Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Slim verkleurmannetjie van die see

’n Slim verkleurmannetjie van die see

’n Slim verkleurmannetjie van die see

“Die seekat, hoe verskriklik! suig ’n man in. Hy trek hom nader, tot in sy bek; en vasgeklem, hulpeloos, voel die man hoe hy stadig ingesluk word deur daardie ongelooflike skepsel, daardie monster.”—ARBEIDERS VAN DIE SEE, DEUR VICTOR HUGO.

DIE seekat was al dikwels die teiken van slegte publisiteit. Eertydse mites en versinde stories—soos die een wat hierbo aangehaal word—het die dier onregverdig gebrandmerk.

Maar in werklikheid hou selfs die Pasifiese reuseseekat, wat omtrent ses meter lank kan word en tot 50 kilogram kan weeg, oor die algemeen geen gevaar vir mense in nie. Fabelagtige legendes oor hierdie agtpotige “monster” is in onlangse jare met feite vervang. Duikers en mariene bioloë het al baie omtrent die verskillende soorte seekatte geleer.

Hoe hy prooi vang en vyande ontwyk

Seekatte eet nie mense nie, maar lewe eerder hoofsaaklik van skaaldiere en gebruik hulle agt arms en tot 1 600 gespierde suiers om prooi mee te vang. ’n Klein seekat kan met hierdie suiers ’n voorwerp sleep wat 20 keer meer as hy weeg! Sommige seekatte spuit ook gif uit, wat hulle prooi amper onmiddellik verlam. a Die seekat eet dan deur die voedsel deur sy snawelagtige kake te trek.

Gestel die seekat besef dat ’n roofdier hom as sy prooi gekies het. Iets verbasends tel teen hom. Sy ligblou bloed, wat nie hemoglobien bevat nie, maar hemosianien, vervoer min suurstof. Gevolglik raak die seekat gou moeg. Tog het hy spesiale vaardighede om hom teen robbe, walvisse en ander roofdiere te beskerm.

Een van hierdie vaardighede is die manier waarop hy voortbeweeg. Wanneer die seekat bedreig word, swem hy vinnig agteruit deur water by sy dik mantel uit te spuit. Hierdie uitgeslape dier het nog ’n ontsnappingstaktiek. Hy kan ’n inkwolk uitspuit met ’n kleurstof wat nie in seewater verdun nie. Terwyl hy op hierdie manier versteek is, kan die seekat van rigting verander en na veiligheid vlug voordat die wolk oplos.

’n Bobaasvermommer

Die seekat verkies natuurlik om in die eerste plek nie gejag te word nie. Hoe skuil hy vir roofdiere? Die beroemde onderwaternavorser Jacques-Yves Cousteau het geskryf: “By Marseille, waar ons span die rolprent oor seekatte begin maak het, het die meeste van ons duikers gesê dat daar geen seekatte in die gebied is nie; of dat, indien hulle vroeër daar was, hulle nie meer daar is nie. In werklikheid het die duikers reg langs die seekatte verbygeswem, wat so goed gekamoefleer was dat hulle feitlik onsigbaar was.” Hoe het die seekatte dit reggekry?

’n Volwasse seekat het tot tweemiljoen chromatofore, of kleurstofselle—tot 200 per vierkante millimeter—in sy vel. Elke kleurstofsel bevat ’n rooi, geel of swart pigment. Deur die spiere rondom die selle saam te trek of te ontspan, kan die seekat binne ’n paar sekondes ’n effe kleur of selfs gekleurde patrone aanneem.

Dit is ironies dat die seekat blykbaar nie in kleur kan sien nie. Tog kan sy vel ’n baie groter verskeidenheid kleure aanneem as net die drie pigmente. Iridosiete, selle wat spieëlplaatjies bevat, breek die lig sodat die seekat se velkleur by sy omgewing inpas. Dit is nie al nie. Wanneer ’n seekat op ’n koraalrif skuil, kan hy van tekstuur verander deur sy vel, wat normaalweg glad is, te verrimpel en sodoende met ’n soortgelyke growwe oppervlak saamsmelt.

Pligsgetroue bouer en huishouer

Dit is nie verbasend dat dit moeilik kan wees om die tuiste van ’n seekat te vind nie. Hulle bou gewoonlik hulle blyplekke in skeure en onder groot rotse en gebruik plaaslike boumateriale. Die dak en mure van ’n seekat se blyplek kan dus uit klippe, stukkies metaal, skulpe en selfs oorblyfsels van skeepswrakke en seerommel bestaan.

Nadat sy huis gebou is, is die seekat ’n puntenerige huishouer. Hy spuit water om die sanderige vloer binne-in sy blyplek gelyk te maak. Ná ’n maaltyd word alle voedseloorblyfsels na buite gestoot. Cousteau se span duikers het sommige van die klippe uit die muur van ’n seekat se blyplek verwyder om te kyk hoe goed hy sy nes in stand hou. Wat het die seekat gedoen? Een klippie op ’n slag, het hy die muur stadig herbou! Cousteau het geskryf: “Die proses het aangehou totdat die muur heeltemal herbou is; en dit was identies aan die muur wat die duikers afgebreek het.” Die seekat is welbekend as ’n netjiese en ordelike huishouer. Wanneer duikers ’n blyplek sien wat opgehoopte sand of vullis in het, weet hulle dat dit onbewoon is.

