Ons beskou die wêreld
Ons beskou die wêreld
Nog mummies ontdek
“Argeoloë in Egipte het aangekondig dat hulle ten minste 200 mummies, waarvan party goue maskers opgehad het, in ’n enorme begraafplaas in die Westelike Woestyn ontdek het”, sê ’n berig van BBC News. Die begraafplaas is in die stad Bawiti geleë, sowat 300 kilometer suidwes van Kaïro, naby ’n oase in die woestyn. Volgens Egipte se Midde-Oosterse Nuusagentskap is daar moontlik meer as 10 000 mummies in die begraafplaas. Dit is herdoop tot die Vallei van die Mummies. Die tien kilometer lange begraafplaas dateer uit die vroeë Grieks-Romeinse tydperk, 2 000 jaar gelede. Party van die mummies wat tot dusver opgegrawe is, was toegedraai in linne of bedek met gips, en ’n hele paar het goue maskers opgehad “met pragtige ontwerpe van antieke Egiptiese godhede op hulle bors”, sê die direkteur van oudhede, Zahi Hawass.
Pessiektes teister Afrika
Pogings deur die Wêreldgesondheidsorganisasie om polio in Afrika teen die einde van die jaar heeltemal uit te roei, is in die wiele gery, berig die Cape Times. Die oorlog in Angola het daartoe gelei dat polio in daardie land epidemiese afmetings aangeneem het. Volgens Neil Cameron, direkteur van oordraagbare siektebeheer by Suid-Afrika se Departement van Gesondheid, kan dit nog tien jaar duur voordat polio in Angola uitgeroei is. Daarbenewens probeer Angola se bure, Namibië en die Demokratiese Republiek van die Kongo, om epidemies van Ebola-tipe hemorragiese koors en builepes onderskeidelik die hoof te bied. Melaatsheid is nog steeds ’n probleem in Etiopië, die Kongo, Mosambiek, Niger en Nigerië. Dit alles, tesame met die feit dat malaria in groot dele van die vasteland hoogty vier, veroorsaak groot besorgdheid omdat “grense geen versperring teen siektes is nie”, soos Cameron gesê het.
‘Water onontbeerlik vir lewe’
“Water is onontbeerlik vir lewe omdat die liggaam hoofsaaklik uit vloeistof bestaan”, berig die koerant die Toronto Star. “’n Afname van selfs 20 persent in liggaamswater kan noodlottig wees.” Water reguleer nie net ons liggaamstemperatuur nie, maar “vervoer [ook] voedingstowwe en afvalstowwe na en van die organe deur die bloedstroom en liggaamstelsels. Dit smeer ook die gewrigte en die dikderm, wat hardlywigheid help voorkom.” ’n Gemiddelde volwassene het twee tot drie liter water per dag nodig. Om koffie, gaskoeldrank of alkohol te drink, kan in werklikheid jou behoefte aan suiwer water vergroot omdat hierdie drinkgoed tot ontwatering kan bydra. Volgens een dieetkundige behoort dors nie as ’n herinnering te dien om water te drink nie omdat jy heel waarskynlik alreeds ontwater is teen die tyd wat jy dors voel. Die koerant sê dat “’n glas water elke uur gedurende die dag die meeste mense se behoefte aan water sal bevredig”.
Knip ’n uiltjie by die werk
“Sommige Kanadese sakeondernemings begin besef dat dit voordele inhou om by die werk ’n uiltjie te knip”, sê die koerant die Toronto Star. Werkgewers het “wakkerheidherstelkamers” vir nagskofwerkers in gebruik geneem. “Die kamers het gedempte ligte, is koel, stil en toegerus met wekkers, rusbanke of lêstoele”, sê die Star. Maar “dit is moeilik om ou idees te verander. Maatskappye wat slaapvertrekke voorsien, maak dit gewoonlik nie bekend nie.” Mary Perugini, ’n slaapklinikus by die Royal Ottawa-hospitaal se Sentrum vir Slaapafwykings, sê: “Ons werk langer ure, ons ervaar hoër stresvlakke en dit neem voortdurend toe. Dit sou nuttig wees as ons 20 minute per dag kon slaap. Dit sal produktiwiteit beslis verbeter (en) stres verminder.”
