Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die keuses, die geskille

Die keuses, die geskille

Die keuses, die geskille

Dink aan die pyn wat ’n egpaar ervaar as hulle baie graag ’n kind wil hê, maar weens onvrugbaarheid nie kan nie. Hulle wend hulle tot die mediese wetenskap vir hulp en vind dat baie tegnieke en behandelings ontwikkel is om onvrugbaarheid te oorkom. Maak dit saak watter een hulle kies, indien enige?

VANDAG het onvrugbare egpare opsies wat net ’n paar dekades gelede nie beskikbaar was nie. Maar hierdie opsies laat ’n ernstige vraag ontstaan: Wat is die etiese en sedelike implikasies van geassisteerde-voortplantingstegnieke? Maar voordat ons dit ondersoek, kom ons kyk hoe verskeie godsdiensgroepe sulke behandelings beskou.

Wat sê godsdiensgroepe hieroor?

In 1987 het die Katolieke Kerk ’n dokument uitgereik wat die sedelikheid van vrugbaarheidsprosedures bespreek het. Die verklaring, wat as Donum Vitae (Die gawe van die lewe) bekend staan, het gesê dat ’n mediese tegniek as sedelik aanvaarbaar beskou kan word as dit die huweliksdaad help om bevrugting teweeg te bring. Daarenteen het die dokument gesê dat ’n mediese prosedure sedelik verkeerd is as dit die huweliksdaad vervang. Volgens hierdie beskouing sal ’n operasie om verstopping van die buise reg te stel asook die gebruik van vrugbaarheidsmiddels as sedelik aanvaarbaar beskou word, maar proefbuisbevrugting sal sedelik verkeerd wees.

Die volgende jaar het ’n Amerikaanse Kongreskomitee ’n opname onder godsdiensgroepe gedoen oor hulle standpunt ten opsigte van vrugbaarheidsbehandeling. Die finale verslag het getoon dat die meerderheid gevestigde mediese ingrypingsmetodes, kunsmatige bevrugting met die man se sperm en in vitro-bevrugting aanvaar, mits die eiersel sowel as die sperm van die egpaar self verkry is. Daarbenewens het die meeste van die groepe wat aan die opname deelgeneem het, gesê dat die vernietiging van embrio’s, kunsmatige bevrugting deur ’n skenker en surrogaatmoederskap sedelik verkeerd is. a

In 1997 het die Europese Ekumeniese Kommissie vir Kerk en Gemeenskap (EEKKG), ’n groep Protestantse, Anglikaanse en Ortodokse kerke, hulle standpunt oor geassisteerde voortplanting in ’n dokument uiteengesit en daarin aangedui dat hulle verdeeld is oor hierdie saak. Die dokument het beklemtoon dat die individu se gewete en persoonlike verantwoordelikheid hierby betrokke is en gesê: “Dit impliseer dat dit moeilik is om oor ‘die’ standpunt van die lidkerke van die EEKKG te praat. Daar is in werklikheid baie standpunte.”

Dit is duidelik dat daar uiteenlopende menings oor geassisteerde voortplanting is. Die VN se Wêreldgesondheidsorganisasie erken dat die gebied van geassisteerde-voortplantingstegnieke “voortdurend vrae laat ontstaan oor die geldigheid van sosiale norme, sedelike en etiese standaarde en regstelsels”. Wat is sommige faktore wat mense moet oorweeg voordat hulle ’n besluit oor geassisteerde voortplanting neem?

Wat is die betrokke geskille?

’n Basiese faktor om te oorweeg, is die status van ’n menslike embrio. Dit hou verband met die belangrike vraag: Wanneer begin lewe—by bevrugting of later in die swangerskap? Die antwoord sal beslis baie egpare se besluit oor behandeling beïnvloed. As hulle byvoorbeeld glo dat lewe by bevrugting begin, is daar ’n paar sleutelvrae wat oorweeg moet word.

● Moet die egpaar dokters toelaat om die algemene prosedure te volg waardeur meer eierselle bevrug word as die een of meer wat in die baarmoeder geplaas word, en sodoende ’n voorraad ongebruikte embrio’s vir toekomstige gebruik hou?

● Wat sal met hierdie gebergde embrio’s gebeur as die egpaar later nie nog kinders kan of wil hê nie?

● Wat sal met gebergde embrio’s gebeur as die egpaar skei of as een van hulle sterf?

● Wie sal die groot verantwoordelikheid dra om sulke embrio’s te vernietig?

