Die kloof tussen ryk en arm word wyer
Die kloof tussen ryk en arm word wyer
“Meer vooruitgang is in die afgelope vyf dekades gemaak om wêreldwye armoede te verminder as in die vorige vyf eeue”, sê UNDP Today, ’n publikasie van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram. “Sedert 1960 het kindersterftes in ontwikkelende lande met die helfte verminder, wanvoeding is met een derde verminder en ’n kwart meer kinders gaan skool toe.” En tog erken dieselfde bron dat wêreldwye armoede ten spyte van hierdie vooruitgang “nog steeds iets algemeens is”.
Nog erger, ongelykheid in en tussen gemeenskappe is aan die toeneem. “In vergelyking met ’n jaar gelede”, sê Catherine Bertini, die uitvoerende direkteur van die VN se Wêreldvoedselprogram, “ly baie meer mense in die wêreld honger en is hulle ondervoed”. Trouens, vandag is sowat 840 miljoen mense in die ontwikkelende wêreld die hele tyd honger, ver oor ’n miljard het geen toegang tot veilige drinkwater nie en byna 1,5 miljard mense moet met minder as ses rand per dag klaarkom. Mary Robinson, die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte, waarsku dat “ons die risiko loop om ’n punt te bereik waar die wêreld nie verdeel sal word in ontwikkelende en ontwikkelde lande nie, maar in oorontwikkelde [lande] en dié wat nooit sal ontwikkel nie”.
Wat sou dit die hedendaagse wêreldbevolking van sesmiljard mense kos om die kloof tussen ryk en arm nouer te maak? Minder as wat ’n mens dalk dink. Die VN skat dat ’n bykomende R54 miljard (R9 per persoon) per jaar nodig sou wees om sanitêre geriewe en skoon water regoor die wêreld te voorsien en dat ’n bykomende R78 miljard (ongeveer R12 per persoon) per jaar nodig sou wees om basiese gesondheidsorg en voedsel vir almal op aarde te verseker. Hoewel dit aansienlike bedrae is, lyk dit kleiner wanneer dit vergelyk word met wat die wêreld op ander dienste uitgee. Ter toeligting, in een onlangse jaar het die wêreld R2,6 biljoen (meer as R400 per persoon) op reklame uitgegee en R4,7 biljoen (R770 per persoon) op militêre sake. Om die kloof tussen dié in die wêreld wat baie het en dié wat niks het nie te vernou, is ongetwyfeld eerder ’n kwessie van behoorlike prioriteite stel as om genoeg geld daarvoor te vind.