Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die teater van Epidauros—eeue later steeds ongeskonde

Die teater van Epidauros—eeue later steeds ongeskonde

Die teater van Epidauros—eeue later steeds ongeskonde

Deur Ontwaak-medewerker in Griekeland

HOU jy daarvan om teater toe te gaan? Geniet jy dit om lekker te lag vir ’n komedie? Voel jy verhef of selfs verlig deur ’n insigryke drama wat jou emosies raak of jou iets omtrent die menslike natuur leer? Dan sal jy moontlik daarin belangstel om meer uit te vind omtrent die teater van Epidauros. Dit het hegte bande met die oorsprong van drama in antieke Griekeland.

Die Griekse aardrykskundige Pousanias, van die tweede eeu G.J., het geskryf dat ‘daar [by Epidauros] die merkwaardigste teater van die antieke wêreld is. Hoewel die Romeinse teaters rykliker versier en groter is, kan geen argitek met die prag en harmonie van die Epidauros-teater meeding nie.’

Die bes bewaarde teater

Sowat 60 kilometer suid van die Griekse stad Korinte is die klein dorpie Epidauros. Vyf-en-twintig eeue gelede was dit ’n belangrike handels- en godsdienssentrum.

In latere tye het die golwende heuwels, die landerye en die olyfboorde geen aanduiding gegee dat daar ’n groot teater was nie. Maar Panagís Kavadías, ’n vooraanstaande Griekse argeoloog van die 19de eeu, was seker dat daardie heuwels ’n goed bewaarde geheim versteek het. Sy nuuskierigheid is geprikkel deur die beskrywing van Pousanias wat vroeër aangehaal is, en hy was vol vertroue dat hy onder hierdie doodgewone landskap ’n luisterryke teater sou ontdek. En hy het dit inderdaad ontdek, in die lente van 1881.

Ná ses jaar van harde werk het Kavadías se uitgrawings ’n indrukwekkende, amper ongeskonde teater te voorskyn gebring. Volgens argeoloë is hierdie teater omstreeks 330 v.G.J. gebou deur Polukleitos die Jongere, ’n puik beeldhouer en argitek van die nabygeleë stad Argos. Die moderne argitek, Mános Perrákis, weerspieël die algemene mening van navorsers wanneer hy Epidauros “die beroemdste en bes bewaarde Griekse teater” noem.

Die ontdekking van die Epidauros-teater is belangrik vir argeologie en argitektuur. Hoewel die meeste van die oorblywende antieke teaters gedeeltelik vernietig of herbou is, het die Epidauros-teater deur die eeue heen ongeskonde gebly omdat dit veilig onder meer as ses meter grond begrawe was.

Die hedendaagse besoeker kan die basiese dele van die teater baie maklik uitken. Die orchêstra, ’n plat ronde area wat vir danse en die koor gebruik is, word deur ’n nou strook marmer omring. Die vloer is van vasgestampte grond, en daar is ’n altaar in die middel. Agter die orchêstra is die skêne-gebou, waarvan net die fondamente oorgebly het. Aanvanklik het die toneelspelers binne die orchêstra opgetree, en die dekor het bestaan uit driekantige borde wat gedraai het en aan die buitekant daarvan gemonteer is. Later het die toneelspelers op die skêne self begin optree, wat beteken het dat net die koor op die orchêstra gebly het en die dekor na die mure van die skêne verskuif is.

Die Epidauros-teater het oorspronklik sitplek vir 6 000 gehad. In die tweede eeu v.G.J. is die boonste deel vergroot om plek te maak vir nog 21 rye sitplekke sodat daar uiteindelik sitplek vir meer as 13 000 was. Sitplekke in die voorste ry is vir hooggeplaastes gereserveer en het van die res verskil in die sin dat dit van ’n rooierige klip gemaak is en ’n rugleuning gehad het.

’n Akoestiese wonder

Die teater van Epidauros is beroemd vir sy uitstekende akoestiek. “Die sagste geluid—iemand wat diep asemhaal of ’n stuk papier wat geskeur word—kan tot by die laaste ry sitplekke duidelik gehoor word”, sê S.E.E. Iakovídis, ’n professor van argeologie.

Wanneer hulle hierdie teater besoek, hou baie toeriste daarvan om in die middel van die orchêstra te staan en gedigte voor te dra, liedere te sing of selfs vir hulle vriende te fluister wat in die heel boonste ry sit. Hulle word beïndruk deur die merkwaardige manier waarop die klank na elke hoekie van hierdie groot ouditorium gedra word.

Die goeie akoestiek word toegeskryf aan die halfronde amfiteatervorm van die Epidauros-teater. Dit herinner ons aan die preke wat Jesus voor groot menigtes gehou het in natuurlike amfiteaters—dikwels teen heuwelhange—sodat almal hom duidelik kon hoor.—Matteus 5:1, 2; 13:1, 2.

Daarbenewens verkort die steilte van die rye sitplekke by Epidauros die afstand van die verhoog na die heel boonste rye. Die klankgolwe is feitlik onverswak wanneer hulle daardie boonste rye bereik.

