Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om leergierigheid aan te wakker

Hoe om leergierigheid aan te wakker

Hoe om leergierigheid aan te wakker

“Leer ’n kind hoe hy moet lewe, en hy sal dit die res van sy lewe onthou.”—SPREUKE 22:6, TODAY’S ENGLISH VERSION.

HET jy al ooit kinders aan die slaap probeer kry wanneer iets interessants aan die gang was? Al is hulle moeg, huilerig en selfs omgekrap, sal hulle hard probeer om wakker en betrokke te bly. Hulle “behoefte om van die wêreld sin te maak en vaardighede aan te leer, is net so ingewortel en sterk as hulle behoefte aan kos of rus of slaap. Soms kan dit selfs sterker wees”, skryf John Holt.

Die uitdaging waarvoor kinders te staan kom, is om lewenslank, wat natuurlik die skooljare insluit, leergierig te bly. Hoewel daar nie ’n onfeilbare formule vir sukses is nie, is daar ’n aantal beproefde strategieë wat ouers, onderwysers en kinders kan gebruik. Maar iets wat belangriker is as enige strategie, is liefde.

Laat liefde die beste in hulle na vore bring

Kinders smag na hulle ouers se liefde. Dit laat hulle veilig voel, wat hulle gewilliger maak om te kommunikeer, vrae te vra en dinge te ondersoek. Liefde beweeg ouers om gereeld met hulle kinders te gesels en in hulle opvoeding belang te stel. Navorsing dui daarop dat “niks anders ’n kind meer motiveer om te leer as ’n ouer se invloed nie”, sê die boek Eager to Learn—Helping Children Become Motivated and Love Learning. Daardie invloed lewer selfs beter resultate wanneer ouers met onderwysers saamwerk. “Samewerking tussen ’n ouer en onderwyser is die kragtigste invloed waardeur ’n kind opnuut gemotiveer kan word om te leer”, sê die boek.

Ouers beïnvloed ook hulle kinders se leervermoë. In ’n langtermynstudie onder 43 gesinne waaroor daar in die boek Inside the Brain verslag gedoen is, het navorsers “gevind dat kinders met wie daar [gedurende hulle eerste drie lewensjare] die meeste gepraat is, opmerklik hoër IK’s gehad het as kinders wie se ouers nie veel met hulle gepraat het nie”. Die boek voeg by dat “ouers wat die meeste met hulle kinders praat, geneig is om die kinders vir hulle prestasies te prys, hulle vrae te beantwoord, leiding eerder as bevele te gee en baie verskillende woorde in ’n verskeidenheid kombinasies te gebruik”. As jy ’n ouer is, kommunikeer jy gereeld en sinvol met jou kinders?

Liefde is goedhartig en toon begrip

Kinders se vermoëns en aanlegte verskil. Ouers sal natuurlik nie wil toelaat dat hierdie verskille ’n uitwerking het op die liefde wat hulle betoon nie. Maar vandag word mense dikwels beoordeel volgens hulle vermoëns, wat daartoe kan lei dat party kinders “mededingende prestasies as ’n toets van hulle eiewaarde begin beskou”, volgens die boek Thinking and Learning Skills. Behalwe dat sulke kinders as gevolg van hierdie beskouing “te maklik deur mislukking bedreig word”, kan dit ook oormatige angs en spanning veroorsaak. Volgens die tydskrif India Today word angstigheid weens akademiese druk en ’n gebrek aan gesinsondersteuning as ’n sleutelfaktor beskou in die drievoudige toename in Indië se tienerselfmoordsyfer gedurende die afgelope 25 jaar.

Dit kan ook tot emosionele skade lei as kinders “dom” of “onnosel” genoem word. Sulke wrede aanmerkings spoor kinders nie aan om te leer nie; inteendeel, dit belemmer die leerproses. Maar ’n ouer se liefde moet altyd goedhartig wees en ’n kind se natuurlike begeerte om te leer, koester—en teen die kind se eie spoed, sonder vrees dat hy verneder sal word (1 Korintiërs 13:4). As ’n kind ’n leerprobleem het, probeer liefdevolle ouers hom help, en hulle laat die kind nooit voel dat hy onnosel of niks werd is nie. Dit sal weliswaar geduld en takt vereis, maar dit is beslis die moeite werd. Hoe kweek ’n mens sulke liefde aan? Eerstens is dit belangrik om ’n geestelike uitkyk te hê.

