Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Toring van Londen—’n Historiese herinnering aan ’n stormagtige verlede

Die Toring van Londen—’n Historiese herinnering aan ’n stormagtige verlede

Die Toring van Londen—’n Historiese herinnering aan ’n stormagtige verlede

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

EEN van die bekendste monumente in die wêreld—die Toring van Londen—troon bo die Teemsrivier in die oostelike deel van Londen uit. Bykans duisend jaar lank het hierdie groot vesting, paleis en gevangenis ’n belangrike rol in Engeland se stormagtige verlede gespeel. Konings, koninginne, howelinge, kerkmanne, politici en regters het al deur sy hekke gegaan—sommige het in triomf uitgekom, ander is nooit weer lewendig gesien nie. Waarom is die Toring gebou, en watter menslike dramas wat daarin afgespeel het, het die verloop van Engeland se geskiedenis beïnvloed?

’n Koninklike vesting

Nadat hertog Willem van Normandië Engeland in 1066 ingeval het, het hy etlike kastele opgerig om die vyandige Angel-Saksers te intimideer. Die sterkste van hierdie vestings was in die stad Londen. Die houtfort wat oorspronklik in die suidoostelike hoek van die ou Romeinse muur opgerig is, is gou deur ’n ontsaglike klipstruktuur, die Groot Toring, vervang. Dit was ’n min of meer vierkantige struktuur van 32 by 36 meter wat 27 meter die lug ingetoring het, en het vrees by die plaaslike inwoners ingeboesem. Toe ’n latere koning dit laat wit verf het, het dit as die Wit Toring bekend gestaan.

Daaropvolgende konings het torings van verskillende groottes bygevoeg, asook twee enorme omringende mure en ’n diep grag, wat die kompleks een van die mees ondeurdringbare vestings in Europa gemaak het. Trouens, soms moes konings agter die mure skuiling soek om hulle oproerige onderdane te ontvlug. Tydens burgeroorloë was die seëvierende kant die een wat beheer oor die Toring gekry het, wat as ’n simbool van mag en gesag beskou is. In vreedsamer tye het indrukwekkende kroningsdagoptogte daar begin. Wanneer die koning en sy gevolg daar gebly het, het hulle in ryklik versierde paleisvertrekke gebly, waar hulle hulle vriende tydens swierige feesmaaltye onthaal het. Die koning se vyande is egter ietwat anders ontvang.

Staatsgevangenis

Die Toring se eerste gevangene is in 1100 daar opgesluit, maar dit was ’n tronk met ’n verskil. Net belangrike mense van stand is daar gevange gehou. Onder hierdie hooggeplaaste gevangenes was verslane konings van Skotland en Frankryk sowel as lede van die adelstand en kerkleiers wat die guns van die koning verloor het of verraad gepleeg het. Van tyd tot tyd was daar teregstellings en selfs moorde. Hendrik VI is in die Toring vermoor, asook die 12-jarige Eduard V en sy jonger broer.

Gevangenes is aangehou waar daar ook al plek was en hulle was óf onder streng bewaking toegesluit óf toegelaat om binne die kasteelmure rond te loop. Sommige vonnisse was kort, ander was weer lank. William Penn, wat later die stigter van die Amerikaanse kolonie Pennsilvanië geword het, is agt maande lank weens sy godsdiensopvattings gevange gehou. Nadat die Franse koning se broerskind, Karel, die hertog van Orléans, op die slagveld verslaan is, is hy oor ’n tydperk van 25 jaar van tyd tot tyd daar gevange gehou totdat ’n ontsaglike losprys betaal is. Die howeling, ontdekkingsreisiger en skrywer sir Walter Raleigh het 13 lang jare die tyd verdryf deur sy boek History of the World te skryf, voordat hy tydelik vrygelaat en uiteindelik tereggestel is.

