Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Kinders en kerkdienste

“Woon kinders kerkdienste by?” vra ’n onlangse uitgawe van die publikasie Canadian Social Trends. Dit antwoord dat volgens ’n studie deur Statistics Canada “meer as ’n derde, 36%, van Kanada se kinders onder 12-jarige ouderdom ten minste een keer per maand ’n kerkdiens bywoon, waarvan die meeste weeklikse bywoners was. ’n Verdere 22% was minder gereeld, maar het ten minste een keer gedurende die jaar kerk toe gegaan.” Die artikel het egter daarop gewys dat “kerkverband verantwoordelik is vir die grootste verskille in kinders se gereelde bywoning van kerkdienste. . . . Kinders in wat baie waarnemers beskou as die vernaamste godsdiensgemeenskappe, soos die Anglikaanse en Verenigde Kerk, het die laagste weeklikse bywoningsyfers (18%) gehad.” Rooms-Katolieke kinders het ’n bietjie beter gevaar, met 22 persent wat kerkdienste weekliks bywoon. Hoewel 44 persent van Moslemkinders elke week Islamitiese dienste bywoon, “het hulle ook gedurende die jaar voor die opname die hoogste afwesigheidsyfer (39%) gehad”.

Loopringwaarskuwing

Die gebruik van ’n loopring kan die fisiese en intellektuele ontwikkeling van babas belemmer, berig die Independent, ’n koerant van Londen. Navorsers by New York se Staatsuniversiteit het gevind dat loopringe met ’n breë rand aan die voorkant babas se uitsig op hulle bene beperk en keer dat hulle strek om aan dinge om hulle te vat. Babas wat ’n loopring gehad het, het eers meer as vyf weke later begin regop sit, kruip en loop as babas wat nooit ’n loopring gehad het nie. Daarbenewens het navorsing getoon dat 50 persent van die babas wat loopringe gebruik jaarliks beseer word in ongelukke soos om by trappe af te val of in ’n vuur te val of deur net om te slaan. Dr. Denise Kendrick, van die Mediese Fakulteit van Nottingham-universiteit, in Brittanje, sê: “Loopringe is onveilig. Hulle voorsien blykbaar in die behoeftes van ouers omdat dit hulle kinders besig hou, maar hou nie enige voordele vir die kind in nie.”

Speserye beveg bakterieë

Die wêreld se ergste geval van voedselvergiftiging het in 1996 in Brittanje uitgebreek en het die dood van 18 mense tot gevolg gehad. Die skuldige was E. coli O157-bakterie in besmette vleis. Toe navorsers onlangs kaneel by ongepasteuriseerde appelsap gevoeg het, het hulle gevind dat dit 99,5 persent van die bakterieë binne drie dae doodgemaak het, volgens The Independent van Londen. By ’n ander geleentheid het die wetenskaplikes speserye by rou beesvleis en wors gevoeg en gevind dat kaneel, naeltjies en knoffel die doeltreffendste was om E. coli O157 dood te maak. Navorsers dink dat hierdie speserye doeltreffend kan wees om ander bakterieë te beveg, soos salmonella en kampulobakter.

Persoonlike skuld in Brittanje

Die Britte skuld R1 biljoen weens persoonlike lenings, kredietkaarte en afbetalingstransaksies en betaal jaarliks R35 miljard se rente, volgens inligting wat deur People’s Bank vrygestel is en in The Times van Londen verskyn het. Meer as ’n derde van die bevolking het een of ander vorm van ongedekte skuld, gemiddeld R62 800 per persoon. Kredietkaartbesteding in Brittanje het oor ’n tydperk van drie jaar verdubbel en R695 miljard in 1998 gehaal. Die opname het ook bevind dat net 13 persent bekommerd is dat hulle skuld buite beheer kan raak. En 1 uit 5 het erken dat hulle leen “sodat hulle hulle lewenstyl kan handhaaf”, sê People’s Bank.

Teen haar sin

Van die 304 jong vroue met wie onderhoude gevoer is in ’n studie waaroor die Duitse tydskrif Psychologie Heute geskryf het, het byna ’n kwart gesê dat druk op hulle uitgeoefen is om teen hulle sin aan die een of ander seksuele bedrywigheid deel te neem. Daarbenewens sê die berig dat meer as ’n kwart van die vroue gesê het dat mans hulle dwelms en alkohol probeer gee het om hulle oor te haal om teen hulle wil omgang te hê. Dit voeg by: “As ’n mens die pogings van jong mans in ag neem om vroulike weerstand deur middel van sielkundige druk, dwelms of alkohol af te breek, vergroot die moontlikheid dat ’n jong vrou tussen 17 en 20 gedwing sal word om teen haar sin seks te hê tot ver oor die 50 persent.”

