Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die stryd is nie julle s’n nie, maar God s’n”

“Die stryd is nie julle s’n nie, maar God s’n”

“Die stryd is nie julle s’n nie, maar God s’n”

SOOS VERTEL DEUR W. GLEN HOW

Gedurende die afgelope ses dekades het Jehovah se Getuies talle regstryde in Kanada gevoer. Hulle oorwinnings het nie die regsgemeenskap se aandag ontgaan nie. Vir my aandeel aan sommige van hierdie stryde het ek onlangs die Toekenning vir Moedige Advokaatskap van die Amerikaanse Vereniging van Advokate ontvang. By die toekenningseremonie is daar gesê dat sake waarby Jehovah se Getuies betrokke was “belangrike verskansings teen staatsmisbruike gevorm het . . . , want dit het ’n geïmpliseerde verklaring van regte geskep wat geregterlik erken is en die vryhede van alle Kanadese erken en beskerm het”. Kom ek vertel julle van sommige van hierdie hofsake en hoe ek by die reg en by Jehovah se Getuies betrokke geraak het.

IN 1924 het George Rix, ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, my ouers in Toronto, Kanada, besoek. My ma, Bessie How, ’n klein vroutjie, het hom ingenooi vir ’n bespreking. Ek was vyf jaar oud, en my broer, Joe, was drie.

My ma het sommer gou die vergaderinge van die Bybelstudente in Toronto begin bywoon. In 1929 het sy ’n pionier, of ’n voltydse bedienaar, geword, en sy het met hierdie werk aangehou tot 1969, toe sy haar aardse loopbaan voltooi het. Haar volgehoue en ywerige bediening was ’n uitstekende voorbeeld vir ons en het talle gehelp om tot ’n kennis van Bybelwaarheid te kom.

My pa, Frank How, was ’n stil man wat my ma se godsdiensbedrywighede aan die begin teëgestaan het. Maar sy het reisende bedienaars, soos George Young, genooi om ons te besoek en met hom te praat, wat verstandig van haar was. Mettertyd het my pa meer tegemoetkomend geword. Namate hy die goeie uitwerking van Bybelwaarheid op sy gesin gesien het, het hy ons baie ondersteun, al het hy nooit ’n Getuie geword nie.

My besluit om God te dien

In 1936 het ek my skoolopleiding voltooi. Gedurende my tienerjare het ek nie baie in geestelike dinge belanggestel nie. Ons was in die middel van die Groot Depressie en werk was skaars. Daarom het ek na die Universiteit van Toronto gegaan. In 1940 het ek besluit om in die regte te studeer. Hierdie besluit het my ma glad nie verbaas nie. Toe ek nog ’n jong seun was, het sy dikwels ergerlik gesê: “Daardie klein rakker sal oor enigiets stry! Hy sal seker nog ’n advokaat word!”

Op 4 Julie 1940, net voordat ek in die regte begin studeer het, het die Kanadese regering sonder enige waarskuwing ’n verbod op die werk van Jehovah se Getuies geplaas. Dit was die keerpunt in my lewe. Toe die regering hierdie klein organisasie van onskuldige, nederige mense met mag en mening aangeval het, het dit my oortuig dat Jehovah se Getuies Jesus se ware volgelinge is. Net soos hy voorspel het, was hulle “weens [sy] naam vir al die nasies voorwerpe van haat” (Matteus 24:9). Ek het my voorgeneem om die Goddelike Krag agter hierdie organisasie te dien. Op 10 Februarie 1941 het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer.

Ek wou onmiddellik die pionierdiens betree. Maar Jack Nathan, wat destyds een van die broers was wat die leiding in die predikingswerk in Kanada geneem het, het my aangespoor om my regsopleiding te voltooi. Dis wat ek toe gedoen het, en in Mei 1943 het ek gegradueer, waarna ek as ’n pionier begin dien het. In Augustus is ek genooi om by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Toronto te dien en met die regsprobleme te help waarmee Jehovah se Getuies te kampe gehad het. Die daaropvolgende maand is ek tot die balie in Ontario, Kanada, toegelaat.