’n Geestelike uitkyk gee balans

Daar is ’n aantal redes waarom geestelikheid wat op die Bybel gebaseer is, van groot waarde is. Om maar een ding te noem, dit help ons om die regte beskouing van sekulêre opvoeding te hê, sodat ons dit as belangrik maar nie as die allerbelangrikste beskou nie. Wiskunde het byvoorbeeld talle praktiese gebruike, maar dit kan ’n mens nie ’n sedelike, beginselvaste persoon maak nie.

Die Bybel moedig ons ook aan om gebalanseerd te wees in die hoeveelheid tyd wat ons aan sekulêre studies wy en sê: “Aan die maak van baie boeke kom geen einde nie, en groot toewyding daaraan is vermoeiend vir die vlees” (Prediker 12:12). Ja, kinders moet ’n goeie basiese skoolopleiding ontvang, maar dit moenie al hulle tyd in beslag neem nie. Hulle moet ook tyd hê vir ander heilsame bedrywighede, veral geestelike bedrywighede, wat die innerlike mens opvoed.

Nog ’n aspek van geestelikheid wat op die Bybel gebaseer is, is beskeidenheid (Miga 6:8). Beskeie mense aanvaar hulle beperkings, en hulle word nie beïnvloed deur die verterende ambisie en genadelose wedywering wat in baie onderwysinrigtings so algemeen is nie. Hierdie onheilsame eienskappe “is ’n kombinasie wat tot depressie kan lei”, sê India Today. Hetsy ons jonk of oud is, ons vaar baie beter wanneer ons op die geïnspireerde raad van die Bybel ag slaan: “Laat ons nie egotisties word en wedywering met mekaar aanwakker en afgunstig op mekaar wees nie.” “Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”—Galasiërs 5:26; 6:4.

Hoe kan ouers hierdie beginsels toepas wanneer dit by hulle kinders se opvoeding kom? Een manier is om elke kind aan te moedig om persoonlike doelwitte te stel en sy prestasies met sy eie te vergelyk. As jou seun byvoorbeeld onlangs ’n wiskunde- of speltoets geskryf het, kan jy hom aanmoedig om die uitslag met dié van ’n vorige toets te vergelyk. Prys hom dan of moedig hom andersins aan. So help jy hom om bereikbare doelwitte te stel, om sy vooruitgang te monitor en om te werk aan gebiede wat aandag nodig het, maar sonder om hom met ander te vergelyk.

Maar deesdae wil sommige skrander jongmense eerder nie goed presteer op skool nie omdat hulle bang is dat hulle gespot sal word. “Dis net nie ‘koel’ om ’n goeie student te wees nie”, is die beskouing wat sommige jongmense aanneem. Kan ’n geestelike uitkyk hulle help? Definitief! Kyk na Kolossense 3:23, wat sê: “Wat julle ook al doen, doen dit heelhartig, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie” (The New English Bible). Kan jy aan ’n beter rede dink om hard te werk as om God te behaag? Hierdie edele uitkyk gee ’n mens die krag om onheilsame portuurdruk te weerstaan.

Leer kinders om lief te wees vir lees

Lees en skryf is onontbeerlik vir ’n goeie opvoeding—sekulêr sowel as geestelik. Ouers kan ’n liefde vir die geskrewe woord by hulle kinders aankweek deur van kleins af vir hulle te lees. Daphne, wat as ’n proefleser werk, is bly dat haar ouers gereeld vir haar gelees het toe sy nog ’n kind was. “Hulle het ’n liefde vir die geskrewe woord in my aangewakker”, verduidelik sy. “Ek kon dus lees voordat ek skool toe gegaan het. My ouers het my ook geleer om navorsing te doen sodat ek antwoorde op my eie vrae kon vind. Hierdie opleiding is tot vandag toe nog van onskatbare waarde.”

Aan die ander kant waarsku Holt, wat vroeër aangehaal is, dat dit nie “’n soort wonderpil” is om vir kinders te lees nie. Hy voeg by: “As die leesondervinding nie vir die ouer of vir die kind lekker is nie, sal dit meer kwaad as goed doen. . . . Selfs kinders wat dit geniet as iemand hardop vir hulle lees . . . , hou nie daarvan as die ouers nie daarvan hou nie.” Holt stel dus voor dat ouers boeke kies wat ook hulle geniet, aangesien die kinders dalk sal wil hê dat die boeke baie keer vir hulle gelees moet word! Twee boeke wat miljoene ouers in alle wêrelddele graag vir hulle kinders lees, is Leer by die Groot Onderwyser en My boek met Bybelverhale, wat albei deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Hierdie publikasies, wat spesifiek vir kinders voorberei is, het baie prente, help hulle om te dink en leer hulle goddelike beginsels.