Wêreld se eerste donkerhemelreservaat

“Verberg deur die glans van stadsliggies, bedek deur ’n wolk van besoedeling, is ’n gesig wat baie mense deesdae nie sien nie—die fluweelprag van die naghemel”, sê The Globe and Mail van Kanada. Die sterrekundeskrywer Terence Dickinson sê: “Dit is moontlik dat mense kan grootword, self volwassenheid kan bereik, sonder dat hulle ooit die prag van die naghemel gesien het.” Hy vertel byvoorbeeld dat party inwoners die polisie gebel het, nadat dele van Kalifornië ’n paar jaar gelede weens ’n aardbewing sonder krag was, om “die vreemde voorkoms van sterre en ’n wasige strook” in die hemel aan te meld. Om Kanadese sterrekykers ’n onbelemmerde uitsig op die naghemel te gee wat byna vry van ligbesoedeling is, is ’n stuk staatsgrond van 1 990 hektaar in die Muskoka Mere-gebied, noord van Toronto, vir ’n “donkerhemelgebied” beskikbaar gestel. Dit word die Torrance Barrens-bewaringsreservaat genoem en is vermoedelik die eerste donkerhemelreservaat in die wêreld.

Pa’s en dogters

’n Onlangse studie deur Health Canada wat op onderhoude met 2 500 tieners gebaseer is, het aan die lig gebring dat daar ’n kommunikasiegaping is tussen pa’s en hulle kinders, veral dogters, berig die Kanadese koerant die Globe and Mail. Net 33 persent van die meisies tussen 15 en 16 vind dit “maklik of baie maklik om met hulle pa oor dinge te praat wat hulle werklik pla”, teenoor 51 persent van die seuns. Nogtans “is meisies se pa vir hulle baie belangrik en het hulle sy ondersteuning nodig”, sê die verslag. Professor Alan King van Queen’s-universiteit gee toe dat “dit moeilik vir pa’s is om met hulle kinders te praat, veral gedurende daardie moeilike jare van vroeë adolessensie”, wanneer baie pa’s dit vermy om oor seksuele kwessies en gevaarlike gedrag te praat. Maar hy moedig pa’s aan om die uitdaging die hoof te bied, veral aangesien baie ma’s nou minder tyd as tevore het om saam met hulle kinders deur te bring.

‘Nie sonder ’n TV nie!’

Wat sou jy saamneem as jy tyd op ’n verlate eiland moes deurbring? Dié vraag is aan 2 000 jeugdiges in Duitsland gestel. Vir die meeste is die belangrikste items TV-stelle en radio’s, asook CD’s en kassetopnames, berig die koerant Westfälische Rundschau. Kos en drinkgoed was tweede, terwyl gesinslede en vriende derde was. Een 13-jarige verduidelik sy voorkeur: “Ek sal nie sonder ’n TV kan klaarkom nie.” Net ongeveer ’n derde van diegene wat ondervra is, het gesê dat hulle nuttige gereedskap soos messe, skoffels en sae sou insluit. ’n Skrale 0,3 persent het ’n Bybel genoem. Die jongste deelnemer, ’n sewejarige dogtertjie, het gesê: “Ek sal net my ma saamvat. As sy daar is, kan niks verkeerd gaan nie.”

Supersoemo-stoeiers

Soemo-stoeiers, wat wêreldbekend is vir hulle reuseproporsies, word te swaar vir hulle eie bene, sê sportfisioloë in Japan. Die tydskrif New Scientist sê dat die aantal beserings in die twee boonste soemo-kategorieë gedurende die laaste vyf jaar verdubbel het, met die gevolg dat ’n paneel fisioloë besluit het om die liggaamsvet en beensterkte van 50 stoeiers te vergelyk. “’n Kwart se beenspiere was nie sterk genoeg om hulle gewig behoorlik te dra nie”, sê die verslag. Die beste soemo-stoeiers se gemiddelde gewig het van 126 kilogram in 1974 tot 156 kilogram in 1999 toegeneem. “Dit hou deels verband met die toename in die gemiddelde grootte van die Japannese oor die algemeen”, sê soemo-kommentator Doreen Simmonds. Maar hulle groter gewig verbeter nie noodwendig hulle vermoë nie. “Die ideale soemo-vorm is peervormig”, sê Simmonds. “Lae heupe, massiewe bobene en kuite wat soos eikeboomstompe lyk.”

Kinders in gevaar

Angola, Sierra Leone en Afganistan is die wêreld se gevaarlikste plekke vir kinders, en ‘die moontlikheid dat ’n kind tot op die ouderdom van 18 sal bly lewe, is gering’, sê ’n verslag deur die Verenigde Nasies-kinderfonds (UNICEF). Oorlog, volgehoue armoede en die verspreiding van HIV en vigs stel die lewe van kinders in groter gevaar as ’n dekade gelede. Met behulp van ’n “gevaarskaal” vir kinders wat van 1 tot 100 gemerk is, bereken UNICEF ’n risikofaktor van 96 vir Angola, 95 vir Sierra Leone en 94 vir Afganistan. Daarteenoor is die gemiddelde risikofaktor vir kinders in Europa 6, berig The Times van Londen.