Wat met ongebruikte of gebergde embrio’s gedoen moet word, is ’n kwessie wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Die wet vereis nou in sekere lande dat die egpaar skriftelik sê wat met die oortollige embrio’s gedoen moet word—dit wil sê of hulle geberg, geskenk, vir navorsing gebruik moet word of toegelaat moet word om dood te gaan. Egpare moet in gedagte hou dat dit in sekere plekke eties aanvaarbaar is vir ’n vrugbaarheidskliniek om gebergde embrio’s sonder enige skriftelike toestemming te vernietig as hulle ná vyf jaar nog nie gebruik is nie. Vandag word daar wêreldwyd honderdduisende bevriesde embrio’s in klinieke geberg.

Nog ’n faktor wat egpare moet oorweeg, is dat daar moontlik druk op hulle uitgeoefen sal word om ongebruikte embrio’s vir stamselnavorsing te skenk. Die Amerikaanse Onvrugbaarheidsvereniging het byvoorbeeld egpare aangemoedig om hulle ongebruikte, gebergde embrio’s vir navorsing beskikbaar te stel. Een doel van stamselnavorsing is om nuwe maniere te vind om siektes te behandel. Maar dit is ’n kontroversiële navorsingsgebied omdat die proses waardeur embrionale stamselle verkry word in werklikheid die embrio vernietig. b

Nuwe genetiese tegnologie laat weer ander etiese geskille ontstaan. Beskou byvoorbeeld preïmplantasie- genetiese diagnose (PGD). (Sien die venster “Wat van preïmplantasie- genetiese diagnose?”) Hierdie tegniek behels dat embrio’s genetiese toetsing ondergaan en dat een van hulle dan gekies word—dalk een van die gewenste geslag of wat vry is van ’n siekteveroorsakende geen—om in die baarmoeder ingeplant te word. Kritici waarsku dat PGD tot diskriminasie op grond van geslag kan lei of dat dit uiteindelik deur egpare gebruik kan word om ander genetiese kenmerke vir hulle kinders te kies, insluitende haar- of oogkleur. PGD laat die etiese vraag ontstaan: Wat gebeur met die embrio’s wat nie gekies word nie?

Sal die huweliksband geraak word?

Wanneer ’n mens sekere onvrugbaarheidsbehandelings oorweeg, is daar nog ’n aspek om aan te dink. Hoe sal die gebruik van ’n surrogaatmoeder of geskenkte sperm- of eierselle die huweliksband raak? Sommige tegnieke kan ’n derde party (’n skenker) of selfs ’n vierde party (twee skenkers) of ’n vyfde party (twee skenkers en ’n surrogaatmoeder) by ’n swangerskap betrek.

Wanneer dit kom by behandeling met geskenkte genetiese materiaal, moet die betrokke partye ook ander faktore oorweeg.

● Watter langtermyn- emosionele uitwerking kan so ’n geboorte op die ouers hê wanneer net een—of geeneen van hulle—die genetiese ouer is?

● Hoe sal die seun of dogter reageer op die feit dat sy of haar geboorte die resultaat van so ’n ongewone manier van bevrugting was?

● Moet die kind ingelig word oor sy of haar afkoms en toegelaat word om na die biologiese vader of moeder te soek?

● Wat is die sedelike en wetlike regte en verpligtinge van die een of meer individue wat genetiese materiaal geskenk het?

Wat van naamloosheid?

Die beleid in baie lande is dat skenkers naamloos bly. Die Menslike Bevrugtings- en Embriologie-owerheid, wat die gebruik van menslike voortplantingsmateriaal in Brittanje reguleer, verduidelik: “Behalwe in gevalle waar die skenking doelbewus gereël word tussen mense wat mekaar ken, sal die identiteit van huidige en vorige skenkers nie bekend gemaak word aan die egpare wat met hulle eierselle of sperm behandel is of aan die kinders wat moontlik as gevolg van daardie behandeling gebore word nie.”

Hierdie beleid van naamloosheid is egter ’n ernstige geskilpunt in sommige plekke. ’n Paar lande het hulle beleid of wette dienooreenkomstig verander. Diegene wat teen die beleid van naamloosheid gekant is, beklemtoon dat kinders ’n volledige begrip van hulle identiteit moet hê. ’n Verslag sê: “Meer as 80 persent van mense wat aangeneem is, probeer hulle biologiese familie opspoor; baie van hulle doen dit om die jare lange nuuskierigheid oor hulle herkoms, wat die meeste mense het, te bevredig. Byna 70 persent wil belangrike agtergrondinligting kry in verband met oorerflike mediese probleme wat hulle biologiese ouers dalk het.”

’n Ander verslag, wat gegrond is op onderhoude met 16 volwassenes wat met behulp van skenkers verwek is, het getoon dat “baie geskok was om van hulle biologiese herkoms uit te vind”. Die verslag het bygevoeg: “Baie van die kinders het probleme ondervind met persoonlike identiteit en gevoelens van verlatenheid. Hulle het gevoel dat hulle bedrieg is en dat hulle nie hulle gesin kan vertrou nie.”