Wetlike verdediging van die goeie nuus

Die Tweede Wêreldoorlog het gewoed, en die Getuies se werk in Kanada was nog steeds verbied. Mans en vroue is in die tronk gesit bloot omdat hulle Jehovah se Getuies was. Kinders is uit die skool gesit, en sommige is selfs in pleegsorg geplaas. Dit is omdat hulle geweier het om aan nasionalistiese vorme van aanbidding deel te neem, soos om die vlag te salueer of die volkslied te sing. Professor William Kaplan, wat die boek State and Salvation: The Jehovah’s Witnesses and Their Fight for Civil Rights geskryf het, het gesê dat die “Getuies in die openbaar gesmaad is en die skyf was van staatsoptrede sowel as persoonlike aanvalle deur ’n onverdraagsame regering en ’n gemeenskap wat openlik vyandiggesind was en in die geesdrif en patriotisme van die oorlog meegesleep is”.

Die Getuies het sonder enige sukses probeer om die verbod te laat ophef. En toe skielik, op 14 Oktober 1943, is dit opgehef. Maar Getuies was nog steeds in tronke en strafkampe, kinders is nog steeds toegang tot openbare skole geweier en die verbod teen die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap en die International Bible Students Association, ’n korporasie wat die titelbewys van ons eiendom in Toronto gehou het, was nog altyd van krag.

Laat in 1943 het ek saam met Percy Chapman, wat Kanada se takkneg was, na New York gereis om met Nathan Knorr, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, en Hayden Covington, die Genootskap se visepresident en regsverteenwoordiger, te beraadslaag. Broer Covington het baie regsondervinding gehad. Hy het uiteindelik 36 van die 45 appèlsake in die Amerikaanse Hooggeregshof gewen, wat ’n verstommende prestasie is.

Verligting het stadig gekom vir die Getuies in Kanada. In 1944 is die takkantoor se eiendom in Toronto aan ons teruggegee, en diegene wat voor die verbod daar gedien het, kon teruggaan soontoe. In 1945 het die hoogste hof vir die provinsie Ontario verklaar dat kinders nie gedwing mag word om aan oefeninge deel te neem waarteen hulle gewetensbesware het nie. Die hof het beveel dat die uitgesette skoolkinders weer in die skool toegelaat word. Uiteindelik in 1946 het die Kanadese regering alle Getuies uit strafkampe vrygelaat. Onder broer Covington se leiding het ek geleer om hierdie stryde met moed en vasberadenheid, maar bowenal met vertroue op Jehovah, te voer.

Die stryd in Quebec

Hoewel die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies destyds in die grootste deel van Kanada gerespekteer is, was daar een uitsondering—die Franse Katolieke provinsie Quebec. Hierdie provinsie was al meer as 300 jaar lank onder die direkte beheer van die Rooms-Katolieke Kerk. Skole, hospitale en die meeste openbare dienste is deur die geestelikes bestuur of beheer. Daar was selfs ’n troon vir die Katolieke kardinaal langs die voorsitterstoel van Quebec se wetgewende liggaam!

Die eerste minister en prokureur-generaal van Quebec, Maurice Duplessis, was ’n diktator wat, volgens die geskiedskrywer van Quebec, Gérard Pelletier, “’n twintig jaar lange bewind van leuens, ongeregtigheid en korrupsie” oor die provinsie gebring het, “waaronder mag stelselmatig misbruik is, klein verstande geheers het en domheid geseëvier het”. Duplessis het sy politieke mag versterk deur kop in een mus met die Rooms-Katolieke kardinaal Villeneuve te wees.

Teen die vroeë 1940’s was daar 300 Getuies in Quebec. Baie, onder andere my broer Joe, was pioniers van ander dele van Kanada. Namate die predikingswerk in Quebec toegeneem het, het die plaaslike polisie, onder druk van die geestelikes, hierop gereageer deur die Getuies herhaaldelik in hegtenis te neem en deur munisipale handelsregulasies verkeerdelik op ons godsdiensbedrywighede toe te pas.

Ek het so dikwels tussen Toronto en Quebec gereis dat ek uiteindelik gevra is om na Quebec te verhuis om regsgeleerdes, wat nie Getuies was nie, by te staan wanneer hulle ons Christenbroers en -susters verteenwoordig het. My eerste taak elke dag was om uit te vind hoeveel die vorige dag in hegtenis geneem is en dan onmiddellik na die plaaslike hof te gaan om borgtog te reël. Gelukkig het ’n ryk Getuie, Frank Roncarelli, dikwels die borggeld betaal.

Van 1944 tot 1946 het die aantal vervolgings weens sogenaamde oortredinge van munisipale regulasies van 40 tot 800 toegeneem! Die Getuies is nie net voortdurend deur die openbare owerheid in hegtenis geneem en lastig geval nie, maar oproerige skares, wat deur die Katolieke geestelikes aangehits is, het hulle ook aangeval.