Iets anders wat tot sulke goeie akoestiek bydra, is die regte afstand tussen die rye. Dit laat toe dat die klank oral met dieselfde sterkte en helderheid versprei. Ander faktore sluit in die weerkaatsing van die klank wanneer dit die harde, kompakte oppervlak van die orchêstra en die rye sitplekke tref, die goeie gehalte van die marmer wat gebruik is, die stil landskap en die konstante briesie wat van die orchêstra na die gehoor waai.

Die teater—die tuiste van die drama

Omdat die antieke Grieke baie sorgvuldig en met groot vaardigheid te werk gegaan het wanneer hulle teaters gebou het, soos hierdie een by Epidauros, kon die gehoor die dramas goed sien en hoor. Die drama het sy oorsprong gehad in vrugbaarheidsfeeste om die oes en die druiwetyd te vier, asook die idees van die dood en vernuwing van die lewe. Sulke bandelose feeste was ter ere van Dionisus, die mitiese god van wyn en vrugbaarheid. Hierdie opvoerings het nie alleen mitiese gode vereer nie, maar het dikwels ’n storie vertel. Drie hoofvorme van die verhaalkuns het ontwikkel: die tragedie, komedie en satire. Die stadsheersers, wat besef het hoe gewild hierdie gebeurtenisse was, het dit ondersteun as ’n manier om groter politieke mag te verkry.

Met verloop van tyd het die invloed van Dionisiese vieringe op drama en die gewildheid van bandelose skouspele afgeneem. In hulle soeke na nuwe temas vir hulle toneelstukke het gevierde toneelskrywers van die vyfde eeu v.G.J., soos Aischulos, Sofokles en Euripides, hulle tot Griekse geskiedenis en mitologie gewend. Dit was die toenemende en wydverspreide gewildheid van drama wat die behoefte aan groot teaters, soos die een by Epidauros, laat ontstaan het. En omdat die gehoor elke woord van die dramas moes hoor—wat dikwels subtiele woordspeling en gevatte antwoorde ingesluit het—was dit nodig dat die teaters met baie noukeurigheid en vaardigheid gebou moes word.

Elke toneelopvoering het ’n koor (gewoonlik 10 tot 15 mense) en toneelspelers vereis (nooit meer as 3 pratende karakters in elke toneel nie). Toneelspelers is hy·po·kri·taiʹ, dié wat op die koor reageer, genoem. Mettertyd is hierdie term metafories begin gebruik om iemand te beskryf wat vals is of iets voorgee. Die Evangelie van Matteus het hierdie woord gebruik om die geveinsde skrifgeleerdes en Fariseërs van Jesus se dag te beskryf.—Matteus 23:13.

Epidauros en antieke drama vandag

Die opvoering van antieke drama het by Epidauros en op ander plekke in Griekeland herlewe. Tot die begin van die 20ste eeu was antieke Griekse dramas, veral tragedies, net ’n onderwerp van akademiese studie. Maar sedert 1932, met die stigting van die Nasionale Teater van Griekeland, is die werke van ou toneelspelers in moderne Grieks vertaal.

Sedert 1954 het die Epidauriese dramafees ’n jaarlikse gebeurtenis geword. Elke somer bewys die Epidauros-teater gasvryheid aan talle Griekse en buitelandse toneelgeselskappe, wat antieke toneelstukke opvoer. Duisende toeriste en teaterliefhebbers besoek hierdie terrein om moderne opvoerings van toneelstukke by te woon wat amper 2 500 jaar gelede geskryf is.

Jy word dus uitgenooi om na Epidauros te kom wanneer jy Griekeland weer besoek. Nadat jy sy indrukwekkende teater gesien het, sal jy dalk dieselfde gevolgtrekking as Pousanias maak: “Geen argitek [kan] met die prag en harmonie van die Epidauros-teater meeding nie.”

[Venster op bladsy 13]

Teater en die vroeë Christene

“Ons het ’n teaterskouspel geword vir die wêreld en vir engele en vir mense”, het die apostel Paulus geskryf vir die Christene in Korinte, wat naby Epidauros gewoon het (1 Korintiërs 4:9; Hebreërs 10:33). Omdat hulle gesmaad en vervolg is, het hy bedoel dat hulle ten toon gestel is soos in ’n teater voor ’n universele gehoor. In Paulus se dag was teateropvoerings ’n gewilde vorm van vermaak. Maar die vroeë Christene is gewaarsku teen onsedelikheid en wrede geweld, wat dikwels in die teateropvoerings van daardie tyd uitgebeeld is (Efesiërs 5:3-5). Christene self is soms met geweld na die teaters of arenas van die Romeinse Ryk gelei as voorwerpe van vermaak en moes selfs wilde diere trotseer.

[Prente op bladsy 12]

Sofokles

Aischulos

Euripides

[Erkenning]

Griekse toneelskrywers: Musei Capitolini, Roma

[Foto-erkenning op bladsy 11]

Met vergunning van GNTO