Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die oorsake van vooroordeel

Die oorsake van vooroordeel

Die oorsake van vooroordeel

VOOROORDEEL kan verskeie oorsake hê. Maar twee goed gedokumenteerde faktore is: (1) die begeerte om van iemand ’n sondebok te maak en (2) gegriefdheid wat deur ’n geskiedenis van ongeregtigheid veroorsaak is.

Soos in die vorige artikel gemeld is, soek mense baie keer ’n sondebok wanneer ’n ramp plaasvind. Wanneer vooraanstaande mense ’n beskuldiging teen ’n minderheidsgroep dikwels genoeg herhaal, word dit as die waarheid aanvaar, en vooroordeel ontstaan. Om ’n algemene voorbeeld te noem: immigrantewerkers word tydens ekonomiese insinkings in Westerse lande baie keer die skuld vir werkloosheid gegee—al aanvaar hulle dikwels werk wat die meeste plaaslike mense weier om te doen.

Maar nie alle vooroordeel spruit uit die feit dat mense ’n sondebok soek nie. Dit kan ook sy oorsprong in die geskiedenis hê. “Dit is nie ’n oordrywing om te sê dat die slawehandel die intellektuele raamwerk van rassisme en kulturele minagting van swart mense gevorm het nie”, sê die verslag UNESCO Against Racism. Slawehandelaars het hulle skandelike handel in mense probeer regverdig deur te beweer dat swart mense minderwaardig is. Hierdie ongegronde vooroordeel, wat later uitgebrei het en ander gekoloniseerde volke ingesluit het, duur nog voort.

Regoor die wêreld hou sulke voorvalle van onderdrukking en onregverdigheid vooroordeel lewend. Vyandigheid tussen Katolieke en Protestante in Ierland kan tot die 16de eeu teruggevoer word, toe Engeland se heersers Katolieke vervolg en verban het. Die gruweldade wat sogenaamde Christene tydens die Kruistogte gepleeg het, wek nog steeds sterk gevoelens onder Moslems in die Midde-Ooste. Vyandigheid tussen Serwiërs en Kroate in die Balkan is deur burgerslagtings gedurende die Tweede Wêreldoorlog vererger. Soos hierdie voorbeelde toon, kan ’n geskiedenis van vyandskap tussen twee groepe vooroordeel versterk.

Hoe onkunde bevorder word

’n Kleuter koester nie vooroordeel in sy hart nie. Inteendeel, navorsers sê dat ’n kind nie huiwer om met ’n kind van ’n ander ras te speel nie. Maar teen die tyd dat hy 10 of 11 jaar oud is, verwerp hy moontlik mense van ’n ander stam, ras of godsdiens. Tydens sy vormingsjare word hy blootgestel aan baie standpunte wat lewenslank ’n invloed op hom uitoefen.

Hoe word hierdie lesse geleer? ’n Kind leer negatiewe gesindhede aan deur wat hy sien en hoor—eerstens by sy ouers en dan by sy vriende en onderwysers. Later kan die bure, koerante, die radio of televisie hom verder beïnvloed. Hoewel hy waarskynlik min of niks weet van die groepe waarvan hy nie hou nie, het hy teen die tyd dat hy ’n volwassene is reeds tot die slotsom gekom dat hulle minderwaardig en onbetroubaar is. Moontlik haat hy hulle selfs.

Omdat mense deesdae meer reis en daar meer handel gedryf word, is daar in baie lande meer kontak tussen verskillende kulture en etniese groepe. Tog is iemand wat sterk vooroordeel ontwikkel het, gewoonlik nie bereid om sy vooropgesette menings te verander nie. Hy hou moontlik aan om duisende of selfs miljoene mense as stereotipes te beskou en neem aan dat hulle almal sekere slegte eienskappe het. Enige negatiewe ondervinding, al is net een persoon van daardie groep daarby betrokke, versterk sy vooroordeel. Aan die ander kant word positiewe ondervindings gewoonlik as uitsonderings op die reël beskou.

Kom vooroordeel te bowe

Hoewel die meeste mense vooroordeel in beginsel afkeur, is daar min wat glad nie bevooroordeeld is nie. Trouens, talle wat baie bevooroordeeld is, hou vol dat hulle nie is nie. Ander sê dat dit nie saak maak nie, veral as mense nie aan hulle vooroordeel uiting gee nie. Maar vooroordeel maak wel saak, want dit maak mense seer en verdeel hulle. As vooroordeel die kind van onkunde is, is haat dikwels die kleinkind daarvan. Die skrywer Charles Caleb Colton (1780?-1832) het gesê: “Ons haat party mense, want ons ken hulle nie; en ons sal hulle nie leer ken nie, want ons haat hulle.” Maar as vooroordeel aangeleer kan word, kan dit ook afgeleer word. Hoe?

[Venster op bladsy 7]

Godsdiens—Bevorder dit verdraagsaamheid of vooroordeel?

In sy boek The Nature of Prejudice sê Gordon W. Allport dat “dit lyk of kerklede oor die algemeen meer bevooroordeeld is as mense wat nie aan ’n kerk behoort nie”. Dit is nie verbasend nie, aangesien godsdiens al dikwels die oorsaak van vooroordeel was in plaas van die oplossing daarvoor. Geestelikes het byvoorbeeld eeue lank anti-Semitisme aangeblaas. Volgens A History of Christianity het Hitler eenkeer gesê: “Wat die Jode betref, volg ek maar net die beleid wat die Katolieke kerk al 1500 jaar lank volg.”

Toe gruweldade in die Balkan gepleeg is, kon Ortodokse en Katolieke leringe blykbaar nie verdraagsaamheid en respek teenoor mense van ’n ander godsdiens voortbring nie.

Ook in Rwanda het kerklede medegelowiges vermoor. Die National Catholic Reporter het gesê dat die gevegte daar “’n ware rassemoord was waarvoor selfs Katolieke ongelukkig verantwoordelik is”.

Die Katolieke Kerk het self erken dat hulle ’n geskiedenis van onverdraagsaamheid het. Pous Johannes-Paulus II het in die jaar 2000 by ’n openbare mis in Rome om vergifnis gevra vir “dwalinge van die verlede”. Gedurende die seremonie is “godsdiensonverdraagsaamheid en onregverdigheid teenoor Jode, vroue, inboorlinge, immigrante, die armes en die ongeborenes” spesifiek genoem.

[Prent op bladsy 6]

Bo: Vlugtelingkamp, Bosnië en Herzegowina, 20 Oktober 1995

Twee Serwiese vlugtelinge uit Bosnië wat vir die einde van die burgeroorlog wag

[Erkenning]

Photo by Scott Peterson/Liaison

[Prent op bladsy 7]

Geleer om te haat

Ouers, die televisie en ander faktore kan negatiewe gesindhede by ’n kind laat posvat