Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Deur stormagtige seë na kalm waters

Deur stormagtige seë na kalm waters

Deur stormagtige seë na kalm waters

SOOS VERTEL DEUR HANS STURM

DIE mans in ons familie was meer as 200 jaar lank seemanne. My doel was om soos my pa, en soos sy pa voor hom, ’n lewe op see te hê.

In 1914, met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, is my pa vir diens in die Duitse vloot opgeroep om op ’n mynveër in die Baltiese See te vaar. Teen 1916 het my pa op ’n handelskip gewerk, wat gebruik is om ystererts tot die einde van die oorlog van Swede af in te voer. Hy is in 1919 oorlede, toe ek maar agt jaar oud was, maar my herinneringe van hom was vir my ’n aansporing.

Om te vorder in die loopbaan wat ek gekies het, sou ek vier jaar op see moes dien, en 20 maande van daardie tyd sou ek op seilskepe moes deurbring. Eers daarna sou ek by ’n seevaartskool kon inskryf. Toe ek 15 was, het my ma my dus van Stettin (nou Szczecin, in Pole), waar ek gebore is, na Hamburg, Duitsland, geneem. Ons het geweet dat die Laeisz-maatskappy ’n aantal seilskepe het, en ons het gehoop dat ek as ’n kadet op een sou kon werk. Ons kon nie bekostig om daarvoor te betaal nie, maar weens my pa se agtergrond het Laeisz ingestem om my gratis op te lei.

In 1927 het ek op die Padua, * ’n staalskip met vier maste, uitgevaar. Dit het van Hamburg na Chili gevaar om vragte nitraat te gaan haal. Dit het geen motore gehad nie—slegs seile. Daardie reise oor die Atlantiese Oseaan was vir my en al die ander jong seuns ’n opwindende ondervinding.

Ons het dikwels deur stormagtige waters gevaar. Tydens sulke storms moes ons die seile inbind. Hoe het dit gevoel om teen die takelwerk op te klim om die seile in te bind terwyl die skip rondgegooi word? Ek moet erken dat ek bang was! Maar wanneer die bevel gegee is, het ek aan niks anders gedink nie en net geklim en gedoen wat vir my gesê is.

Invloede buite my beheer

My ma was ’n Rooms-Katoliek, maar kort ná my pa se dood het sy begin assosieer met die Ernste Bibelforscher, of Ernstige Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds in Duitsland bekend gestaan het. In 1923 is sy gedoop. Die Katolieke Kerk het nooit werklik ’n goeie indruk op my gemaak nie, en wat my ma gesê het, het sin gemaak. Ek het dus gewoonlik saam met my ma en my jonger suster, Margot, na die Bybelstudievergaderinge gegaan.

In 1929 het ek die Padua verlaat en die daaropvolgende drie jaar op verskillende stoomskepe deurgebring. Hierdie skepe het my na Noord-Europese hawens en na die Middellandse See geneem. Tydens een reis het ek om die wêreld gevaar. Ek het hierdie lewe geniet en het daarna uitgesien om by die seevaartskool in Stettin in te skryf, soos my pa gedoen het. In 1933 het ek ’n 18 maande lange kursus daar begin om as stuurman te kwalifiseer. Maar my planne is deur invloede buite my beheer in die wiele gery.

Hitler het daardie selfde jaar aan bewind gekom, en nasionalisme het Duitsland aangegryp. Studente het daarvan gehou om “Heil Hitler!” uit te roep. Maar as gevolg van wat ek by my ma geleer het, het ek geweet dat ek dit nooit sou kon doen nie. Ek is gevra om te verduidelik waarom ek weier, maar my verduideliking is nie aanvaar nie. Ek is uit die skool gesit. Die skoolhoof was ’n goeie man en het my ’n brief gegee wat gesê het dat ek ’n jaar gestudeer het. Omdat ek nie die kursus kon voltooi nie, het ek die skool sonder enige kwalifikasies verlaat. Dit was asof my wêreld om my ineengestort het.

