Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N Herinnering aan die magtige Romeinse Ryk

’N Herinnering aan die magtige Romeinse Ryk

’N Herinnering aan die magtige Romeinse Ryk

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DUITSLAND

Wat is oor die 1 900 jaar oud, meer as 500 kilometer lank en een van die indrukwekkendste geskiedkundige monumente van die Romeinse Ryk in Sentraal-Europa? Die antwoord: die “limes”.

DIE limes is die versamelnaam vir ’n groep vestings wat die Romeine gebou het om hulle noordelike grens teen Germaanse stamme te probeer beveilig. Vandag getuig hierdie vestings van die mag van die ou Romeinse Ryk.

Die oorspronklike betekenis van die Latynse woord limes is ‘’n mensgemaakte pad wat deur ’n gebied loop en dit in twee verdeel’. Die limes is as ’n pad gebou. In die begin was dit nie bedoel om ’n grens te wees nie. Maar nadat die limes gebou is, het dit ’n grens geword. Die oprigting daarvan was ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis van die Romeinse Ryk.

Waarom is die limes gebou?

Die Germaanse stamme anderkant die noordelike grens van die Romeinse Ryk—’n gebied wat soms die barbaricum genoem is—was Rome vyandiggesind. In daardie gebied het stamme soos die Chatti dikwels strooptogte oor die grens onderneem. Die Chatti was verwoede vegters, en daarom sou ’n militêre veldtog teen hulle baie gekos het.

Die Romeinse leër het nie die barbaricum probeer binneval nie, maar het eerder die limes daardeur gebou sodat dit ’n deurgang gevorm het wat met ’n hoek tussen die Ryn en die Donau geloop het, deur onoorwonne gebied. Hierdie deurgang is plek-plek tussen digte bosse deur gekap. Soldate het dit gepatrolleer, wat dit redelik veilig vir reisigers gemaak het.

Die Romeine het eers net ’n breë pad gemaak. Later is houttorings met plek vir soldate langs die pad gebou. Elke toring was binne sigafstand van die volgende een. Daar is ook ’n 2,7 meter hoë spitspaalheining van hout langs die pad opgerig. Daarna is ’n wal en loopgraaf gemaak. Op party plekke is ’n klipmuur en klipwagtorings bygevoeg.

In afgeleë gebiede is meer forte gebou vir die soldate om in te bly. Teen die derde eeu G.J. was die limes-grens in Duitsland uiteindelik meer as 500 kilometer lank. Dit het 60 groot vestings en talle kleiner forte ingesluit. En wagte het van ten minste 900 wagtorings af op patrollie uitgegaan. Party mense sê dat hierdie torings drie verdiepings, tot 10 meter, hoog was.

Kunsmatige grens

Wat as ’n pad deur vyandsland begin het, het dus ’n kunsmatige grens geword. Die limes-grens het verder as Duitsland gestrek tot in wat nou Nederland is, tot by die Noordseekus. En in Romeinse Engeland is Hadrianus se muur en die Antonynse muur gebou om die grens te beveilig teen die Caledoniese stamme wat gewoon het in wat nou Skotland is.

Die bedoeling was nooit dat die limes die grens heeltemal moes afsluit nie. Poorte is gebou sodat die bevolking van die barbaricum oor die limes tot in die Romeinse provinsies Raetia en Germania Superior kon kom. Dit het hulle die geleentheid gegee om handel te dryf.

Die limes lewer bewys van ’n belangrike ommekeer in die Romeinse beleid. T. W. Potter skryf: “Die idee dat die ryk bepaalde grense sou hê, was baie eeue lank vir die Romeine feitlik ondenkbaar.” Die grens was dus “die begin van ’n besliste beleidsverandering, van uitbreiding tot beperking”.

Hoeveel is nog oor?

Teen die derde eeu het die lang, stadige verval van die ryk reeds begin. Die leër het uiteindelik die limes-grens verlaat. Die vestings het verval; die klip en hout is vir ander doeleindes gebruik. Die grens van een van die magtigste ryke wat die wêreld nog gesien het, was gou toegegroei en verwaarloos en het geleidelik vergete geraak.