Hoe sal jy besluit?

Die mediese wetenskap sal ongetwyfeld die ontwikkeling van geassisteerde voortplanting selfs verder voer. Sommige voorspel dat hierdie tegnologie verantwoordelik sal wees vir 30 persent van alle babas wat in die toekoms gebore gaan word. Die debat oor die betrokke etiese en sedelike geskille sal aanhou.

Ware Christene word deur ’n selfs belangriker oorweging gelei—die beskouing van ons Skepper, die een wat voortplanting moontlik gemaak het (Psalm 36:9). Die Bybel lewer natuurlik nie regstreeks kommentaar oor moderne geassisteerde-voortplantingstegnieke nie, want sulke prosedures was nie in Bybeltye beskikbaar nie. Maar die Bybel sit wel duidelike beginsels uiteen wat God se denke en beskouing openbaar. (Sien die venster “Wat sê die Bybel?”). Sulke beginsels help ons om besluite te maak wat eties en sedelik is en ons met ’n goeie gewete voor God laat.—1 Timoteus 1:5.

[Voetnote]

a Die woordeboek definieer ’n surrogaatmoeder as “’n vrou wat swanger raak, gewoonlik deur middel van kunsmatige bevrugting of chirurgiese inplanting van ’n bevrugte eiersel, met die doel om die fetus tot en met geboorte vir ’n ander vrou te dra”.

b Sien die reeks “Stamselle—Het die wetenskap te ver gegaan?” in die Ontwaak! van 22 November 2002.

[Venster/Prent op bladsy 8]

Wat is ’n pre-embrio?

Die term “pre-embrio” verwys na die ongebore baba se ontwikkelingstadium gedurende die eerste 14 dae ná bevrugting. Daarna word dit tot die einde van die agtste week ’n embrio genoem. Dan staan dit as ’n fetus bekend. Waarom word die woord “pre-embrio” gebruik?

Volgens die International Journal of Sociology and Social Policy is die term “gebruik as regverdiging vir navorsing op die menslike embrio” gedurende die eerste 14 dae ná bevrugting. Een naslaanwerk sê: “As ’n mens die embrio definieer as die selmassa wat uiteindelik die baba gaan word, word die eerste gedeeltelik ontwikkelde liggaamsdele daarvan nie gevorm voor omtrent twee weke nadat die spermsel die eiersel bereik het nie.” Maar kan hierdie pre-embrio bloot as ’n klompie selle beskou word wat vir niks behalwe navorsing geskik is nie? Kom ons kyk na wat werklik gedurende hierdie periode van twee weke gebeur.

Nadat die spermsel die eiersel binnegedring het, neem dit ongeveer 24 uur vir die manlike en vroulike chromosome om saam te smelt. Gedurende die volgende paar dae verdeel die sel. Binne vier of vyf dae ná bevrugting vorm die groepie selle ’n hol sfeer (nog steeds kleiner as ’n speldekop) met ’n buitenste sellaag en ’n binneste selmassa. Dit word nou ’n blastosist genoem. Baie van die selle van die buitenste laag sal weefsel word wat nie deel van die embrio vorm nie. Die baba sal uit die binneste selmassa ontwikkel.

Ongeveer ’n week ná bevrugting vind inplanting in die baarmoeder plaas. Die blastosist heg hom aan die baarmoeder en begin die plasenta vorm, wat die voorsiening van suurstof en voedsel uit die moeder se bloedstroom en die vrystelling van afvalstowwe moontlik sal maak. Volgens die boek Incredible Voyage—Exploring the Human Body begin die binneste selmassa teen ongeveer die negende dag met “die vorming van ’n nuwe mens”. Dit voeg by: “Daardie selle, sowat 20 van hulle, moet gedurende die volgende vyf of ses dae herstruktureer en differensieer om die eerste strukturele element van die eintlike embrio te vorm.” Hierdie “eerste strukturele element”, waaruit die sentrale senuweestelsel uiteindelik ontwikkel, begin dan teen die einde van die tweede week verskyn.

Weens hierdie voorbereidingsproses wat stap vir stap in die vroeë menslike embrio plaasvind, redeneer sommige dat “daar nie een biologiese gebeurtenis of oomblik is wat as die begin van ’n nuwe menslike embrio beskou kan word nie”.

Ware Christene glo egter dat lewe by bevrugting begin. Die feit dat die oorspronklike bevrugte sel die program bevat vir die vorming van die plasenta, die inplanting, die verbindings met die moeder se bloedvate, en so meer, vergroot net hulle bewondering vir die Ontwerper daarvan, Jehovah God.

