Daniël 2:1-49

  • Koning Nebukadnesar ontstel deur droom (1-4)

  • Geen wyse man kan sê wat hy gedroom het nie (5-13)

  • Daniël vra God vir hulp (14-18)

  • God geloof omdat Hy geheim geopenbaar het (19-23)

  • Daniël sê vir koning wat hy gedroom het (24-35)

  • Droom se betekenis (36-45)

    • Klip sal beeld vernietig (44, 45)

  • Koning bewys eer aan Daniël (46-49)

2  In Nebukadneʹsar se tweede regeringsjaar het hy drome gehad wat hom so ontstel het+ dat hy nie kon slaap nie.  Daarom het die koning beveel dat die towerpriesters, die waarsêers, die towenaars en die Galdeërs* geroep moet word om vir hom te vertel wat hy gedroom het. En hulle het ingekom en voor die koning gaan staan.+  Toe het die koning vir hulle gesê: “Ek het ’n droom gehad, en ek is ontsteld, want ek wil weet wat ek gedroom het.”  Die Galdeërs het die koning in die Aramese taal* geantwoord:+ “O koning, mag u vir ewig lewe. Vertel vir u knegte wat u gedroom het, en ons sal vir u sê wat dit beteken.”  Die koning het die Galdeërs geantwoord: “Ek het klaar besluit: As julle nie vir my sê wat ek gedroom het en wat die droom beteken nie, sal julle in stukke gekap word, en julle huise sal in openbare toilette* verander word.  Maar as julle vir my sê wat ek gedroom het en wat die droom beteken, sal ek vir julle geskenke en ’n beloning en groot eer gee.+ Sê dus vir my wat ek gedroom het en wat die droom beteken.”  Hulle het ’n tweede keer geantwoord: “Laat die koning vir sy knegte vertel wat hy gedroom het, en ons sal vir u sê wat die droom beteken.”  Die koning het geantwoord: “Ek weet goed dat julle tyd probeer wen, want julle weet wat ek besluit het.  As julle nie vir my sê wat ek gedroom het nie, sal julle almal dieselfde straf kry. Maar julle het ooreengekom om my met leuens om die bos te lei in die hoop dat ek van plan sal verander. Sê dus vir my wat ek gedroom het, en ek sal weet dat julle kan verduidelik wat die droom beteken.” 10  Die Galdeërs het die koning geantwoord: “Daar is nie ’n mens op die aarde wat kan doen wat die koning beveel nie, want geen groot koning of goewerneur het al ooit so iets van enige towerpriester of waarsêer of Galdeër gevra nie. 11  Wat die koning vra, is moeilik, en daar is niemand wat dit aan die koning kan openbaar nie, behalwe die gode, en hulle woon nie onder blote mense nie.” 12  Toe die koning dit hoor, het hy briesend kwaad geword en beveel dat al die wyse manne van Babilon doodgemaak moet word.+ 13  Toe die bevel gegee is om die wyse manne dood te maak, het hulle Daniël en sy vriende ook gaan soek om hulle dood te maak. 14  Aʹriog, die hoof van die koning se lyfwag, het uitgegaan om die wyse manne van Babilon dood te maak. Toe het Daniël op ’n versigtige en taktvolle manier met hom gaan praat. 15  Hy het vir Aʹriog, die beampte van die koning, gevra: “Hoekom het die koning so ’n wrede bevel gegee?” Toe het Aʹriog vir Daniël vertel wat gebeur het.+ 16  Daniël het toe na die koning gegaan en hom gevra om hom tyd te gee sodat hy vir die koning kon sê wat die droom beteken. 17  Daarna het Daniël na sy huis gegaan en vir sy vriende Hananʹja, Miʹsael en Asarʹja van die saak vertel. 18  Hy het hulle gevra om die God van die hemel om genade te smeek en te vra dat Hy die geheim moet openbaar, sodat Daniël en sy vriende nie saam met die res van die wyse manne van Babilon doodgemaak sou word nie. 19  Toe is die geheim in die nag in ’n visioen aan Daniël geopenbaar.+ Daarom het Daniël die God van die hemel geloof. 20  Daniël het gesê: “Laat die naam van God tot in alle ewigheid geloof word,want hy alleen het wysheid en mag.+ 21  Hy verander tye en tydperke,+verwyder konings en stel konings aan,+gee wysheid aan die wyses en kennis aan dié wat insig het.+ 22  Hy openbaar die diep dinge en die geheime dinge.+ Hy weet wat in die duisternis is,+en die lig woon by hom.+ 23  Ek dank en loof u, o God van my voorvaders,want u het vir my wysheid en mag gegee. En nou het u aan my bekend gemaak wat ons u gevra het. U het aan ons bekend gemaak wat die koning wil weet.”+ 24  Toe het Daniël na Aʹriog gegaan, wat deur die koning aangestel is om die wyse manne van Babilon dood te maak,+ en hy het vir hom gesê: “Moenie een van die wyse manne van Babilon doodmaak nie. Neem my na die koning toe, en ek sal vir die koning sê wat die droom beteken.” 25  Aʹriog het Daniël dadelik na die koning toe geneem en vir hom gesê: “Ek het ’n man onder die ballinge* van Juda+ gevind wat vir die koning kan sê wat die droom beteken.” 26  Die koning het vir Daniël, wat die naam Beltʹsasar+ ontvang het, gevra: “Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat die droom beteken?”