Timoteus, ’n eerste-eeuse Christen, was bevoorreg om ’n ma en ’n ouma te hê wat aktiewe belangstelling getoon het in sy opvoeding, veral sy geestelike opvoeding (2 Timoteus 1:5; 3:15). Timoteus het ’n besonder verantwoordelike en betroubare volwassene geword—eienskappe wat sekulêre opleiding alleen nie by iemand kan inboesem nie (Filippense 2:19, 20; 1 Timoteus 4:12-15). Danksy liefdevolle, geestelikgesinde ouers is daar vandag wêreldwyd in gemeentes van Jehovah se Getuies talle voorbeeldige jongmense—seuns en dogters—soos Timoteus.

Onderrig met entoesiasme!

Vir ’n onderwyser wat ’n liefde vir leer by ander wil inboesem, “kan dit in een woord opgesom word, entoesiasme”, sê die boek Eager to Learn. “Deur hulle blote teenwoordigheid sê entoesiastiese onderwysers vir hulle studente dat wat hulle vir ander leer, vir hulle belangrik is, en hierdie gesindheid straal behoorlik uit hulle uit.”

Maar in werklikheid loop nie elke ouer en onderwyser oor van entoesiasme nie. Verstandige studente probeer dus om selfgemotiveerd te wees, om studie as hulle eie verantwoordelikheid te beskou. “Niemand”, sê die bogenoemde boek, “gaan [immers] vir die res van ons kinders se lewe langs hulle sit en hulle help om te studeer, om werk van goeie gehalte te lewer, om te dink en om die ekstra moeite te doen wat nodig is om uitstekende vaardighede te ontwikkel nie.”

Dit plaas weer eens die klem, nie soseer op die skool nie, maar op die huis en die waardes wat kinders daar leer. Ouers, is julle entoesiasties oor julle kinders se onderrigting? Voorsien julle huis ’n heilsame milieu om in te leer, een waarin geestelike waardes beklemtoon word? (Efesiërs 6:4). Onthou, julle voorbeeld sowel as julle onderrigting sal ’n uitwerking op julle kinders hê lank nadat hulle die skool en die huis verlaat het.—Sien die venster “Gesinne wat ’n sukses daarvan maak om te leer”, op bladsy 7.

Mense leer op verskillende maniere

Elke mens se verstand is uniek; elkeen het sy eie manier van leer. Wat vir een persoon goed werk, werk dalk vir iemand anders nie so goed nie. Gevolglik sê dr. Mel Levine in sy boek A Mind at a Time: “As ’n mens alle kinders eenders behandel, behandel jy hulle in werklikheid onregverdig. Wanneer dit kom by die manier waarop kinders leer, het verskillende kinders verskillende behoeftes; hulle het die reg om te verwag dat daar in hulle behoeftes voorsien moet word.”

Byvoorbeeld, party mense verstaan en onthou begrippe beter wanneer hulle prente of diagramme sien. Ander verkies die geskrewe woord of die gesproke woord—of nog beter, moontlik ’n kombinasie van die twee. “Die beste manier om iets te onthou, is om dit te verander, om die inligting op die een of ander manier te wysig”, sê Levine. “As dit visueel aangebied word, kan jy dit in jou gedagtes in woorde omskep, as dit mondelings aangebied word, kan jy dit in die vorm van ’n diagram of prent voorstel.” Hierdie benadering maak die leerproses nie net lonender nie, maar ook meer genotvol.

Jy sal natuurlik moet eksperimenteer om te sien watter metode vir jou die beste werk. Hans, ’n voltydse Christenbedienaar, het ’n Bybelstudie gehou met George, ’n bejaarde man wat slegs basiese skoolopleiding gehad het. George het dit moeilik gevind om idees te verstaan en te onthou. Hans het dus sleutelgedagtes met eenvoudige sketse probeer illustreer. “Dit was ’n keerpunt vir George”, het Hans gesê. “Trouens, hy het idees so goed begin verstaan en onthou dat hy homself verbaas het! Toe ek eers agterkom hoe sy verstand werk, het ek gevind dat hy baie slimmer is as wat ek aanvanklik gedink het. Hy het gou meer selfvertroue gekry, en hy het meer as ooit tevore na ons lesse begin uitsien.”

