë van ons Skepper. Mag ons, aangesien ons na God se beeld geskep is, altyd sy beskouing van “grysheid” openbaar.—Psalm 71:18.
[Prent op bladsy 23]
Christene behandel bejaardes met eer en respek