Die druk bou op

Ek was nou gemerk as gevolg van my neutrale standpunt. Behalwe dat ek nie op enige skip kon vaar nie, kon ek ook geen ander werk kry nie, gevolglik het ek my ma by die huis gehelp. Sy het ’n bestaan gemaak deur vir mense te kook, en ek was bly dat ek haar kon help deur skottelgoed te was en groente voor te berei. In 1935, vier jaar voor die Tweede Wêreldoorlog, het my lewe weer verander.

My oom Oskar het in Danzig (nou Gdansk) gewoon. Toe hy van my probleme te wete kom, het hy my genooi om vir hom in sy restaurant te werk. My oom en sy vrou, Rosl, was albei Jehovah se Getuies. Ek het hulle aanbod met graagte aanvaar. Hoewel hulle my nie ’n vaste loon kon betaal nie, het ek veiliger by hulle gevoel.

Ná die Eerste Wêreldoorlog het Danzig ’n so genoemde vrystad geword, wat ’n groot strook land onder die leiding van die Volkebond bestuur het. Die idee was om Pole toegang tot die see te gee, maar die reëling het Oos-Pruise in werklikheid van die res van Duitsland afgesny. Hierdie situasie was onaanvaarbaar vir Hitler. Trouens, die feit dat hy Pole ingeval en hierdie land geannekseer het, het tot die Tweede Wêreldoorlog aanleiding gegee.

’n Ruk ná ek by my oom en tante aangekom het, het hulle vir ’n jong man gesorg wat in ’n konsentrasiekamp was omdat hy een van Jehovah se Getuies was. Hy het my vertel hoe wreed hy behandel is. ’n Rukkie later is my oom en tante in hegtenis geneem omdat hulle geweier het om “Heil Hitler” te sê, maar hulle is weer vrygelaat. Gedurende hierdie tyd is ek ook deur die Gestapo ondervra, maar ek is nie gevange gehou nie.

In Stettin het my ma intussen dokumente ontvang wat my vir krygsdiens in die Duitse leër opgeroep het. Sy het onmiddellik ’n brief geskryf waarin sy voorgestel het dat ek tant Naomi besoek, wat in die noorde van Swede gewoon het. Ek het besef wat sy bedoel het—verlaat die land!

Nazi-vervolging

Dit situasie het al hoe moeiliker geword. My oom en tante is weer in hegtenis geneem. Hierdie keer is hulle na die konsentrasiekamp in Stutthof geneem, wat twee uur per bus van Danzig is. Hulle is tot die einde van die oorlog, in 1945, daar aangehou. Ek het uitgevind dat my oom ongelukkig op ’n skip gesterf het wat die kamp se gevangenes weswaarts geneem het om die naderende Russiese leër te ontvlug. My tante het egter die ondervinding oorleef en ’n voltydse evangeliedienaar geword.

Toe my oom en tante na Stutthof geneem is, is my ma in Stettin in hegtenis geneem, en sy het sewe maande in die tronk deurgebring. My suster het met die seun van ’n Getuie-egpaar getrou, en sy was op dieselfde tyd as my ma in die tronk. Haar man en hulle dogter is na konsentrasiekampe gestuur. Haar man het daar gesterf, en haar dogter het agt jaar in sommige van die berugste kampe deurgebring, onder andere Belsen.

Eenkeer het my susterskind en ander Getuies geweier om patroonbande vir die leër te maak, en as gevolg hiervan is hulle gedwing om van sesuur die oggend tot sesuur die aand in dun klere buite te staan—en dit was in November. Die kos wat hulle elke dag gekry het, is verminder tot ’n stuk brood en ’n beker water, en hulle is ’n bietjie warm sop elke derde dag gegee. Hulle het op ’n kaal betonvloer geslaap, met nie eers strooi daarop nie. Dit het ses weke so aangehou, en die kampamptenare was verbaas dat hulle almal nog gelewe het.

