Tale-brûe en mure in kommunikasie
Tale-brûe en mure in kommunikasie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
“Geen geskiedenis kan ons so ’n duidelike beeld gee van die wedervaringe van ’n volk, van hulle maatskaplike organisasie en hulle opvattings en gevoelens as ’n ontleding van hulle taal nie.”—MARTÍN ALONSO.
DEUR die geskiedenis heen het taal—sy oorspronge, verskeidenheid en dinamiese aard—geleerdes gefassineer. Trouens, hulle fassinasie het selfs behoue gebly—net soos die meeste geskiedkundige verslae—danksy taal. Taal is ongetwyfeld die mens se beste kommunikasiemiddel.
Party taalkundiges skat dat daar tans ongeveer 6 000 of meer tale in die wêreld gepraat word, buiten plaaslike dialekte. Die taal wat verreweg die meeste gepraat word, is Mandaryns, wat deur meer as 800 miljoen mense gepraat word. Hierna is die vier tale wat die meeste gepraat word, nie noodwendig in hierdie volgorde nie, Engels, Spaans, Hindi en Bengali.
Wat gebeur wanneer verskillende kulture en natuurlik hulle tale skielik in kontak met mekaar kom? Hoe beïnvloed afsondering van groepe daarenteen hulle taal? Kom ons kyk hoe brûe—maar ook mure—in kommunikasie gebou word.
Pidgins, kreools en lingua francas
Kolonisasie, handel tussen lande en selfs gevangenskap in konsentrasiekampe het mense die behoefte laat aanvoel om die kommunikasiegaping te oorbrug omdat hulle geen taal in gemeen gehad het nie. Hulle het derhalwe ’n vereenvoudigde taal begin gebruik. Hulle het grammatikale komplikasies uitgeskakel, minder woorde gebruik en hierdie woorde tot onderwerpe van
gemeenskaplike belang beperk. Op hierdie manier is pidgins geskep. Pidgin is ’n taal met sy eie taalstelsel, al is dit baie vereenvoudig. Maar as die behoefte verdwyn wat tot die ontstaan daarvan aanleiding gegee het, kan dit uitsterf.Wanneer pidgin die hooftaal van ’n bevolking word, word nuwe woorde bygevoeg en die grammatika word herrangskik. Dit word dan ’n kreool. Kreools, in teenstelling met pidgins, weerspieël die kultuur van ’n volk. Vandag word tientalle pidgins en kreools—wat op Engels, Frans, Portugees, Swahili en ander tale gebaseer is—in die wêreld gepraat. Party het selfs belangrike tale in ’n land geword, soos Tok Pisin in Papoea-Nieu-Guinee en Bislama in Vanuatu.
Ander brûe wat kommunikasie bevorder, is lingua francas. ’n Lingua franca is ’n gemeenskaplike taal wat deur groepe gebruik word wie se moedertaal van mekaar verskil. In die Sentraal-Afrikaanse Republiek kan mense wat verskeie plaaslike tale praat byvoorbeeld deur middel van Sango kommunikeer. Onder diplomate is Engels en Frans tale wat as lingua francas gebruik word. Pidgins is lingua francas, en kreools kan ook wees.
In verskillende gebiede in ’n land kan plaaslike vorme van die landstaal gebruik word, en dit word dialekte genoem. Hoe meer afgesonderd die gebied is, hoe opvallender kan die verskille wees. Mettertyd verskil party dialekte in so ’n mate van die oorspronklike taal van die gebied dat dit ’n ander taal word. In sommige gevalle is dit nie vir taalkundiges maklik om tussen ’n taal en ’n dialek te onderskei
nie. En aangesien tale gedurigdeur verander, sterf dialekte soms uit weens onbruik, en dan sterf ’n deel van die geskiedenis saam met hulle.Taal is ’n gawe van God (Exodus 4:11). Die fassinerende veranderingsproses in taal toon hoe aanpasbaar hierdie gawe is. Ons kan ook uit taal leer dat geen enkele groep mense beter as ’n ander groep is nie, want daar bestaan nie so iets soos ’n minderwaardige taal nie. Net soos met ander gawes van God is taal in gelyke mate aan alle mense beskikbaar, ongeag hulle kultuur of waar hulle woon. Reg van die begin af was die tale van alle volke volledig genoeg om aan hulle doel te beantwoord. Elkeen van hulle verdien respek, ongeag hoeveel mense dit praat.
Geskiedkundige en maatskaplike faktore
Die sosiale aard van die mens word in taal weerspieël. Wanneer daar gevolglik kontak tussen kulture is—iets wat algemeen gebeur—behou die tale van daardie kulture geslagte lank spore van sulke kontak.