Op 2 en 3 November 1946 is ’n spesiale vergadering in Montreal gehou om hierdie krisis te bespreek. Broer Knorr het die laaste toespraak gehou met die titel “Wat sal ons doen?” Almal wat teenwoordig was, was verheug om sy antwoord te hoor—hy het die geskiedkundige dokument Quebec’s Burning Hate for God and Christ and Freedom Is the Shame of All Canada hardop gelees. Dit was ’n traktaat met vier bladsye en ’n vlymskerp boodskap—’n uitvoerige ontmaskering met name, datums en plekke van onluste wat deur die geestelikes aangestig is, polisiewreedheid, inhegtenisnames en gepeupelgeweld teen Jehovah se Getuies in Quebec. Die verspreiding van hierdie traktaat het net 12 dae later regoor Kanada begin.

Binne dae het Duplessis in die openbaar ’n “oorlog sonder genade” teen Jehovah se Getuies verklaar. Maar hy het onwetend in ons guns opgetree. Hoe so? Deur te beveel dat enigeen wat Quebec’s Burning Hate versprei van sedisie aangekla word—’n baie ernstige misdaad wat ons uit Quebec se howe na die Hooggeregshof van Kanada sou neem. In sy woede het Duplessis hierdie nadraai heeltemal geïgnoreer. Toe het hy persoonlik die dranklisensie van Frank Roncarelli, wat die meeste van ons borggeld voorsien het, laat kanselleer. Sonder wyn is broer Roncarelli se restaurant in Montreal binne ’n kwessie van maande gesluit en is hy finansieel geruïneer.

Die inhegtenisnames het vermenigvuldig. In plaas van 800 vervolgings was daar kort voor lank 1 600. Baie regsgeleerdes en regters het gekla dat al hierdie sake teen Jehovah se Getuies ’n ophoping in die Quebec-howe veroorsaak het. Ons het dan ’n maklike oplossing voorgestel: Laat die polisie die misdadigers in plaas van die Christene in hegtenis neem. Dit sou die probleem oplos!

Twee moedige Joodse regsgeleerdes, A. L. Stein van Montreal en Sam S. Bard van die stad Quebec, het ons gehelp deur ons in baie sake te verteenwoordig, veral voordat ek in 1949 tot die Quebec-balie toegelaat is. Pierre Elliott Trudeau, wat later die eerste minister van Kanada geword het, het geskryf dat Jehovah se Getuies in Quebec “deur ons hele gemeenskap bespot, vervolg en gehaat is; maar hulle het dit reggekry om deur regsmiddele teen Kerk, regering, nasie, polisie en die openbare mening te stry”.

Die gesindheid van die Quebec-howe is geopenbaar in die manier waarop my broer, Joe, behandel is. Hy is van rusverstoring aangekla. Die landdros Jean Mercier het Joe die maksimumvonnis van 60 dae in die tronk opgelê. Toe het hy sy humeur heeltemal verloor en van die regbank af geskreeu dat hy wens hy Joe lewenslank tronk toe kon stuur!

Een koerant het gesê dat Mercier die Quebec-polisie beveel het om “alle Getuies of dié wat vermoedelik Getuies is onmiddellik in hegtenis te neem”. Sulke optrede het slegs bewys dat die beskuldigings in ons traktaat Quebec’s Burning Hate waar was. Die volgende is ’n paar tipiese voorbladopskrifte van Kanadese koerante buite Quebec: “Die Donker Eeue keer terug na Quebec” (The Toronto Star), “Terugkeer van die Inkwisisie” (The Globe and Mail, Toronto), “Die stank van Fascisme” (The Gazette, Glace-baai, Nieu-Skotland).

Ons verdedig die aanklag van sedisie

In 1947 het ek mnr. Stein bygestaan in ons eerste sedisiesaak wat verhoor sou word. Dit was die aanklag teen Aimé Boucher. Aimé het traktate naby sy huis versprei. Tydens Aimé se verhoor het ons bewys dat Quebec’s Burning Hate geen valshede bevat het nie, maar dat ons ons in die traktaat slegs sterk uitgespreek het teen die wreedhede wat teen Jehovah se Getuies gepleeg is. Ons het getoon dat geen aanklag ooit ingedien is teen diegene wat hierdie wreedhede gepleeg het nie. Aimé is skuldig bevind bloot omdat hy dit bekend gemaak het. Die aanklaer se posisie het hierop neergekom: Dit het ’n misdaad geword om die waarheid te vertel!