Teregstellings neem toe

Die Toring se reputasie as ’n plek waar gevangenes hardhandig behandel is, dateer eintlik uit die tyd van die Hervorming. Hendrik VIII, by wie dit ’n obsessie was om ’n manlike troonopvolger te kry, het weggebreek van die Rooms-Katolieke Kerk en mense begin teregstel wat hom nie as die hoof van die Anglikaanse Kerk wou erken nie. Hendrik se tweede vrou, Anna Boleyn, kon nie ’n seun voortbring nie en is vir beweerde verraad en egbreuk in die Toring onthoof, tesame met haar broer en vier ander. Catherine Howard, Hendrik se vyfde vrou, het dieselfde lot gedeel. Daarbenewens is baie adellikes met koninklike bloed, wat gevolglik ’n bedreiging vir die troon was, in die Toring gevange gehou en tereggestel.

Toe Hendrik se jong seun, die Protestant Eduard VI, koning geword het, het hy met die wrede teregstellings voortgegaan. Hy het binne ses jaar gesterf en is opgevolg deur Hendrik se dogter Maria, ’n ywerige Rooms-Katoliek. Sy het sonder meer die 16-jarige lady Jane Grey en haar jong man, pionne in die magstryd, laat onthoof. Nou was dit Protestantse vyande wat gesterf het. Maria se halfsuster Elizabeth het etlike benoude weke in die Toring deurgebring voordat sy vrygelaat is, maar toe sy self koningin geword het, het sy diegene wat geweier het om van hulle Katolieke geloof af te sien of wat haar bewind teëgestaan het, gevange geneem en tereggestel.

Hoewel duisende in die Toring gevange gehou is, is net vyf vroue en twee mans binne sy mure onthoof en sodoende die vernedering van ’n openbare teregstelling gespaar. Drie van die vroue was koninginne—Anna Boleyn, Catherine Howard en Jane Grey, nadat sy net nege dae lank regeer het. Die meeste van die ander teregstellings, wat gewoonlik onthoofdings was, het op die nabygeleë Toringheuwel plaasgevind en is deur groot, rumoerige skares aanskou. Die afgekapte kop is op ’n pen gesit en as ’n waarskuwing aan ander op London Bridge vertoon, en die koplose liggaam is na die Toring teruggeneem en onder ’n kapelvloer begrawe. Uiteindelik is meer as 1 500 lyke daar begrawe.

Soms is gevangenes gemartel om bekentenisse af te dwing, maar gewoonlik net met amptelike goedkeuring. In 1605 is Guy Fawkes, wat die koning en die parlement in die Buskruitsameswering probeer opblaas het, op die Toring se pynbank gerek om hom te dwing om die name van sy medepligtiges bekend te maak voordat hy tereggestel is.

Vir ’n kort tydjie in die 1600’s het Engeland en die Toring onder die beheer van Oliver Cromwell en die Parlementariërs gekom, maar nadat Karel II op die troon herstel is, is minder gevangenes na die Toring gestuur. In 1747 het die laaste onthoofding op Toringheuwel plaasgevind, maar die Toring se rol as staatsgevangenis was nie heeltemal verby nie. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is 11 Duitse spioene daar opgesluit en deur ’n vuurpeloton tereggestel. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is krygsgevangenes, insluitende Rudolf Hess, Hitler se onderkanselier, ’n kort rukkie daar aangehou. Die laaste slagoffer wat daar gesterf het, was die spioen Joseph Jakobs, wat in Augustus 1941 geskiet is.

Die koninklike lyfwag en die kroonjuwele

Gevangenes sowel as die geboue is van die begin van die Toring se geskiedenis deur wagte bewaak. Maar die uitgesoekte koninklike lyfwag kan hulle bestaan tot 1485 terugvoer. In daardie dae het gevangenes dikwels met die rivier langs by die Toring aangekom en deur die Verraaierspoort ingegaan. Wanneer die beskuldigde van sy verhoor teruggekom het, het toeskouers gekyk om te sien na watter kant die tronkbewaarder sy byl gehou het. As die lem na die gevangene gedraai was, was dit ’n teken dat nog ’n teregstelling sou plaasvind.