Ek vlug

Nadat my oom en tante ’n tweede keer in hegtenis geneem is, het ek geweet dat ek Danzig moes verlaat voordat die Gestapo my kom haal. My oom het my ’n bietjie geld geleen, en ek het uiteindelik op ’n Poolse skip geklim wat op pad was na Hull, aan die ooskus van Engeland. Toe ek aan land gaan, is ek toestemming gegee om drie maande daar te bly, die gewone tydperk vir ’n buitelander.

Ek het onmiddellik na Craven Terrace 34 in Londen gegaan, die adres vir die takkantoor van die Wagtoringgenootskap. Daar het ek Pryce Hughes, die destydse takopsiener, ontmoet. Hy het gereël dat ek by ’n familielid, Stanley Rogers, in Liverpool, aan Engeland se weskus bly. Stanley was baie goed vir my.

In die lente van 1937 is ek in Liverpool gedoop om my toewyding aan Jehovah te simboliseer. Maar ek wou nog steeds ’n lewe op see hê, daarom het ek by Liverpool se Seevaartskool ingeskryf waar ek ná twee maande my onderstuurmansertifikaat gekry het. Omdat my permit om in Engeland te bly binnekort sou verval, het vriende in Liverpool met hulle parlementslid in verbinding getree, en my permit is met nog drie maande verleng—tyd wat ek bitter nodig gehad het.

Weens my ondervinding op die seilskip Padua het my seemanskapinstrukteur by die seevaartskool spesiale belangstelling in my getoon. Toe hy uitvind in watter moeilike situasie ek was, het hy voorgestel dat ek die mense van die Blue Funnel Line gaan sien. Daar het ek Lawrence Holt, een van die maatskappy se direkteure, ontmoet. Twee jaar later toe ek hom weer in Liverpool op een van die maatskappy se skepe ontmoet het, het hy my gevra of ek al my opperstuurmansertifikaat gekry het. Ek het vir hom gesê dat ek net nog twee weke se ondervinding op die brug van ’n skip nodig gehad het. Hy het dus gereël dat ek na Port Saïd, Egipte, vaar.

Toe ek op 7 Julie 1939 na Liverpool teruggekeer het, het ek beplan om die eksamen vir my opperstuurmansertifikaat af te lê, maar dit was onmoontlik as gevolg van die naderende oorlog. Ek is eerder na ’n skip in Londen gestuur. Toe die owerheid hiervan te wete kom, het hulle my onmiddellik van alle skepe afgehaal en wou hulle my as ’n vyandsvreemdeling in die tronk sit omdat ek Duits is. Maar mnr. Holt het tussenbeide getree, en ek is werk as ’n tuinier in Liverpool gegee. In Mei 1940 is ek egter in hegtenis geneem, en in Junie is ek op die S.S. Ettrick na Kanada gestuur.

Na Kanada toe

Die Ettrick het ongeveer 5 000 Duitsers aan boord gehad, waarvan die een helfte vlugtelinge was en die ander helfte krygsgevangenes. Een van die vlugtelinge was graaf Von Lingen, soos ons hom genoem het, die kleinseun van die voormalige Duitse keiser. Al ons pos is nagegaan, en toe die inligtingsoffisier dus ’n brief van Von Lingen sien wat aan koningin Mary, die koninginmoeder van Engeland, geadresseer is met die openingswoorde “Liewe tant Mary”, het hy dit bevraagteken. Maar Von Lingen was reg—die koninklike gesinne van Engeland en Duitsland was na aan mekaar verwant. Vir my het hierdie voorval slegs die dwaasheid en sinloosheid van oorlog beklemtoon.