Jy is nooit te oud om te leer nie

“Wat die brein kan doen, hang daarvan af of dit gebruik word of nie”, sê Inside the Brain. “Dit is die wonderlikste instrument, maar dit moet gebruik word anders raak dit minder bruikbaar, en dit is gretig om nuwe vaardighede aan te leer.” Die boek sê ook: “Net soos oefening mense tot in hulle sewentiger- en tagtigerjare energiek hou, toon navorsers dat verstandelike oefening dieselfde uitwerking op bejaardes se verstande kan hê. Daar is lank gedink dat veroudering met ’n onstuitbare agteruitgang gepaardgaan wat tot verstandelike verwarring lei. Maar nuwe navorsing toon dat [dit] grotendeels ’n selfvervullende voorspelling is, gewoonlik omdat mense ophou om hulle brein in te span. En in teenstelling met wat vroeër gedink is, verloor mense nie elke dag ’n groot aantal breinselle wanneer hulle ouer word nie.” Ernstige verstandelike agteruitgang is gewoonlik ’n teken van ’n siekte, onder andere hartvatsiekte.

’n Mate van agteruitgang in die werking van ’n mens se verstand kan weliswaar in latere jare plaasvind, maar nie noodwendig ’n drastiese agteruitgang nie. Die aktiewe verstand weerstaan agteruitgang, sê navorsers—en des te meer as die persoon ook ’n goeie roetine van fisiese oefening volg. “Hoe meer ’n mens leer, hoe meer neem jou leervermoë toe. Mense wat aanhou leer, vind dit makliker om te leer”, sê die boek Elderlearning—New Frontier in an Aging Society.

Hierdie feit is toegelig in Australië tydens ’n 20 jaar lange studie van mense tussen die ouderdomme van 60 en 98. Baie van hierdie mense se intelligensiesyfer het slegs met ongeveer 1 persent per jaar gedaal. Maar “party mense, onder andere van die negentigerjariges, het glad nie agteruitgegaan nie”, sê die verslag. “Dit was gewoonlik mense wat deelgeneem het aan die gedissiplineerde leereksperimente wat behels het dat hulle ’n vreemde taal moes leer en/of moes leer om ’n musiekinstrument te bespeel.”

George, wat vroeër gemeld is, was in sy sewentigerjare toe hy God se Woord begin studeer het. So ook het Virginia, wat nou in haar tagtigerjare is, en haar oorlede man, Robert, die Bybel op gevorderde leeftyd begin studeer. Virginia sê: “Hoewel Robert feitlik blind was, het hy kort Bybeltoesprake by die Koninkryksaal gehou met behulp van sketse wat hy gememoriseer het. En ek het nooit van lees gehou nie, maar nou is ek baie lief daarvoor. Trouens, ek het vroeg vanoggend ’n Ontwaak! deurgelees.”

George, Robert en Virginia is net drie voorbeelde van talle bejaardes wat die stereotipes verkeerd bewys en goed gebruik maak van hulle verstand. Wat ’n mens in 70 of 80 jaar leer, is volgens navorsing vir die brein soos ’n druppel in die emmer—dit maak beswaarlik ’n verskil. Waarom het die brein so ’n ontsaglike leervermoë?

[Venster/Prent op bladsy 4, 5]

Die Internet en TV—Nuttig of skadelik?

“Die gebruik van die Internet het sy voor- en nadele”, sê die boek A Mind at a Time. Dit kan baie nuttig wees om te leer hoe om inligting te vind, maar sommige studente, verduidelik die boek, “laai [eenvoudig] inligting af sonder dat hulle dit werklik verstaan of verwerk. Ongelukkig kan die proses dus ’n nuwe vorm van passiewe leerdery word of moontlik selfs ’n manier word om te leer hoe om plagiaat te pleeg.”

Volgens navorsers kan oormatige TV-kykery die vermoë belemmer om probleme op te los en te luister, die verbeelding afstomp, en verder dra dit glad nie by tot karaktervorming nie. “Soos sigarette moet televisiestelle ook verkoop word met ’n gedrukte waarskuwing daarop oor die gevare wat dit vir ’n mens se gesondheid inhou”, sê die boek Eager to Learn.

Wat kinders die meeste nodig het, sê ’n ander naslaanwerk, is “blootstelling aan taal (in die vorm van leesstof en gesprekke), liefde en baie liefdevolle drukkies”.

