Laventel—’n Gawe aan die sintuie
Laventel—’n Gawe aan die sintuie
Deur Ontwaak!-medewerker in Australië
KONINGIN ELIZABETH I van Engeland het beveel dat ’n geursel wat daarvan gemaak is, op die koninklike tafel gesit moes word. Karel VI van Frankryk het op kussings gesit wat daarmee opgestop is. Koningin Victoria van Engeland het daarin gebad. Waaroor was hierdie koninklikes so gaande? ’n Geurige struik wat laventel genoem word. Enigiemand wat al ooit deur ’n pers see van laventel omring was, sal verstaan waarom soveel mense in vervoering raak oor hierdie aromatiese plant.
Daar is meer as 30 soorte laventel. Hierdie geharde bossie floreer in uiteenlopende klimaatstoestande, van die koel lug van die Franse Alpe tot die droë hitte van die Midde-Ooste. Die plant se botaniese naam Lavandula kom van die Latynse werkwoord lavare, wat “om te was” beteken. Dit het sy oorsprong by ’n gebruik van die antieke Romeine, wat hulle badwater met laventelolie gegeur het.
’n Eeue oue tonikum
Laventel word al byna 2 000 jaar lank vir mediese doeleindes gebruik. Gedurende die Middeleeue was dit ’n hoofbestanddeel van ’n konkoksie wat as four thieves vinegar bekend gestaan het en as ’n middel teen die pes gebruik is. Die konkoksie het waarskynlik sy naam gekry as gevolg van die feit dat grafrowers wat in die besittings van pesslagoffers rondgekrap het, hulle met hierdie laventeloplossing gewas het. Ondanks die gevaar waaraan hulle blootgestel is, lyk dit asof hulle selde die siekte opgedoen het.
Kruiedokters van die 16de eeu het beweer dat laventel nie net ’n doeltreffende middel teen verkoue en hoofpyn is nie, maar ook verlamming van die ledemate en senuweesiektes kan genees. Hulle het ook geglo dat ’n mens intelligenter sal word as jy ’n mussie dra wat van laventel gemaak is. Selfs nog tydens die Eerste Wêreldoorlog het sommige regerings hulle burgers gevra om laventel uit hulle tuine bymekaar te maak sodat die olie wat daaruit verkry is, gebruik kon word om die soldate se wonde te behandel.
’n Ondersoek van tradisionele behandelingsmetodes
Dit wil voorkom of party laventelolies, veral Lavandula angustifolia, ’n uitwerking
op ’n hele paar soorte bakterieë en swamme het. Sommige navorsers het aan die hand gedoen dat laventelolie nuttig kan wees vir die behandeling van bakteriese infeksies wat bestand is teen antibiotika. “Laventelolie word ook op verskillende maniere in die verloskunde gebruik”, sê een onlangse verhandeling. “In ’n omvattende kliniese proefneming het al die moeders wat laventelolie [in hulle badwater] gebruik het, gesê dat hulle 3 tot 5 dae ná hulle bevalling minder ongemak verduur het . . . Laventelolie word tans ook in baie kraamkamers gebruik omdat dit oor die algemeen ’n kalmerende uitwerking het.”Wat van koningin Elizabeth se voorliefde vir laventel? Kan ’n mens werklik laventel eet? “Laventel was tydens die Tudor- en Elizabethaanse tydperk in Engeland ’n gunstelinggeursel in die kookkuns en is as ’n bykos saam met wildsvleis, gebraaide vleis en vrugteslaaie bedien, oor soet disse gesprinkel of as ’n lekkerny op sy eie geniet”, sê Judyth McLeod in haar boek Lavender, Sweet Lavender. Vandag word party soorte laventel gebruik om beskuitjies, koeke en roomys te geur. Maar nie alle soorte is eetbaar nie—veral nie vir insekte nie. Trouens, “laventelolie of verpoeierde laventelblare en -blomme kan ook nuttig wees as kommersiële . . . sowel as huishoudelike plaagdoders, aangesien laventel myte, graankalanders, plantluise en kleremotte verdryf”, sê ’n studie.
Toenemende aanvraag
In onlangse dekades het laventel weer gewild begin word. Dit word nou in Australië, Europa, Japan, Nieu-Seeland en Noord-Amerika gekweek. “Laventel is soos wyn”, sê Byron, ’n jong tuinboukundige wat na tien hektaar laventel in die suidooste van Victoria, Australië, omsien. “Olie wat van dieselfde soort laventel gemaak word, sal van streek tot streek verskil, aangesien die grond en klimaat waarin die laventel groei, ’n uitwerking daarop het. Selfs die tydsberekening en oesmetode kan ’n uitwerking op die finale produk hê.”
Anders as wyn word laventelolie nie verkry deur persing nie, maar deur stoomdistillasie. Byron verduidelik: “Sowat 250 kilogram laventel is nodig om een liter olie te verkry. Die vars gesnyde blomme, stingels en blare word stewig in ’n groot staaldrom ingedruk. Stoom word in die onderkant van die houer ingepomp, en terwyl dit deur die plantdele styg, stel dit die olie vry. Die stoom en olie gaan deur ’n kondensator tot in ’n pot, waar die olie van die water skei en tot op die oppervlak dryf. Die olie word verwyder en in houers bewaar wat met keramiek uitgevoer is, waar dit ’n paar maande lank gelaat word om te verouder.”
Die laventelolie van Byron se plaas word in seep, room en kerse gebruik. Vars gesnyde of droë blomme word verkoop, en die blomhofies is ’n gesogte bestanddeel van potpourri. Duisende toeriste kom elke jaar om laventellekkernye te proe en die geure en die prag van die laventelvelde te geniet. Byron sê dikwels vir hierdie waarderende besoekers: “Ons maak nie die olie nie; ons ekstraheer dit net. Die Maker van laventel is die Een wat die plant as ’n gawe aan ons sintuie voorsien het.”
[Venster op bladsy 11]
Drie soorte laventelolie word kommersieel vervaardig
Egte laventelolie word verkry uit ’n soort laventel wat as “Lavandula angustifolia” bekend staan. In teenstelling met die olies wat hieronder genoem word, ruik dit net effens of glad nie na kanfer nie. Omtrent 200 ton hiervan word jaarliks vervaardig.
Breëblaarlaventelolie is afkomstig van die plant “Lavandula latifolia”. Tot 200 ton daarvan kan in ’n jaar vervaardig word.
Lavandinolie is afkomstig van laventel wat verkry word deur die bogenoemde twee plantsoorte te kruis. Meer as duisend ton hiervan word elke jaar wêreldwyd verkoop.
[Prent op bladsy 10]
Op baie plase gebruik hulle nog steeds tradisionele metodes om die laventel te oes
[Prent op bladsy 10]
Laventelolie word in groot distilleerderye geëkstraheer
[Prent op bladsy 10]
Laventelolie word verouder in staalpotte wat met keramiek uitgevoer is, voordat dit in verskeie produkte gebruik word