Die gevaar wat krimpende gletsers inhou
Die wêreld se grootste ysmassa buite die poolstreke sal binne 40 jaar verdwyn as dit aanhou om teen die huidige tempo te smelt, berig The Sunday Telegraph van Londen. ’n Kombinasie van temperature wat wêreldwyd toeneem en die betreklik lae breedteligging van die Himalajas bedreig die 15 000 gletsers in die streek. Die Gangotri-gletser, wat een van die bronne van die Gangesrivier is, het in die afgelope 50 jaar met byna ’n derde van sy lengte gekrimp. Syed Hasnain, ’n wetenskaplike wat die gletsers monitor, waarsku dat “riviere soos die Ganges, die Indus en die
Brahmapoetra, wat ongeveer 70 tot 80 persent van hulle water kry wanneer sneeu en gletsers smelt, sal opdroog” indien die huidige tempo voortduur. Die gevolg sal “’n ekologiese ramp” wees, waarsku hy. Intussen neem die risiko van ernstige oorstromings toe. Wanneer gletsers krimp, word mere gevorm wat deur breekbare mure van ys, rotse en sand omring word. Namate die ys smelt, breek vernietigende vloedwaters deur die mure na die valleie daar onder.Tabakgevare vir kinders
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) reken dat die gesondheid van 50 persent van die wêreld se kinders bedreig word weens blootstelling aan tabakrook, berig die Londense koerant die Guardian. Siektes wat met passiewe rook verband hou, sluit in asma en ander asemhalingsprobleme, die sindroom van skielike sterfte by suigelinge, middeloorsiektes en kanker. Navorsing toon ook dat kinders van rokers op akademiese gebied sukkel en dat hulle meer gedragsprobleme het. As albei ouers rook, is die kans 70 persent groter dat hulle kinders gesondheidsprobleme sal ondervind, en selfs net een roker in die gesin sal die kans met 30 persent vergroot. Die WGO dring aan op gesondheidsopvoeding vir ouers om hulle te help besef watter gevaar hulle rookgewoonte vir die gesin inhou sowel as op ’n rookverbod in skole en ander plekke waar kinders is.
Toerisme kraai koning
Volgens voorspellings deur die Wêreldtoerismeorganisasie (WTO) “sal die aantal internasionale toeriste toeneem van die huidige 625 miljoen per jaar tot 1,6 miljard in 2020”, berig The UNESCO Courier. Hierdie toeriste sal na verwagting meer as 12 biljoen rand uitgee, “wat toerisme die wêreld se vernaamste bedryf maak”. Tot dusver was Europa die gewildste bestemming. Frankryk is die land wat die meeste besoek word, met 70 miljoen besoekers in 1998. Maar teen 2020 sal China na verwagting die eerste plek inneem. Internasionale reise bly egter die voorreg van net ’n paar bevoorregtes. In 1996 het slegs 3,5 persent van die wêreld se bevolking na ander lande gereis. Die WTO voorspel dat hierdie syfer teen 2020 op 7 persent te staan sal kom.
Gevaarlike mini-vakansies?
Die mini-vakansie, ’n naweekvakansie wat tans deur die Europese toeristebedryf bevorder word as ’n vinnige en maklike manier om te ontspan en weg te kom van die lewe se druk, kan eintlik “meer kwaad doen as goed”, berig die Londense koerant die Guardian. Volgens die hartspesialis dr. Walter Pasini, van die Wêreldgesondheidsorganisasie, dra dinge soos om in te pak, na ’n lughawe te jaag en om te vlieg tesame met veranderinge in temperatuur, kos en tydsones by tot uitputting en is potensieel gevaarlik. Die liggaam neem ’n paar dae om te ontspan en by ’n ander klimaat en lewenstyl aan te pas, en wanneer dit nie gebeur nie, word die bloedsomloopstelsel en slaappatroon nadelig beïnvloed. Dr. Pasini se studie “het bevind dat diegene wat vinnig vir ’n paar dae weggaan ’n 17% groter kans het om ’n hartaanval te kry en ’n 12% groter kans om ’n motorongeluk te maak as diegene wat ’n week of langer op vakansie gaan”, het die koerant gesê. “Ek sê nie dat kort vakansies inherent gevaarlik is nie, maar dat mense versigtig moet wees en behoorlik moet voorberei”, het dr. Pasini volgens die Daily Telegraph van Londen gesê. “Mense neem deesdae al hoe korter vakansies en jaag rond om alles in ’n paar dae in te pas, maar dit is nie ’n goeie manier om te ontspan nie. Trouens, dit gaan met baie stres gepaard.”
Wraak van die ratelslang
“Ratelslange kan jou pik nadat hulle dood is—en hierdie vreemde vorm van nadoodse wraak is verbasend algemeen”, sê New Scientist. In Arizona, VSA, het 5 uit die 34 pasiënte wat oor ’n tydperk van 11 maande behandel is nadat ’n ratelslang hulle gepik het, gesê dat die slang hulle aangeval het nadat hy doodgemaak is, sê twee dokters wat die verskynsel bestudeer. Een slagoffer het ’n slang geskiet, sy kop afgesny, gewag dat hy ophou beweeg en toe die kop opgetel. Skielik het die kop hom in albei hande gepik. Vorige studies het getoon dat ’n afgekapte ratelslangkop “tot ’n uur ná sy dood sal probeer om voorwerpe aan te val wat heen en weer voor hom beweeg word”, sê die tydskrif. Herpetoloë meen dat dit “’n refleksbeweging [is], wat veroorsaak word deur infrarooireseptore in die ‘warmtesintuig’, ’n holte tussen die neusgat en die oog wat liggaamshitte bespeur”. Dr. Jeffrey Suchard waarsku dat ’n onthoofde ratelslang soos ’n “baie kort slang” hanteer moet word. “As jy daaraan móét raak”, het hy gesê, “stel ek voor dat jy ’n baie lang stok gebruik.”