Jeremia 52:1-34

  • Sedekia kom in opstand teen Babilon (1-3)

  • Nebukadnesar beleër Jerusalem (4-11)

  • Stad en tempel vernietig (12-23)

  • Volk in ballingskap na Babilon geneem (24-30)

  • Jojagin uit gevangenis vrygelaat (31-34)

52  Sedekiʹa+ was 21 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het 11 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Hamuʹtal,+ die dogter van Jeremia, uit Libna.  Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, net soos Jojaʹkim gedoen het.+  Dit was as gevolg van Jehovah se woede dat hierdie dinge in Jerusalem en in Juda gebeur het, en hy het hulle uiteindelik heeltemal verwerp.+ En Sedekiʹa het teen die koning van Babilon in opstand gekom.+  In die negende jaar nadat Sedekiʹa koning geword het, in die tiende maand, op die tiende dag van die maand, het koning Nebukadneʹsar* van Babilon met sy hele leërmag teen Jerusalem opgetrek. Hulle het daar kamp opgeslaan en ’n beleëringsmuur reg rondom die stad gebou.+  En die stad is tot die 11de jaar van koning Sedekiʹa beleër.  In die vierde maand, op die negende dag van die maand,+ toe die hongersnood in die stad baie erg was en daar geen kos was vir die volk van die land nie,+  is daar uiteindelik deur die stad se muur gebreek. Terwyl die Galdeërs die stad omsingel het, het al die soldate in die nag deur die poort tussen die twee mure naby die koning se tuin uit die stad gevlug, en hulle het gebly op die pad van die Aʹraba.+  Maar die leërmag van die Galdeërs het die koning agternagesit, en hulle het Sedekiʹa+ in die woestynvlaktes van Jeʹrigo ingehaal, en al sy soldate wat saam met hom was, is verstrooi.  Toe het hulle die koning gevang en hom na die koning van Babilon geneem, in Ribla, in die land Hamat, en hy het hom gevonnis. 10  En die koning van Babilon het Sedekiʹa se seuns voor sy oë doodgemaak, en hy het ook al die leiers van Juda daar in Ribla doodgemaak. 11  Toe het die koning van Babilon Sedekiʹa se oë verblind,+ sy voete in koperboeie gesit, hom na Babilon geneem en hom tot die dag van sy dood gevange gehou. 12  In die vyfde maand, op die tiende dag van die maand, dit wil sê in die 19de jaar van koning Nebukadneʹsar,* die koning van Babilon, het Nebusaraʹdan, die hoof van die wagte, wat ’n dienaar van die koning van Babilon was, na Jerusalem gekom.+ 13  Hy het die huis van Jehovah, die koning se paleis en al die huise van Jerusalem afgebrand.+ Hy het ook elke groot huis afgebrand. 14  En die hele Galdese leërmag wat saam met die hoof van die wagte was, het die mure om Jerusalem afgebreek.+ 15  Nebusaraʹdan, die hoof van die wagte, het van die arm mense van die volk en die res van die volk wat in die stad oorgebly het, in ballingskap weggeneem. Hy het ook die mense geneem wat na die koning van Babilon oorgeloop het, sowel as die res van die vaardige ambagsmanne.+ 16  Maar Nebusaraʹdan, die hoof van die wagte, het van die armste mense van die land agtergelaat om wingerde te bewerk en om as slawe te werk.+ 17  Die Galdeërs het die koperpilare+ van die huis van Jehovah en die waentjies+ en die Kopersee+ wat in die huis van Jehovah was, in stukke gebreek, en hulle het al die koper na Babilon weggedra.+ 18  Hulle het ook die kanne geneem, sowel as die grawe, die blussers, die bakke,+ die bekers+ en al die voorwerpe van koper wat in die diens by die tempel gebruik is. 19  Die hoof van die wagte het die komme,+ die vuurbakke, die bakke, die kanne, die lampstaanders,+ die bekers en die bakke wat van egte goud en silwer was, geneem.+ 20  Die koper van die twee pilare, die See, die 12 koperbulle+ onder die See en die waentjies wat koning Salomo vir die huis van Jehovah gemaak het, was te veel om geweeg te word. 21  Elkeen van die pilare was 18 el* hoog, en ’n maatlyn van 12 el kon daarom gespan word.+ Dit was vier vingerbreedtes* dik, en dit was hol. 22  En die kopstuk daarop was van koper. Die een kopstuk was vyf el hoog,+ en die netwerk en die granate reg rondom die kopstuk was alles van koper gemaak. Die tweede pilaar was presies dieselfde, en ook die granate. 23  Daar was 96 granate aan die kante, en daar was altesaam 100 granate reg rondom die netwerk.+ 24  Die hoof van die wagte het ook die hoofpriester Seraʹja,+ die tweede priester Sefanʹja+ en die drie deurwagters saamgeneem.+ 25  Hy het ook een hofbeampte wat oor die soldate aangestel was, uit die stad geneem, sowel as sewe van die koning se raadgewers wat in die stad was, die sekretaris van die hoof van die leërmag, wat die volk van die land opgeroep het, en 60 manne van die gewone mense van die land wat nog in die stad was. 26  Nebusaraʹdan, die hoof van die wagte, het hulle na die koning van Babilon in Ribla geneem. 27  Die koning van Babilon het hulle doodgemaak in Ribla,+ in die land Hamat. So het Juda uit sy land in ballingskap gegaan.+ 28  Die aantal mense wat Nebukadneʹsar* in die sewende jaar in ballingskap weggeneem het, was 3 023 Jode.+ 29  In die 18de jaar van Nebukadneʹsar*+ is 832 mense uit Jerusalem geneem. 30  In die 23ste jaar van Nebukadneʹsar* het Nebusaraʹdan, die hoof van die wagte, Jode in ballingskap weggeneem: 745 mense.+ Altesaam is 4 600 mense in ballingskap weggeneem. 31  Toe, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojaʹgin+ van Juda, in die 12de maand, op die 25ste dag van die maand, in die jaar toe koning Eʹwil-Meroʹdag van Babilon koning geword het, het hy koning Jojaʹgin van Juda vrygelaat* en hom uit die tronk uitgebring.+ 32  Hy het hom goed behandel en hom meer geëer as die ander konings* wat saam met hom in Babilon was. 33  Jojaʹgin het sy gevangenisklere uitgetrek, en hy het vir die res van sy lewe aan die koning se tafel geëet. 34  Hy het dag ná dag, tot die dag van sy dood, al die dae van sy lewe, kos van die koning van Babilon ontvang.

Voetnote

Lett. “Nebukadresar”, ’n wisselvorm van die naam.
Lett. “Nebukadresar”, ’n wisselvorm van die naam.
’n El was gelyk aan 44,5 cm. Sien Aanh. B14.
’n Vingerbreedte was gelyk aan 1,85 cm. Sien Aanh. B14.
Lett. “Nebukadresar”, ’n wisselvorm van die naam.
Lett. “Nebukadresar”, ’n wisselvorm van die naam.
Lett. “Nebukadresar”, ’n wisselvorm van die naam.
Lett. “die kop van koning Jojagin van Juda opgelig”.
Lett. “hom ’n troon gegee bo die trone van die konings”.