Haar laaste tuiste

Die laaste en belangrikste tuiste wat ’n wyfieseekat oor die algemeen sal bewoon, is haar broeiplek. Nadat sy ’n pakkie spermselle van die mannetjie ontvang het en dit gebêre het totdat haar eiers vrygestel is, sal sy moontlik etlike weke lank na ’n gepaste tuiste soek. Dan versterk sy haar broeiplek en gom sy duisende eiers in trosse aan die dak vas. Die blouringseekat bou egter nie so ’n broeiplek nie. Aangesien haar helder kleure roofdiere waarsku om weg te bly, verkies sy om in die oop see vir haar kleintjies te sorg, waar almal kan sien dat haar byt giftig is.

Die seekat is ’n pligsgetroue moeder. Nadat sy haar eiers gelê het, sal sy waarskynlik weier om te eet. Sy sal eerder haar eiers beskerm, skoonmaak en belug, haar broeiplek versterk en ’n verdedigende houding inneem om roofdiere af te weer. Hoewel die wyfieseekat sal doodgaan nadat haar eiers uitgebroei het, sorg sy reg tot aan die einde vir hulle. Cousteau het gesê: “Niemand het al ooit gesien dat ’n wyfieseekat haar eiers onbeskermd gelaat het nie.”

By die meeste seekatspesies styg die klein, pas uitgebroeide seekatjies as plankton na die water se oppervlak. Baie word deur ander seediere geëet. Ná etlike weke keer die oorlewendes egter na die seebodem terug en word hulle volgroeide seekatte, wat tot drie jaar lank lewe.

Hoe slim is hulle?

Sommige mense doen aan die hand dat die woord “intelligensie”, wanneer dit met betrekking tot diere gebruik word, die vermoë behels om uit ondervinding te leer en probleme op te los. Kyk na Cousteau se opmerking in hierdie verband: “Die seekat se skugterheid is ’n beredeneerde reaksie wat hoofsaaklik op versigtigheid gegrond is. . . . As ’n duiker kan toon dat hy geen kwaad bedoel nie, raak die seekat gou ontslae van sy skugterheid—baie gouer as enige ‘wilde’ dier.”

Seekatte se brein en oë is die hoogste ontwikkel van alle ongewerwelde diere. Hulle oë kan, soos ons s’n, noukeurig gefokus word en by veranderinge in die lig aanpas. Die optiese lob vertolk inligting wat van die oë af kom, en dít, tesame met ’n fyn tassintuig, stel die seekat in staat om verbasend intelligente besluite te maak.

Talle wetenskaplikes sê dat hulle al gesien het hoe ’n seekat leer om ’n bottel se prop af te haal sodat hy ’n skaaldier binne-in kan bereik. Ander het gesê dat ’n seekat kan uitwerk hoe om die deksel van ’n fles af te draai om by die voedsel binne-in uit te kom. In die Vancouver-akwarium in Kanada het ’n seekat snags deur ’n afvoerpyp verdwyn om die vis in die tenk langsaan te gaan eet.

Aangaande die intelligensie van die seekat kom die boek Exploring the Secrets of Nature tot die gevolgtrekking: “Ons skryf gewoonlik die hoogste intelligensievlakke aan primate toe, maar daar is bewyse dat seekatte ook onder die intelligentste diere is.”

Die intelligente gedrag van seekatte herinner ons dalk aan die diere wat die Bybel as “instinktief wys” beskryf (Spreuke 30:24). Hulle is werklik ’n wonder van die skepping. Die verskriklike monster van Victor Hugo se verbeelding beïnvloed nie meer wetenskaplikes en duikers se beskouing van die seekat nie. Diegene wat hierdie dier bestudeer, word met groot ontsag vervul vir hierdie slim verkleurmannetjie van die see.

[Voetnoot]

a Net die blouringseekat, wat inheems aan Australië is, word as dodelik vir die mens beskou. Sy byt kan respiratoriese versaking veroorsaak.

[Prent op bladsy 15]

’n Blouringseekat

[Erkenning]

© Jeffrey Rosenfeld

[Prent op bladsy 16]

Die Pasifiese rifseekat, wat heeltemal gekamoefleer is, onder die mond van ’n roofvis. Kan jy die seekat sien?

[Prente op bladsy 16, 17]

Daar is ’n groot verskeidenheid seekatte, en hulle kom in verskillende kleure voor

[Prent op bladsy 17]

Pas uitgebroeide seekatjies op pad na die oppervlak

[Erkenning]

© Fred Bavendam

[Foto-erkennings op bladsy 16]

Links bo: © Roger T. Hanlon; bo: © Jeffrey Rosenfeld