Maar teen die einde van die 19de eeu was daar toenemende belangstelling in Romeinse geskiedenis en tradisie in Duitsland. Sedertdien is kort dele van die limes se loopgraaf, wal en muur herstel, asook ’n paar forte en wagtorings. Maar groot dele is nog nie herstel nie, en dit is skaars herkenbaar.

Een van die mooiste herboude forte is Saalburg in die Taunusgebied, sowat 40 kilometer van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Duitsland. Die fort is 147 meter breed en 221 meter lank en word deur ’n grag en ’n klipmuur met wagtorings omring. Sowat 500 soldate het aanvanklik daar gebly. In die middel van die fort is die belangrikste gebou, die hoofkwartier, of principia.

Agter in die principia is ’n heiligdom waar die vaandel gehou is. Die boekie Limeskastell Saalburg (Limes-fort Saalburg) sê: “Die heiligdom vir die vaandel is aan die beskermgode van die Romeinse Ryk en aan keiseraanbidding toegewy. Bedags het ’n erewag voor die heiligdom geparadeer.” Die herstelde dele van die limes bevestig dus dat godsdiens ’n rol gespeel het in die lewe van soldate.

Sedert hierdie herstelwerk gedoen is, het die limes-grens ’n gewilde toeriste-aantreklikheid geword. Op baie plekke is die roete waarlangs die limes geloop het nou ’n wandelpad vir stappers. As jy Duitsland besoek, kan jy gerus self kom kyk. Jy sal ’n treffende herinnering sien dat selfs die magtigste menseryke die een of ander tyd sal agteruitgaan en verdwyn.

[Venster/Prent op bladsy 15]

DIE LEWE VAN ’N ROMEINSE SOLDAAT

Die Romeinse leër het bestaan uit legioensoldate, wat Romeinse burgers was, en hulptroepe (auxilia), wat gewerf is uit volke wat deur die ryk verower is. Die leër se kleinste eenheid was die contubernium, wat bestaan het uit ongeveer tien soldate wat saamgewoon het. Aan die hoof van tien contubernia het ’n offisier, die hoofman oor honderd (centurio), gestaan. Sestig centuriae het ’n legioen uitgemaak, waarin daar altesaam ongeveer 4 500 tot 7 000 soldate was.

“Die geheim van ’n leër se sukses is sy kos”, het Napoléon Bonaparte gesê. Rome het dit lank voor Napoléon besef en het sy troepe goeie kos gegee. “Daar was nooit ’n opstand in die Romeinse leër weens slegte kos nie”, sê Archäologie in Deutschland. Trouens, “in party dele van die Romeinse wêreld was die troepe se kos beter as die burgerbevolking s’n”.

Daaglikse rantsoene het uit vars vleis, vrugte, groente, koringbrood en olie bestaan. Maar die soldate is nie bederf nie. “Die Romeinse leër het nie ’n kafeteria gehad nie”, verduidelik die bogenoemde tydskrif. Elke contubernium moes vir die soldate in daardie groep kos maak.

Ná 25 jaar se krygsdiens is ’n Romeinse soldaat, ter erkenning van sy diens, ’n eervolle ontslag en ’n bedrag geld of ’n stuk grond gegee. ’n Hulpsoldaat het Romeinse burgerskap gekry, vir hom sowel as sy kinders. “Diens in die Romeinse leër was vir baie mans die vinnigste manier om ’n Romeinse burger te word”, sê die boek Der Limes zwischen Rhein und Main (Die Limes tussen Ryn en Main).

[Kaart/Prente op bladsy 16, 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

HERBOUDE LIMES IN DUITSLAND

—— “Limes”-grens

1 Wiesbaden

Spitspaalheining en ’n klipwagtoring

2 Weissenburg

Noordelike poort van ’n klipfort

3 Butzbach

Wagtoring met houtraam en kleimure

4 Saalburg

Een van die mooiste herboude forte

5 Rainau

Houttoring en ’n spitspaalheining

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.