Die Quebec-howe het op ’n vae, 350 jaar oue definisie van “sedisie” staatgemaak, wat geïmpliseer het dat enigeen wat die regering kritiseer aan ’n misdaad skuldig bevind kon word. Duplessis het ook op daardie definisie staatgemaak om kritiek teen sy regime te onderdruk. Maar in 1950 het Kanada se Hooggeregshof ons betoog aanvaar dat “sedisie” in ’n hedendaagse demokrasie aanhitsing tot geweld of opstand teen die regering beteken. Quebec’s Burning Hate het mense glad nie tot sulke optrede aangehits nie en was gevolglik ’n wettige vorm van vryheid van spraak. Met hierdie een belangrike beslissing het al 123 sedisiesake verdwyn! Ek het met my eie oë gesien hoe Jehovah ons die oorwinning gegee het.

Ons stryd teen sensuur

Die stad Quebec het ’n munisipale regulasie gehad wat die verspreiding van lektuur sonder ’n permit van die polisiehoof verbied het. Dit was direkte sensuur en gevolglik ’n skending van godsdiensvryheid. Laurier Saumur, wat destyds as ’n reisende opsiener gedien het, is vir drie maande tronk toe gestuur en het verskeie ander aanklagte teen hom gehad weens hierdie munisipale regulasie.

In 1947 is ’n siviele saak onder broer Saumur se naam aanhangig gemaak om die stad Quebec te verbied om die munisipale regulasie teen Jehovah se Getuies te gebruik. Die Quebec-howe het uitspraak teen ons gelewer, en ons het weer na die Hooggeregshof van Kanada geappelleer. In Oktober 1953, ná ’n verhoor van sewe dae voor al nege regters van daardie Hof, is ons aansoek om ’n interdik toegestaan. Die Hof het erken dat die openbare verspreiding van gedrukte Bybelpreke ’n fundamentele deel van die Christelike aanbidding van Jehovah se Getuies is en gevolglik deur die grondwet teen sensuur beskerm word.

Die Boucher-saak het dus getoon dat die dinge wat Jehovah se Getuies sê wettig is; maar die Saumur-beslissing het bevestig hoe en waar dit gesê kan word. Die oorwinning in die Saumur-saak het tot die afwysing van meer as 1 100 aanklagte weens die vermeende verbreking van munisipale regulasies in Quebec gelei. Meer as 500 aanklagte in Montreal is ook teruggetrek weens ’n gebrek aan bewyse. Kort voor lank het daar nie ’n enkele aanklag in Quebec oorgebly nie!

Duplessis se laaste aanval

Omdat daar nie meer wette was wat Duplessis teen Jehovah se Getuies kon gebruik nie, het hy vroeg in Januarie 1954 ’n nuwe wet, Wetsontwerp Nr. 38, wat in die media beskryf is as die ‘anti-Jehovah-se-Getuies-wet’, aan die wetgewende liggaam voorgelê. Dit het bepaal dat iemand wat vermoed het dat enigeen van plan was om ’n verklaring af te lê wat “lasterend of beledigend” is, ’n klag kon indien sonder om enige bewyse te gee. As prokureur-generaal kon Duplessis dan ’n interdik kry om die beskuldigde te belet om enige openbare verklaring af te lê. Wanneer die interdik eers teen een persoon uitgevaardig is, het dit alle ander lede van daardie persoon se kerk ook verbied om te praat. Verder sou alle Bybels en godsdienslektuur van daardie kerk gekonfiskeer en vernietig word, en al hulle plekke van aanbidding sou gesluit word totdat die saak beslis is, wat jare kon neem.

Wetsontwerp Nr. 38 is gegrond op ’n wet wat in die 15de eeu gedurende die Spaanse Inkwisisie onder Torquemada gemaak is. Die beskuldigde en almal wat met hom geassosieer is, het alle burgerregte verloor sonder enige bewys dat hulle ’n misdaad gepleeg het. Die pers het aangaande Wetsontwerp Nr. 38 aangekondig dat die provinsiale polisie beveel is om alle Koninkryksale van Jehovah se Getuies te sluit en om op hulle Bybels en ander lektuur beslag te lê en dit te vernietig. As gevolg van hierdie ernstige bedreiging het Jehovah se Getuies al hulle godsdienspublikasies uit die provinsie verwyder. Hulle het egter hulle openbare predikingswerk voortgesit, maar met slegs hulle persoonlike eksemplare van die Bybel.