Spaans, wat as ’n gewysigde vorm van Latyns beskou word, het byvoorbeeld spore van die agtste-eeuse Moslem-verowering van Spaanse gebied oorgehou in die talle woorde van Arabiese oorsprong. Die invloed wat Grieks, Frans, Engels en ander tale op Spaans gehad het, kan ook teruggespoor word. Verder is daar in die Spaans wat in Amerika gepraat word nog tekens van die invloed wat eertydse bewoners van die vasteland daarop gehad het. Die Spaans wat byvoorbeeld daar gepraat word, bevat baie woorde van Nahuatl, ’n taal van die Asteke in Sentraal-Amerika.
Net soos ’n moedertaal mense van ’n sekere nasie en selfs streek identifiseer, kan taalgebruik mense met ’n groep, soos ’n beroep, ’n ambag, kulturele en sportgroepe of selfs kriminele organisasies, identifiseer. Die lys is feitlik eindeloos. Taalkundiges noem hierdie spesiale variasies jargon of sleng of soms selfs ’n dialek.
Maar wanneer daar vyandigheid tussen nasies en etniese of kulturele groepe bestaan, is taal nie meer ’n brug nie. Dit kan ’n muur word wat tot die verdeeldheid tussen mense bydra.
Die toekoms van tale
Kommunikasie is ’n ingewikkelde saak. Aan die een kant is die hedendaagse neiging om taalgrense af te breek, hoofsaaklik weens die massamedia. Volgens die Encyclopædia Britannica word Engels nou as ’n hoof- of tweede taal deur 1 uit 7 mense gepraat. Dit is gevolglik die gebruiklikste lingua franca in die wêreld. Mense se gebruik daarvan het breër kommunikasie en die uitwisseling van nuttige inligting moontlik gemaak.
Daarenteen het taalgrense tot verdeeldheid, haat en oorlog bygedra. The World Book Encyclopedia sê: “As alle mense dieselfde taal gepraat het, . . . sou welwillendheid tussen nasies toeneem.” Sulke welwillendheid sou natuurlik ’n baie groter verandering verg as die blote gebruik van ’n lingua franca. Slegs die wyse Skepper van taal kan alle mense een taal laat praat.
Die Bybel, God se vernaamste middel om met mense te kommunikeer, toon duidelik dat God binnekort hierdie huidige goddelose stelsel van dinge uit die weg sal ruim en dit met ’n regering—sy Koninkryk—sal vervang wat uit die hemel sal regeer (Daniël 2:44). Hierdie regering sal die hele mensdom in ’n vreedsame, regverdige nuwe stelsel van dinge hier op aarde verenig.—Matteus 6:9, 10; 2 Petrus 3:10-13.
Selfs nou verenig ’n suiwer geestelike taal—die waarheid oor Jehovah God en sy voornemens—miljoene mense van alle tale, nasionaliteite en voormalige godsdienste (Sefanja 3:9, NW). Daarom lyk dit logies dat God die mensdom verder in hierdie nuwe wêreld sal verenig en alle volke een gemeenskaplike taal sal gee deur die omgekeerde te laat plaasvind van wat hy by Babel gedoen het.
[Venster op bladsy 12]
Die oorsprong van tale
Die alwyse Skepper, Jehovah God, gebruik taal in die hemelse engeleryk (Job 1:6-12; 1 Korintiërs 13:1). Toe hy mense geskep het, het hy hulle ’n woordeskat gegee, sowel as die vermoë om dit te vergroot. Daar is geen bewys van enige primitiewe mensetaal wat uit knor- en gromgeluide bestaan het nie. Inteendeel, kyk na wat die Encyclopædia Britannica oor Sumeries skryf, die oudste geskrewe taal wat bekend is: “Die Sumeriese werkwoord, met sy . . . verskillende voorvoegsels, invoegsels en agtervoegsels, skep ’n baie ingewikkelde beeld.”
Ongeveer die 20ste eeu v.G.J. het mense, in stryd met God se bevel om uit te sprei en ‘die aarde te vul’, die hele mensegemeenskap op die vlaktes van Sinear, in Mesopotamië, probeer beheer en die godsdienstoring van Babel begin bou. Die verskeidenheid tale het ontstaan toe God hulle algemene taal verwar het en hulle gevaarlike en skadelike planne in die wiele gery het.—Genesis 1:28; 11:1-9.
Die Bybelverslag sê nie dat alle tale van die oorspronklike taal afkomstig is nie. In Sinear het God talle nuwe woordeskatte en denkpatrone geskep, wat tot ’n verskeidenheid tale aanleiding gegee het. Daarom was pogings om ’n stamtaal te vind waaruit alle ander tale ontwikkel het tevergeefs.
[Prent op bladsy 12]
By Babel het God die taal van opstandige mense verwar