[Venster/Prente op bladsy 7]

Gesinne wat ’n sukses daarvan maak om te leer

Die volgende gewoontes en kenmerke kan jou gesin help om ’n sukses daarvan te maak om te leer:

◼ Die kinders hoor gereeld dat daar hoë maar redelike verwagtinge van hulle gekoester word; dit word op ’n liefdevolle wyse gedoen

◼ Die beskouing dat harde werk ’n sleutel tot sukses is

◼ ’n Aktiewe eerder as onaktiewe lewenswyse

◼ Die kinders bestee elke week heelwat tyd daaraan om by die huis te leer en aan bedrywighede soos huiswerk, lees vir ontspanning, stokperdjies, gesinsprojekte, asook huishoudelike opleiding en pligte

◼ Die gesin word beskou as ’n stelsel wat wedersydse ondersteuning bied asook hulp om probleme op te los

◼ Duidelik uiteengesette huisreëls wat konsekwent toegepas word

◼ Gereelde kontak met onderwysers

◼ Klem op geestelike groei

[Prent]

Ouers, leer julle julle kinders om lief te wees vir lees?

[Erkenning]

Gebaseer op die boek Eager to Learn—Helping Children Become Motivated and Love Learning.

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

Maniere om die leerproses te verbeter en genotvoller te maak

Stel belang in wat jy leer As jy in iets verdiep is, is dit makliker om dit te leer. Die boek Motivated Minds—Raising Children to Love Learning sê die volgende: “Navorsers het oortuigende bewys gelewer dat die leerproses deegliker is, meer betekenisvol is en ’n blywender indruk laat wanneer kinders studeer omdat hulle dit geniet. Hulle het ook meer deursettingsvermoë, is meer skeppend en is gretiger om werk te doen wat ’n uitdaging bied.”

Sien hoe dit met die lewe verband hou Die skrywer en opvoedkundige Richard L. Weaver II skryf: “Wanneer daar ’n direkte verband is tussen wat in die klaskamer geleer word en jou praktiese ervaring, is daar ’n elektriese vonk wat die gloeilamp van begrip aanskakel.”

Probeer verstaan Wanneer mense iets probeer verstaan, word hulle denkvermoë sowel as hulle geheue gestimuleer. Daar is dinge wat van buite geleer moet word, maar dit is beslis nie ’n plaasvervanger vir begrip nie. “By alles wat jy verwerf, verwerf begrip. Ag dit hoog, en dit sal jou verhef”, sê Spreuke 4:7, 8.

Konsentreer “Konsentrasie is ’n onontbeerlike deel van die leerproses”, verduidelik die boek Teaching Your Child Concentration. “[Dit] is so belangrik dat dit al ’n onmisbare vereiste vir intelligensie genoem is en selfs al met intelligensie gelykgestel is.” Kinders kan geleer word om te konsentreer. ’n Belangrike manier om dit te doen, is om met kort studieperiodes te begin en dit dan geleidelik te verleng.

Parafraseer “Die beste studente is dié wat inligting die beste kan parafraseer”, sê dr. Mel Levine in sy boek A Mind at a Time. Met parafrasering omskep ’n mens die inligting in kleiner en meer hanteerbare brokkies, wat dit makliker maak om te onthou. Mense wat weet hoe om aantekeninge te maak, pas hierdie beginsel toe deur nie alles woord vir woord neer te skryf nie.

Maak assosiasies In The Brain Book vergelyk Peter Russell herinneringe met hake wat aan vroeëre herinneringe hang. Kortom, ’n mens se geheue verbeter wanneer jy nuwe inligting duidelik assosieer met wat jy reeds weet. Hoe meer assosiasies jy maak, hoe beter onthou jy.

Visualiseer Helder beelde is blywend. Visualiseer inligting dus waar moontlik. Deskundiges op die gebied van die geheuekuns gebruik hierdie tegniek, en hulle stel hulle dinge dikwels op oordrewe of humoristiese wyse voor as ’n geheuehulp.

Hersien Ons kan binne 24 uur tot 80 persent van wat ons gestudeer het, vergeet. As ons ná ’n studiesessie ’n kort hersiening doen, en die inligting dan weer ’n dag, ’n week, ’n maand en selfs ses maande later hersien, onthou ons aansienlik meer en sal ons selfs tot na aan 100 persent van die inligting onthou.

[Prente op bladsy 8]

Ouers en onderwysers moet saamwerk om kinders te help om te leer

[Prente op bladsy 10]

’n Mens kan ten spyte van die ouderdom aanhou leer