[Prent]

Menslike embrio op drie dae (ongeveer 400X vergroot)

[Erkenning]

Courtesy of the University of Utah Andrology and IVF Laboratories

[Venster/Prent op bladsy 9]

WAT VAN PREÏMPLANTASIE- GENETIESE DIAGNOSE?

’n Nuwe ontwikkeling in proefbuisbevrugting word preïmplantasie- genetiese diagnose genoem. Dit behels dat embrio’s genetiese toetsing ondergaan en dat een dan gekies word om in die baarmoeder ingeplant te word. Die boek Choosing Assisted Reproduction—Social, Emotional and Ethical Considerations lewer kommentaar oor die implikasies van hierdie tegniek en verduidelik:

“Binnekort sal [wetenskaplikes] die fisiese, intellektuele en dalk emosionele en sosiale eienskappe van ’n embrio kan bepaal. Ouers sal dus in die nabye toekoms party eienskappe van hulle nageslag kan kies. En hoewel baie mense ten gunste sal wees van die gebruik van genetiese keuring voor inplanting vir egpare wat draers van ’n verskriklike siekte is, sal baie nie ten gunste wees van die gebruik van hierdie tegnologie vir egpare wat ’n kind van ’n sekere geslag wil hê nie—of in die toekoms, vir dié wat ’n kind wil hê met blou oë of met musiektalent of wat lank gaan wees.

“Preïmplantasie- genetiese diagnose, soos baie ander tegnologieë, laat die vraag ontstaan of iets gedoen moet word bloot omdat dit gedoen kan word. . . . Die dilemma is waar die lyn getrek moet word—indien dit hoegenaamd gedoen moet word—wanneer dit kom by hierdie tegnologiese turksvy.”

[Venster/Prent op bladsy 10]

WAT SÊ DIE BYBEL?

Die Bybel lewer natuurlik nie regstreeks kommentaar oor moderne geassisteerde-voortplantingsprosedures nie. Maar dit stel ons wel in staat om God se beskouing oor sekere belangrike geskille te kry. En as ware Christene die antwoorde op twee basiese vrae ken, kan dit hulle help om besluite te maak wat God behaag.

Wanneer begin menselewe? Die Bybel toon dat lewe by bevrugting begin. Let op die woorde van die psalmis Dawid, wat geïnspireer is om van God te sê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe” (Psalm 139:16). Dink ook aan Eksodus 21:22, 23, waar die teks in die oorspronklike taal toon dat iemand wat ’n ongebore kind beseer, daarvoor aanspreeklik gehou sou word. Die les wat ons daaruit leer, is dat ons Skepper die lewe as kosbaar beskou, selfs gedurende die heel vroegste stadium van ontwikkeling in die baarmoeder. God beskou die opsetlike vernietiging van ’n embrio as aborsie. c

Is daar enige beperkings ten opsigte van hoe ’n mens jou voortplantingsvermoëns mag gebruik? God se beskouing kan in Levitikus 18:20 gevind word, waar dit sê: “Jy mag jou saadstorting nie aan die vrou van jou metgesel gee om daardeur onrein te word nie.” Die onderliggende beginsel in daardie skriftuurlike bevel is: ’n Man se semen mag nie gebruik word om enigiemand buiten sy vrou te bevrug nie, en ’n vrou mag nie vir enigiemand buiten haar man ’n kind voortbring nie. Met ander woorde, die voortplantingsvermoëns mag slegs vir ’n mens se huweliksmaat gebruik word. Ware Christene vermy derhalwe surrogaatmoederskap sowel as enige prosedures waarin geskenkte sperm, eierselle of embrio’s gebruik word. d

Wanneer ware Christene ’n besluit aangaande geassisteerde voortplanting neem, moet hulle versigtig oorweeg wat die Bybel omtrent God se denke openbaar. e Hy is per slot van rekening die Insteller van die huwelik en die gesinslewe.—Efesiërs 3:14, 15.

[Voetnote]

c Sien die artikel “Die Bybelse beskouing: Wanneer begin ’n mens se lewe?” in die Ontwaak! van 8 Oktober 1990.

d Sien die artikels “Die Bybelse beskouing: Surrogaatmoederskap—Is dit aanvaarbaar vir Christene?” in die Ontwaak! van 8 Maart 1993 en “Wat sê die Bybel?—Is kunsmatige bevrugting vir God aanvaarbaar?” in die Ontwaak! van 22 Oktober 1974.

e Vir ’n bespreking van in vitro-bevrugting waar die sperm van die man en die eiersel van sy vrou kom, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1981.

[Prente op bladsy 7]

Bevrore embrio’s wat geberg word

[Erkenning]

© Firefly Productions/CORBIS