Rigters 12:1-15
12 Toe is die manne van Eʹfraim bymekaargeroep, en hulle het na Safon* gegaan en vir Jefta gevra: “Hoekom het jy ons nie geroep om saam met jou te gaan om teen die Ammoniete te veg nie?+ Ons sal jou saam met jou huis afbrand.”
2 Maar Jefta het vir hulle gesê: “Ek en my volk was in ’n groot geveg teen die Ammoniete. Ek hét julle hulp gevra, maar julle het my nie uit hulle hand gered nie.
3 Toe ek sien dat julle my nie gaan red nie, het ek besluit om my lewe te waag en teen die Ammoniete te gaan veg,+ en Jehovah het hulle in my hand gegee. Hoekom het julle dan vandag teen my kom veg?”
4 Jefta het toe al die manne van Giʹlead+ bymekaar laat kom, en hulle het teen Eʹfraim geveg. Die manne van Giʹlead het Eʹfraim verslaan, wat vroeër gesê het: “Al woon julle, die Gileadiete, in die gebied van Eʹfraim en Manasʹse, is julle maar net ’n spul vlugtelinge uit Eʹfraim.”
5 Giʹlead het die driwwe van die Jordaanrivier beset+ voordat Eʹfraim daar gekom het. Wanneer een van die manne van Eʹfraim probeer ontsnap het en gesê het: “Laat my deurgaan,” het die manne van Giʹlead hom gevra: “Is jy ’n Efraimiet?” As hy gesê het: “Nee!”
6 het hulle vir hom gesê: “Sê asseblief Sjibʹbolet.” Maar dan het hy “Sibʹbolet” gesê omdat hy die woord nie reg kon uitspreek nie. Hulle het hom dan gegryp en hom by die driwwe van die Jordaanrivier doodgemaak. So is 42 000 Efraimiete in daardie tyd doodgemaak.
7 Jefta, die Gileadiet, het ses jaar lank as rigter oor Israel gedien. Toe het Jefta gesterf, en hy is in sy stad in Giʹlead begrawe.
8 Ná hom het Ibsan, van Betlehem, as rigter oor Israel gedien.+
9 Hy het 30 seuns en 30 dogters gehad. Hy het sy dogters laat trou met mans wat nie deel van sy familie was nie, en hy het 30 vrouens wat nie deel van sy familie was nie, vir sy seuns ingebring. Hy het sewe jaar lank as rigter oor Israel gedien.
10 Toe het Ibsan gesterf, en hy is in Betlehem begrawe.
11 Ná hom het Elon, die Sebuloniet, tien jaar lank as rigter oor Israel gedien.
12 Toe het Elon, die Sebuloniet, gesterf, en hy is in Aʹjalon in die land van Seʹbulon begrawe.
13 Ná hom het Abdon, die seun van Hillel, die Piratoniet, as rigter oor Israel gedien.
14 Hy het 40 seuns en 30 kleinseuns gehad wat op 70 donkies gery het. Hy het agt jaar lank as rigter oor Israel gedien.
15 Toe het Abdon, die seun van Hillel, die Piratoniet, gesterf, en hy is in Piʹraton in die land van Eʹfraim op die berg van die Amalekiete+ begrawe.
Voetnote
^ Of moontlik “noordwaarts”.