Die wetsontwerp het op 28 Januarie 1954 wet geword. Op 29 Januarie, om 9:00 vm., was ek voor die hof se deure om ’n aksie namens al Jehovah se Getuies in die provinsie Quebec in te stel om ’n permanente interdik teen hierdie wet te kry voordat Duplessis dit selfs kon gebruik. Die regter het ons nie ’n tydelike interdik toegestaan nie omdat Wetsontwerp Nr. 38 nog nie gebruik is nie. Maar hy het gesê dat ek weer na hom toe kon kom vir beskerming as die regering dit probeer gebruik. Die regter se optrede het dus dieselfde uitwerking as ’n tydelike interdik gehad, want as Duplessis die wet selfs net probeer gebruik het, sou hy onmiddellik gekeer word!

Gedurende die daaropvolgende week het ons gewag om te sien of die polisie hierdie nuwe wet sou gebruik. Niks het gebeur nie! Om die rede hiervoor uit te vind, het ek ’n toets gereël. Twee pioniers, Victoria Dougaluk (later Steele) en Helen Dougaluk (later Simcox), het in Trois-Rivières, Duplessis se tuisdorp, met lektuur van huis tot huis gegaan. Daar was weer geen reaksie nie. Terwyl die susters hiermee besig was, het ek vir Laurier Saumur gevra om die provinsiale polisie te bel. Sonder om homself te identifiseer, het hy gekla dat Jehovah se Getuies besig was om te preek en dat die polisie nie Duplessis se nuwe wet toepas nie.

Die polisieman wat in bevel was, het verleë gesê: “Ja, ons weet van die nuwe wet, maar Jehovah se Getuies het op die dag ná die wet aangeneem is ’n interdik teen ons gekry. Daar is dus niks wat ons kan doen nie.” Ons het onmiddellik ons lektuur weer na die provinsie teruggebring, en gedurende die tien jaar wat hierdie saak van die laer na die hoër howe geappelleer is, het ons predikingswerk suksesvol vooruitgegaan.

Behalwe die interdik wat ons gekry het, het ons ook probeer om Wetsontwerp Nr. 38 ongrondwetlik te laat verklaar. Om te bewys dat hierdie wet vierkantig op Jehovah se Getuies gemik was, het ons besluit om ’n kans te waag—om aan Duplessis self ’n dagvaarding te stuur en hom so te dwing om die verhoor by te woon en getuienis af te lê. Ek het hom twee en ’n halfuur lank in kruisverhoor geneem. Ek het hom herhaaldelik gekonfronteer met sy openbare verklarings van “oorlog sonder genade teen die Getuies van Jehovah” en sy verklaring dat Wetsontwerp Nr. 38 die einde van Jehovah se Getuies in Quebec sou beteken. Hy was woedend en het my persoonlik aangeval: “Jy is ’n uiters vermetele jong man!”

“Mnr. Duplessis”, het ek geantwoord, “as ons persoonlikhede bespreek het, sou ek self ’n paar opmerkings gehad het. Maar aangesien dit nie hier ter sprake is nie, sal u asseblief aan die hof verduidelik waarom u nie die laaste vraag beantwoord het nie.”

In 1964 het ek die saak in verband met Wetsontwerp Nr. 38 voor die Kanadese Hooggeregshof bepleit. Hulle het egter geweier om ’n beslissing oor die grondwetlikheid daarvan te lewer omdat die wet nooit gebruik is nie. Maar teen daardie tyd was Duplessis dood, en niemand het meer in Wetsontwerp Nr. 38 belanggestel nie. Dit is nooit teen Jehovah se Getuies of enigiemand anders gebruik nie.

Kort voordat Duplessis in 1959 gesterf het, het die Kanadese Hooggeregshof hom beveel om aan broer Roncarelli skadevergoeding te betaal omdat hy sy dranklisensie wederregtelik gekanselleer het. Sedert daardie tyd het baie van Quebec se inwoners baie vriendelik teenoor ons geword. Die aantal Getuies daar het volgens ’n regeringsensus van 300 in 1943 tot meer as 33 000 vandag toegeneem. Jehovah se Getuies is nou die vierde grootste godsdiensgroep in die provinsie. Ek beskou nie hierdie regsoorwinnings of die sukses wat Jehovah se Getuies in die bediening behaal het as prestasies wat aan enige mens te danke is nie. Dit het eerder aan my bewys dat Jehovah die oorwinning gee, want die stryd is syne en nie ons s’n nie.—2 Kronieke 20:15NW.

