Eksodus 14:1-31
14 Jehovah het toe vir Moses gesê:
2 “Sê vir die Israeliete dat hulle moet terugdraai en voor Pi-Hagirot kamp moet opslaan, tussen Migdol en die see, oorkant Baäl-Sefon.+ Julle moet daar by die see kamp opslaan.
3 Dan sal Farao van die Israeliete sê: ‘Hulle dwaal verward in die land rond. Hulle is in die wildernis vasgevang.’
4 Ek sal toelaat dat Farao hardkoppig word,*+ en hy sal hulle agternasit, en ek sal my deur middel van Farao en sy hele leërmag verheerlik,+ en die Egiptenare sal beslis weet dat ek Jehovah is.”+ Dit is wat hulle toe gedoen het.
5 Later is daar vir die koning van Egipte gesê dat die volk gevlug het. Die houding van Farao en sy knegte teenoor die volk het dadelik verander,+ en hulle het gesê: “Hoekom het ons dit gedoen? Hoekom het ons ons Israelitiese slawe vrygelaat?”
6 Toe het hy sy strydwaens gereedgemaak, en hy het sy soldate saam met hom geneem.+
7 Hy het 600 van die beste strydwaens geneem en al die ander strydwaens van Egipte, en daar was soldate op elkeen van hulle.
8 Jehovah het toegelaat dat Farao, die koning van Egipte, hardkoppig word,* en Farao het die Israeliete agternagesit terwyl die Israeliete vol vertroue* uitgegaan het.+
9 Die Egiptenare het hulle agternagesit,+ en al die strydwaperde van Farao en sy perderuiters en sy leërmag het al hoe nader aan hulle gekom terwyl hulle in hulle kamp by die see was, by Pi-Hagirot, oorkant Baäl-Sefon.
10 Toe Farao nader kom, het die Israeliete gesien dat die Egiptenare hulle agternasit. Die Israeliete het baie bang geword en tot Jehovah begin roep.+
11 Hulle het vir Moses gesê: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons te begrawe nie? Is dit hoekom jy ons hierheen gebring het om in die wildernis te sterf?+ Wat het jy aan ons gedoen deur ons uit Egipte uit te lei?
12 Ons het mos in Egipte vir jou gesê: ‘Los ons uit, sodat ons die Egiptenare kan dien.’ Want dit is vir ons beter om die Egiptenare te dien as om in die wildernis te sterf.”+
13 Toe het Moses vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie.+ Staan vas en sien hoe Jehovah julle vandag sal red.+ Want die Egiptenare wat julle vandag sien, sal julle nooit ooit weer sien nie.+
14 Jehovah sal vir julle veg,+ en julle sal stil wees.”
15 Jehovah het toe vir Moses gesê: “Waarom bly jy tot my roep? Sê vir die Israeliete dat hulle hulle kamp moet opbreek.
16 En jy, lig jou staf op en steek jou hand uit oor die see en verdeel dit in twee sodat die Israeliete op droë grond deur die see kan gaan.
17 Maar ek sal toelaat dat die Egiptenare hardkoppig word,* en hulle sal die Israeliete agternasit. So sal ek myself verheerlik deur middel van Farao en sy hele leërmag, sy strydwaens en sy perderuiters.+
18 En die Egiptenare sal beslis weet dat ek Jehovah is wanneer ek myself verheerlik deur middel van Farao, sy strydwaens en sy perderuiters.”+
19 Toe het die engel van die ware God+ wat voor die kamp van Israel uit gegaan het, wegbeweeg en na die agterkant van die kamp gegaan. Die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle gaan staan.+
20 So het dit tussen die kamp van die Egiptenare en die kamp van Israel in beweeg.+ Aan die een kant was dit ’n donker wolk, en aan die ander kant het dit lig voorsien in die nag.+ Die hele nag deur het die een kamp dus nie naby die ander kamp gekom nie.
21 Moses het toe sy hand oor die see uitgesteek,+ en Jehovah het die hele nag ’n sterk oostewind laat waai om die see terug te dryf, wat die seebodem in droë grond laat verander het.+ En die waters is in twee verdeel.+
22 Die Israeliete het dus op droë grond deur die see getrek+ terwyl die waters soos ’n muur aan hulle regterkant en aan hulle linkerkant gestaan het.+
23 Die Egiptenare het hulle agternagesit, en al Farao se perde, strydwaens en perderuiters het agter hulle aan in die see ingegaan.+
24 Gedurende die oggendwaak* het Jehovah vanuit die vuur-en-wolkkolom+ na die kamp van die Egiptenare gekyk, en hy het die kamp van die Egiptenare verwar.
25 Hy het die wiele van hulle strydwaens aanhoudend laat afval, en hulle het gesukkel om dit te beheer. Die Egiptenare het uitgeroep: “Laat ons wegvlug van die Israeliete af, want Jehovah veg vir hulle teen die Egiptenare!”+
26 Toe het Jehovah vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see, sodat die waters kan terugvloei oor die Egiptenare, hulle strydwaens en hulle perderuiters.”
27 Moses het dadelik sy hand oor die see uitgesteek, en die see het teen dagbreek na sy normale toestand teruggekeer. Terwyl die Egiptenare daarvan weggevlug het, het Jehovah hulle in die see afgeskud.+
28 Die waters wat teruggevloei het, het die strydwaens bedek, sowel as die perderuiters en Farao se hele leërmag wat agter die Israeliete aan in die see ingegaan het.+ Nie eers een van hulle is gespaar nie.+
29 Maar die Israeliete het op droë grond op die seebodem geloop,+ en die waters het soos ’n muur aan hulle regterkant en aan hulle linkerkant gestaan.+
30 So het Jehovah Israel op daardie dag uit die hand van die Egiptenare gered,+ en Israel het die Egiptenare dood op die strand gesien.
31 Israel het ook die groot krag* gesien wat Jehovah teen die Egiptenare gebruik het, en die volk het begin om Jehovah te vrees en om geloof in Jehovah en in sy kneg Moses te stel.+
Voetnote
^ Lett. “sal Farao se hart verhard”.
^ Lett. “het die hart van Farao . . . verhard”.
^ Lett. “met ’n opgeligte hand”.
^ Lett. “sal die harte van die Egiptenare verhard”.
^ D.w.s. van omtrent 02:00 tot omtrent 06:00.
^ Lett. “hand”.