Genesis 35:1-29

  • Jakob raak ontslae van vreemde gode (1-4)

  • Jakob keer terug na Bet-El (5-15)

  • Benjamin se geboorte; Ragel se dood (16-20)

  • Israel se 12 seuns (21-26)

  • Isak sterf (27-29)

35  Daarna het God vir Jakob gesê: “Staan op, trek na Bet-El+ en woon daar, en bou daar ’n altaar vir die ware God, wat aan jou verskyn het toe jy vir jou broer, Esau, gevlug het.”+  Toe het Jakob vir sy huishouding en vir almal wat by hom was, gesê: “Raak ontslae van die vreemde gode wat julle by julle het+ en reinig julle en trek ander klere aan,  en laat ons na Bet-El trek. Ek sal daar ’n altaar bou vir die ware God, wat my geantwoord het op die dag toe ek in die moeilikheid was en wat met my was, waar ek ook al gegaan het.”+  Toe het hulle al die vreemde gode wat hulle gehad het en die oorringe wat aan hulle ore was, vir Jakob gegee, en Jakob het dit onder die groot boom naby Sigem begrawe.*  Toe hulle verder gereis het, het God die mense van die stede rondom hulle so bang laat word dat hulle nie die seuns van Jakob agternagesit het nie.  Jakob en al die mense by hom het uiteindelik in Lus+ aangekom, dit wil sê Bet-El, in die land Kanaän.  Daar het hy ’n altaar gebou, en hy het die plek El-Bet-El* genoem, want die ware God het hom daar aan Jakob geopenbaar toe hy vir sy broer gevlug het.+  Later het Deboʹra,+ Rebekka se oppasser, gesterf en is sy by Bet-El onder ’n eikeboom begrawe. Daarom het hy dit Allon-Baʹkut* genoem.  Gedurende Jakob se reis van Paddan-Aram af het God weer aan hom verskyn en hom geseën. 10  God het vir hom gesê: “Jou naam is Jakob,+ maar jy sal nie meer Jakob genoem word nie. Jou naam sal Israel wees.” En hy het hom Israel begin noem.+ 11  God het verder vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige.+ Wees vrugbaar en word baie. Nasies en ’n versameling van nasies sal uit jou voortkom,+ en konings sal van jou afstam.*+ 12  Die land wat ek aan Abraham en aan Isak gegee het, sal ek aan jou gee, en aan jou nageslag* sal ek die land gee.”+ 13  Toe het God van hom af weggegaan, weg van die plek waar hy met hom gepraat het. 14  Jakob het toe ’n pilaar opgerig op die plek waar hy met hom gepraat het, ’n klippilaar, en hy het eers ’n drankoffer en toe olie daarop uitgegooi.+ 15  En Jakob het die plek waar God met hom gepraat het, nog steeds Bet-El+ genoem. 16  Toe het hulle van Bet-El af weggetrek. En terwyl hulle nog ’n goeie ent van Efrat af was, het Ragel geboorte begin gee, en dit was ’n baie moeilike geboorte. 17  Maar terwyl sy gesukkel het om aan die kind geboorte te gee, het die vroedvrou vir haar gesê: “Moenie bang wees nie, want jy sal ook hierdie seun hê.”+ 18  In die laaste oomblikke van haar lewe* (want sy was besig om te sterf), het sy hom Ben-Oni* genoem, maar sy pa het hom Benjamin*+ genoem. 19  So het Ragel gesterf, en sy is begrawe op pad na Efrat, dit wil sê Betlehem.+ 20  Jakob het ’n pilaar op haar graf opgerig, en die pilaar staan tot vandag toe op Ragel se graf. 21  Daarna het Israel weggetrek en sy tent ’n ent anderkant die Eder-toring opgeslaan. 22  Terwyl Israel in daardie land gewoon het, het Ruben eenkeer by Bilha, sy pa se byvrou, geslaap, en Israel het daarvan uitgevind.+ Jakob het 12 seuns gehad. 23  Die seuns wat Jakob by Lea gehad het, was Ruben, sy eersgeborene,+ toe Siʹmeon, Levi, Juda, Isʹsaskar en Seʹbulon. 24  Die seuns wat hy by Ragel gehad het, was Josef en Benjamin. 25  Die seuns wat hy by Bilha, Ragel se diensmeisie, gehad het, was Dan en Nafʹtali. 26  En die seuns wat hy by Silpa, Lea se diensmeisie, gehad het, was Gad en Aser. Dit is Jakob se seuns wat in Paddan-Aram gebore is. 27  Jakob het uiteindelik by sy pa, Isak, in Mamre aangekom,+ in Kirjat-Arba, dit wil sê Heʹbron. Abraham sowel as Isak het as uitlanders daar gewoon.+ 28  Isak het 180 jaar lank gelewe.+ 29  Toe het Isak sy laaste asem uitgeblaas en gesterf, en hy is tot sy volk versamel* ná ’n lang en bevredigende lewe. Sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.+

Voetnote

Of “weggesteek”.
Beteken “God van Bet-El”.
Beteken “eikeboom van gehuil”.
Lett. “uit jou lendene kom”.
Lett. “saad”.
Of “Terwyl haar siel uitgegaan het”.
Beteken “seun van my droefheid”.
Beteken “seun van die regterhand”.
’n Poëtiese uitdrukking wat na die dood verwys.