HOU AAN WAAK!
Hoekom kan mense nie vrede maak nie? – Wat sê die Bybel?
Wêreldleiers en internasionale organisasies het dit nie reggekry om vrede te bring nie. Vandag is daar meer gewelddadige konflikte as op enige ander tyd sedert die Tweede Wêreldoorlog. Omtrent twee miljard mense – wat ’n kwart van die wêreld se bevolking is – bly in gebiede wat deur sulke konflikte geraak word.
Hoekom kan mense nie vrede maak nie? Wat sê die Bybel?
Drie redes hoekom mense nie vrede kan maak nie
1. Mense het gesindhede wat keer dat hulle selfs probeer om vrede te maak. Die Bybel het voorspel dat in ons tyd sal “mense . . . selfsugtig wees, geldgierig, trots en hoogmoedig. Hulle sal . . . dislojaal wees. Hulle sal . . . nie bereid wees om tot enigiets in te stem nie. Hulle sal . . . geen selfbeheersing hê nie. Hulle sal wreed wees . . . , hardkoppig, opgeblase van trots”. – 2 Timoteus 3:2-4.
2. Mense, as individue en as ’n groep, het nie die vermoë om hulle probleme op te los sonder die hulp van hulle Skepper, Jehovah a God, nie. Die Bybel wys: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie.” – Jeremia 10:23.
3. Die wêreld is onder die beheer van ’n magtige en goddelose heerser, Satan die Duiwel, “wat die hele aarde mislei” (Openbaring 12:9). So lank as wat “die hele wêreld . . . in die mag van die Duiwel [is]”, sal daar oorlog en konflik wees. – 1 Johannes 5:19.
Wie kan vrede bring?
Die Bybel verseker ons dat mense nie vrede sal bring nie, maar dat God dit sal doen.
“‘Want ek weet goed wat ek vir julle in gedagte het,’ sê Jehovah. ‘Ek wil julle vrede gee, nie rampspoed nie. Ek wil julle ’n toekoms en ’n hoop gee.’” – Jeremia 29:11.
Hoe sal God hierdie belofte vervul? “Die God wat vrede gee, sal Satan . . . vergruis” (Romeine 16:20). God sal ’n hemelse regering gebruik, wat die Bybel “die Koninkryk van God” noem, om vrede wêreldwyd te bring (Lukas 4:43). Onder Jesus Christus, die Koning van hierdie Koninkryk, sal mense geleer word hoe om in vrede te lewe. – Jesaja 9:6, 7.
Om meer uit te vind, lees die artikel “Wat sal God se Koninkryk tot stand bring?”
a Jehovah is die persoonlike naam van God. – Psalm 83:18.