Stanley Rogers, wat vroeër gemeld is, het in die tyd tussen die twee wêreldoorloë as ’n pelgrim (soos reisende opsieners van Jehovah se Getuies destyds genoem is) in Kanada gedien. Hy het in aanraking gekom met die Getuies daar, en hulle het met my en ’n mede-Getuie Tony Steffens, wat ook gedeporteer is, in aanraking gekom. Hulle briewe en pakkies het ons grootliks aangemoedig. Ek is twee en ’n half jaar lank in agt verskillende kampe aangehou, waar ek die meeste van die tyd houttafels en -bankies gemaak het.

Terug na Engeland en vryheid!

Kort voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog is ek na Engeland toe teruggestuur, na ’n detensiekamp op die eiland Man. Daar het John Barr van die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Londen—nou ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies—my besoek en ’n paar plaaslike Getuies saam met hom gebring. Ek is in 1944 vrygelaat en het by Stanley aangesluit. Intussen het Stanley met Nita Thomas getrou en in Birkenhead gewoon, die hawe by die Merseyrivier oorkant Liverpool. Dit is waar ek Olive, Nita se suster, ontmoet het, en ons is die volgende jaar getroud.

Onmiddellik nadat ek en Olive toestemming gekry het, het ons na Duitsland gereis om my ma te sien. Dit was baie hartseer om deur die verwoeste stede te reis wat ek eens so goed geken het. Ek wou veral na Hamburg gaan om die Laeisz-kantoor te besoek. Hoe verbaas was ek tog om kaptein Piening daar te ontmoet, die kaptein van die Padua op my laaste twee reise in 1928 en 1929! Gedurende die oorlog was hy in krygsdiens, en sy seuns is al twee in die konflik doodgemaak. Hy was ’n gebroke man. Wat ek gehoor en gesien het, het my baie hartseer gemaak.

Die Blue Funnel Line het gedurende my jare in Kanada steeds belangstelling in my getoon, en hulle was bly om my weer in diens te neem toe ek teruggekeer het. In 1947 het ek uiteindelik gekwalifiseer om my opperstuurmansertifikaat te kry. Die daaropvolgende jaar het Olive ’n voltydse evangeliedienaar geword.

Ek vind my doel in die lewe

Ek het weer op see gegaan, en tydens my reise het ek ’n aantal Getuie-sendelinge in lande in die Verre-Ooste ontmoet. Maar ’n byeenkoms in Londen in 1947 het ’n blywende indruk op my gelaat, aangesien dit my gehelp het om te besluit dat ek voltydse diens aan Jehovah voortaan my doelwit sou maak. My werkgewers was teleurgesteld. Maar in 1952 het hulle my goedgunstiglik deeltydse kantoorwerk gegee sodat ek by Olive in die voltydse predikingswerk kon aansluit. My diepgewortelde begeerte na ’n lewe op die see is deur ’n sterker begeerte vervang.

Ek en Olive het dit baie geniet om saam aan die predikingswerk deel te neem, en ons het die voorreg gehad om baie mense te help om tot ’n juiste kennis van Bybelwaarheid te kom (2 Korintiërs 3:2, 3). Deur die jare heen het ek bykomende voorregte by streek- en kringbyeenkomste geniet. Vandag dien ek nog steeds as ’n ouer man in die Wirral-skiereiland, in en om Birkenhead.

My dierbare vrou Olive is in 1997 oorlede. Wanneer ek terugkyk, kan ek sien dat ek baie stormagtige seë oorleef het toe ek jonger was. Maar uiteindelik, onder Jehovah se liefdevolle leiding, het ek meer as 50 jaar lank met ’n liefdevolle maat in kalm waters in die grootste loopbaan—in die diens van Jehovah—gevaar.

[Voetnoot]

^ par. 6 In 1946 is die Padua aan die Sowjet-unie gegee en tot Kroezensjtern hernoem.

[Prent op bladsy 18]

In 1914, saam met my pa en ma

[Prente op bladsy 18, 19]

My Duitse ontslagboek, waarin my reise op die “Padua” opgeteken is

[Prent op bladsy 21]

Saam met my vrou, Olive, in 1974 by die streekbyeenkoms in Londen