Vandag word die Toring nog steeds deur koninklike lyfwagte bewaak, maar hulle dien as goed ingeligte gidse vir al die besoekers. Gedurende seremoniële geleenthede dra hulle hulle pragtige Tudor-uniforms wat ’n skarlakenrooi-en-goud baadjie met ’n hoë wit plooikraag insluit, maar vir gewone pligte dra hulle hulle vlootblou-en-rooi Victoriaanse uniforms. Koninklike lyfwagte staan oor die algemeen bekend as beefeaters, ’n bynaam wat waarskynlik gedurende hongersnode as ’n skeldnaam ontstaan het. Terwyl die Londenaars honger gely het, het die koninklike lyfwagte altyd hulle rantsoen beesvleis gekry om seker te maak dat hulle aan die kroon lojaal bly.

Een van die koninklike lyfwagte is verantwoordelik vir die Toring se groot rawe. Volgens bygeloof sal Engeland deur rampspoed getref word as die voëls ooit die Toring verlaat en daarom word hulle vlerke gereeld geknip.

Wagte by die Jewel House bewaak die beroemde Britse kroonjuwele, wat al van die 17de eeu af ten toon gestel word. Die grootste geslypte diamant van hoë gehalte in die wêreld, die Cullinan I, is een van die kosbare stene in die krone, ryksappels en septers wat nog steeds deur die koninklike familie gebruik word.

Dieretuin, munt en arsenaal

Vroeg in die 13de eeu het koning Jan leeus in die Toring aangehou, maar die koninklike dieretuin het eintlik ontstaan toe sy opvolger, Hendrik III, drie luiperds, ’n ysbeer en ’n olifant van Europese konings ontvang het. Hoewel die diere daar was om die koning en sy hofhouding te vermaak, kon die hele Londen dit aanskou wanneer die beer aan ’n leiband in die Teems gaan swem het om vis te vang. Deur die jare heen is meer uitheemse diere bygevoeg, en van die tyd van koningin Elizabeth I af was die dieretuin oop vir die publiek. Dit is in die 1830’s gesluit toe die diere na die nuut geopende dieretuin in Regent’s Park, Londen, geskuif is.

Daar was meer as 500 jaar lank by die Toring ’n belangrike tak van die Koninklike Munt. Een van die munt se besigste tye was gedurende die bewind van Hendrik VIII, toe dit munte gemaak het van gekonfiskeerde silwer van kloosters wat kort tevore ontbind is. Belangrike staats- en regsdokumente is ook in die Toring bewaar, en krygstoerusting vir die koning en sy leër is daar vervaardig en geberg.

’n Herinnering aan die verlede

Vandag is die Toring van Londen een van Brittanje se vernaamste toeriste-aantreklikhede. Aangesien dit nog baie lyk soos dit in vroeër tye gelyk het, is dit moeilik om deur die geplaveide strate en om die somber, grys torings te loop sonder om te dink aan die verhale van geweld, lyding en menslike tragedie wat deur die eeue heen binne die Toring se mure afgespeel het. Sy onstuimige verlede word goed opgesom by die plek waar die skavot op Toringheuwel gestaan het. Daar herdenk ’n gedenkplaatjie ‘die tragiese geskiedenis, en in baie gevalle die marteldood, van diegene wat ter wille van hulle geloof, land of ideale, hulle lewe op die spel geplaas en dit verloor het’.

[Prente op bladsy 13]

Anna Boleyn

Catherine Howard

Jane Grey

William Penn

[Erkenning]

Boleyn en Howard: From the book Heroes of the Reformation, 1904; Grey: From the book The World’s Famous Events; Penn: From the book The Library of Historic Characters and Famous Events, Vol. V, 1895

[Prent op bladsy 13]

’n Vertrek in die Toring wat later vir gevangenes gebruik is

[Erkenning]

Copyright Historic Royal Palaces

[Prent op bladsy 14]

Die tronkbewaarder by die Toring

[Erkenning]

Copyright Historic Royal Palaces

[Prent op bladsy 15]

Van die kroonjuwele

[Erkenning]

Crown ©/The Royal Collection © 2004, Her Majesty Queen Elizabeth II

[Prent op bladsy 15]

’n 16de eeuse silwer muntstuk wat Hendrik VIII uitbeeld

[Foto-erkenning op bladsy 12]

Bo: © London Aerial Photo Library/CORBIS; inlas: Copyright Historic Royal Palaces