+ 27  Daniël het die koning geantwoord: “Nie een van die wyse manne, waarsêers, towerpriesters of sterrevoorspellers kan die geheim waaroor die koning vra aan hom openbaar nie.+ 28  Maar daar is ’n God in die hemel wat ’n Openbaarder van geheime is,+ en hy het aan koning Nebukadneʹsar bekend gemaak wat aan die einde van die dae gaan gebeur. Dít is u droom, en dít is die visioene wat u gesien het terwyl u op u bed gelê het: 29  “Op u bed, o koning, het u gedroom van wat in die toekoms gaan gebeur, en die Openbaarder van geheime het aan u bekend gemaak wat gaan gebeur. 30  Hierdie geheim is nie aan my geopenbaar omdat ek meer wysheid het as enigiemand anders nie, maar sodat die betekenis van die droom aan die koning bekend gemaak kan word en sodat u kan weet wat u gedroom het.+ 31  “U, o koning, het ’n groot beeld* gesien. Die beeld was ontsaglik groot en het baie geblink. Dit het voor u gestaan, en dit was skrikwekkend. 32  Die kop van die beeld was van suiwer goud,+ sy bors en sy arms was van silwer,+ sy maag en sy bobene was van koper,+ 33  sy bene was van yster,+ en sy voete was gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.*+ 34  Terwyl u gekyk het, is ’n klip uit ’n berg uitgekap, maar nie deur mensehande nie, en dit het die beeld op sy voete van yster en van klei getref en hulle verpletter.+ 35  Toe is die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud alles saam verpletter, en dit het soos kaf op die dorsvloer in die somer geword, en die wind het dit weggewaai sodat geen spoor daarvan gevind kon word nie. Maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot berg geword, en dit het die hele aarde gevul. 36  “Dit is die droom, en ons sal nou vir die koning sê wat dit beteken. 37  U, o koning – die koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koninkryk,+ die mag, die sterkte en die heerlikheid gegee het, 38  en in wie se hand hy mense gegee het, waar hulle ook al woon, sowel as die diere van die veld en die voëls van die hemel, en wat hy as heerser oor hulle almal aangestel het+ – u is die kop van goud.+ 39  “Maar ná u sal daar ’n ander koninkryk wees,+ wat nie so belangrik soos u sal wees nie, en daarna nog ’n koninkryk, ’n derde, van koper, wat oor die hele aarde sal regeer.+ 40  “En die vierde koninkryk sal so sterk soos yster wees.+ Want net soos yster alles stukkend breek en vernietig, ja, soos yster wat verpletter, sal dit al die ander stukkend breek en verpletter.+ 41  “En die feit dat die voete en die tone wat u gesien het gedeeltelik van klei en gedeeltelik van yster was, beteken dat die koninkryk verdeeld sal wees. Maar daar sal van die hardheid van yster daarin wees, want soos u gesien het, was daar yster tussen die sagte klei. 42  En net soos die tone van die voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei was, so sal die koninkryk gedeeltelik sterk en gedeeltelik swak wees. 43  En die feit dat u yster gesien het wat met sagte klei gemeng was, beteken dat hulle met die gewone mense gemeng sal wees, maar hulle sal nie aan mekaar kleef nie, net soos yster en klei nie meng nie. 44  “In die dae van daardie konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig+ wat nooit vernietig sal word nie.+ En hierdie koninkryk sal nie aan ’n ander volk oorgedra word nie.+ Dit sal al daardie koninkryke vernietig en ’n einde aan hulle maak,+ en dit alleen sal vir ewig bestaan.+ 45  Dit sal wees net soos u gesien het: Die klip wat uit die berg gekap is, maar nie deur mensehande nie, het die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verpletter.+ Die Groot God het aan die koning bekend gemaak wat in die toekoms sal gebeur.+ Die droom is waar, en die betekenis daarvan is betroubaar.” 46  Toe het koning Nebukadneʹsar op sy knieë voor Daniël neergeval en aan hom eer bewys. En hy het beveel dat ’n geskenk vir hom gegee moet word en dat reukwerk vir hom gebrand moet word. 47  Die koning het vir Daniël gesê: “Julle God is beslis God van die gode en Here van die konings en ’n Openbaarder van geheime, want jy het dit reggekry om hierdie geheim te openbaar.”+ 48  Die koning het Daniël toe ’n belangrike man gemaak en vir hom baie, waardevolle geskenke gegee, en hy het hom die heerser oor die hele Babilon-provinsie+ en die hoofprefek oor al die wyse manne van Babilon gemaak. 49  En op Daniël se versoek het die koning Sadrag, Mesag en Abedneʹgo+ oor die administrasie van die Babilon-provinsie aangestel, maar Daniël het in die koning se paleis gedien.

Voetnote

D.w.s. ’n groep waarsêers en sterrevoorspellers.
Da 2:4b tot 7:28 is oorspronklik in Aramees geskryf.
Of moontlik “vullishope; mishope”.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Of “standbeeld”.
Of “gebakte (gevormde) klei”.