Veranderde omstandighede

In 1954 het ek met ’n aantreklike pionier van Engeland getrou, Margaret Biegel, en ons het saam die pionierdiens betree. Ek het steeds hofsake namens Jehovah se Getuies in Kanada sowel as die Verenigde State gevoer en as raadgewer in sommige sake in Europa en Australië gedien. Margaret het my sekretaresse geword en het my baie jare lank getrou bygestaan. In 1984 het Margaret saam met my na die Kanadese takkantoor teruggekeer, waar ek gehelp het om ’n Regsafdeling op die been te bring. Ongelukkig het Margaret in 1987 aan kanker gesterf.

Ná my ma se dood in 1969 het my broer Joe en sy vrou, Elsie, wat albei in die negende klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead as sendelinge opgelei is, my pa by hulle ingeneem en hom tot sy dood 16 jaar later versorg. Hulle het dit vir my op hierdie selfopofferende wyse moontlik gemaak om in die voltydse diens te bly, en daarvoor sal ek altyd dankbaar wees.

Voortgesette stryde

Oor die jare het die regstryde van Jehovah se Getuies verander. Baie sake moes gevoer word om eiendom en permitte vir Koninkryksale en Byeenkomssale te verkry. Ander sake was in verband met toesig oor kinders waarin ouers wat nie Getuies is nie godsdiensvooroordeel gebruik het om alleentoesig te verkry of om Getuie-ouers te keer om hulle eie kinders nuttige godsdiensoortuigings te leer of om saam met hulle kinders aan heilsame godsdiensgebruike deel te neem.

’n Amerikaanse regsgeleerde, Linda Manning, het in 1989 na die Kanadese takkantoor gekom om tydelike regshulp te verleen. In November van daardie jaar het ons getrou, en ons dien sedertdien gelukkig hier saam.

In die 1990’s was ek en John Burns, ’n mederegsgeleerde hier by die Kanadese takkantoor, saam in Japan en het ons ons Christenbroers daar gehelp om ’n grondwetlike saak te wen wat gehandel het oor die vryheid van ’n leerling om nie aan verpligte verweerkunsklasse deel te neem nie. Ons het ook ’n oorwinning behaal in ’n saak waarin die reg van ’n volwassene betwis is om ’n bloedoortapping te weier.

Toe het ek en Linda in 1995 en 1996 die voorreg gehad om vyf maande in Singapoer deur te bring weens die verbod op Jehovah se Getuies in daardie land en die geregtelike vervolging wat dit tot gevolg gehad het. Ek het 64 mans, vroue en jeugdiges verdedig teen wie kriminele aanklagte ingebring is omdat hulle Christelike vergaderinge bygewoon en Bybels en godsdienslektuur besit het. Ons het nie enige van hierdie sake gewen nie, maar ons het gesien hoe Jehovah sy getroue knegte versterk het om met onkreukbaarheid en vreugde te volhard.

Dankbaar dat ek ’n aandeel kon hê

Op 80-jarige leeftyd geniet ek nog goeie gesondheid, en ek is bly dat ek nog steeds ’n aandeel kan hê aan die regstryde van Jehovah se volk. Ek is nog net so gereed soos altyd om hof toe te gaan en ’n standpunt in te neem vir wat reg is. Dit het my groot vreugde verskaf om te sien hoe die aantal Getuies in Kanada van 4 000 in 1940 tot 111 000 vandag gegroei het. Mense en gebeure kom en gaan, maar Jehovah lei sy volk altyd vooruit en verseker dat hulle geestelik floreer.

Is daar probleme? Ja, maar Jehovah se Woord gee ons die versekering: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie” (Jesaja 54:17). Ná meer as 56 jaar in die voltydse bediening waartydens ek ‘die goeie nuus verdedig en wetlik bevestig het’, kan ek getuig dat Jesaja se profesie waar is!—Filippense 1:7.

[Prent op bladsy 19]

Saam met my jonger broer en ons ouers

[Prent op bladsy 19]

Hayden Covington, regsadviseur

[Prent op bladsy 19]

Saam met Nathan Knorr

[Prent op bladsy 20]

Duplessis kniel voor kardinaal Villeneuve

[Erkenning]

Foto deur W. R. Edwards

[Prent op bladsy 20, 21]

Frank Roncarelli

[Erkenning]

Met vergunning van: Canada Wide

[Prente op bladsy 21]

Aimé Boucher

[Prent op bladsy 24]

Saam met my mederegsgeleerdes, John Burns en my vrou Linda