Deuteronomium 23:1-25
23 “Geen man wat gekastreer is deurdat sy testikels stukkend gedruk is of wie se manlike orgaan afgesny is, mag in die gemeente van Jehovah kom nie.+
2 “Geen buite-egtelike seun mag in die gemeente van Jehovah kom nie.+ Selfs tot die tiende geslag mag nie een van sy nakomelinge in die gemeente van Jehovah kom nie.
3 “Geen Ammoniet of Moabiet mag in die gemeente van Jehovah kom nie.+ Selfs tot die tiende geslag mag nie een van hulle nakomelinge ooit in die gemeente van Jehovah kom nie,
4 omdat hulle julle nie gehelp het deur vir julle kos en water te gee nadat julle uit Egipte gekom het nie,+ en omdat hulle Biʹleam, die seun van Beor, uit Petor in Mesopotaʹmië, gehuur het om julle te vervloek.+
5 Maar Jehovah julle God het geweier om na Biʹleam te luister.+ Jehovah julle God het die vloek eerder in ’n seën vir julle verander,+ omdat Jehovah julle God julle liefgehad het.+
6 In al julle dae moet julle nooit hulle voordeel soek of hulle help om voorspoedig te wees nie.+
7 “Julle mag nie ’n Edomiet haat nie, want hy is julle broer.+
“Julle mag nie ’n Egiptenaar haat nie, want julle het as uitlanders in hulle land gewoon.+
8 Van die derde geslag af mag die kinders wat vir hulle gebore word, in die gemeente van Jehovah kom.
9 “Wanneer julle teen julle vyande gaan veg en kamp opslaan, moet julle enigiets wat sleg is,* vermy.+
10 As ’n man onrein word omdat hy ’n saadstorting in die nag het,+ moet hy uit die kamp uitgaan en buite die kamp bly.
11 Wanneer dit aand word, moet hy hom met water was, en dan mag hy ná sononder weer in die kamp inkom.+
12 ’n Private plek* moet buite die kamp vir julle gebruik opsygesit word, en dit is waar julle moet gaan.
13 ’n Houtpen moet deel van jou gereedskap wees. Wanneer jy buite hurk, moet jy ’n gat daarmee grawe en dan jou ontlasting bedek.
14 Want Jehovah julle God is in julle kamp+ om julle te verlos en om julle vyande aan julle oor te lewer, en julle kamp moet heilig wees,+ sodat hy niks afstootliks by julle sien en wegdraai en ophou om saam met julle te gaan nie.
15 “Jy mag nie ’n slaaf aan sy meester oorlewer as hy van sy meester ontsnap en na jou toe kom nie.
16 Hy mag onder julle woon waar hy ook al wil, in enige plek wat hy in een van julle stede uitkies. Julle mag hom nie sleg behandel nie.+
17 “Geen dogter van Israel mag ’n tempelprostituut word nie,+ en ook mag geen seun van Israel ’n tempelprostituut word nie.+
18 Julle mag nie die geld wat betaal is aan ’n vroulike prostituut of die geld wat betaal is aan ’n manlike prostituut* in die huis van Jehovah julle God bring om ’n gelofte na te kom nie, want albei is iets afskuweliks vir Jehovah julle God.
19 “Jy mag nie jou broer rente laat betaal nie,+ of dit nou rente is op geld, op kos of op enigiets waarop rente gevra kan word.
20 Jy mag ’n uitlander rente laat betaal,+ maar jy mag nie jou broer rente laat betaal nie,+ sodat Jehovah jou God jou kan seën in alles wat jy aanpak in die land wat jy in besit gaan neem.+
21 “As jy ’n gelofte aan Jehovah jou God maak,+ moet jy nie traag wees om dit na te kom nie.+ Want Jehovah jou God sal dit vir seker van jou eis. Anders sal dit ’n sonde vir jou word.+
22 Maar as jy nie ’n gelofte maak nie, sal jy nie aan sonde skuldig wees nie.+
23 Jy moet doen wat jy sê jy sal doen,+ en jy moet doen wat jy met jou eie mond as ’n vrywillige offer aan Jehovah jou God belowe het.+
24 “As jy in jou medemens se wingerd ingaan, mag jy genoeg druiwe eet om jou te versadig, maar jy mag niks daarvan in jou houer sit nie.+
25 “As jy in jou medemens se landery van ongesnyde graan ingaan, mag jy die ryp are met jou hand pluk, maar jy mag nie ’n sekel gebruik om jou medemens se graan af te sny nie.+
Voetnote
^ Of “wat julle kan verontreinig”.
^ D.w.s. ’n plek wat as ’n toilet gebruik kan word.
^ Lett. “’n hond”.