Die tweede boek van Konings 3:1-27

  • Joram, koning van Israel (1-3)

  • Moab kom in opstand teen Israel (4-25)

  • Moab verslaan (26, 27)

3  Joram,+ die seun van Agab, het in die 18de jaar van koning Joʹsafat van Juda koning oor Israel geword in Samariʹa, en hy het 12 jaar lank regeer.  Hy het bly doen wat sleg is in Jehovah se oë, maar nie so erg soos sy pa en ma nie, want hy het die heilige pilaar van Baäl verwyder wat sy pa gemaak het.+  Maar hy het aangehou om dieselfde sondes te pleeg wat Jeroʹbeam, die seun van Nebat, Israel laat pleeg het.+ Hy het nie daarvan afgewyk nie.  Mesa, die koning van Moab, het met skape geboer, en hy het altyd 100 000 lammers en 100 000 ongeskeerde ramme aan die koning van Israel as skatting* betaal.  Toe Agab gesterf het,+ het die koning van Moab teen die koning van Israel in opstand gekom.+  Daarom het koning Joram in daardie tyd uit Samariʹa vertrek en die hele leërmag van Israel bymekaargeroep.  Hy het ook die volgende boodskap aan koning Joʹsafat van Juda gestuur: “Die koning van Moab het teen my in opstand gekom. Sal jy saam met my teen Moab gaan oorlog voer?” Hy het geantwoord: “Ja, ek sal.+ Ek sal saam met jou gaan. My volk is jou volk. My perde is jou perde.”+  Daarna het hy gevra: “Met watter pad sal ons gaan?” Hy het geantwoord: “Met die pad van die wildernis van Edom.”  Die koning van Israel het toe saam met die koning van Juda en die koning van Edom+ gegaan. Nadat hulle sewe dae lank met ’n ompad getrek het, was daar nie water vir die kamp en vir die diere wat by hulle was nie. 10  Die koning van Israel het gesê: “Hoe verskriklik! Jehovah het hierdie drie konings bymekaargebring net om hulle in die hand van Moab te gee!” 11  Toe het Joʹsafat gevra: “Is daar nie ’n profeet van Jehovah hier deur wie ons Jehovah kan raadpleeg nie?”+ Een van die knegte van die koning van Israel het geantwoord: “Daar is Eliʹsa,+ die seun van Safat, wat Eliʹa+ se dienaar was.”* 12  Joʹsafat het gesê: “Die woord van Jehovah is met hom.” Joʹsafat en die koning van Israel en die koning van Edom het dus na hom toe gegaan. 13  Eliʹsa het vir die koning van Israel gesê: “Wat het ek met jou te doen?*+ Gaan na die profete van jou pa en na die profete van jou ma.”+ Maar die koning van Israel het vir hom gesê: “Nee, want dit is Jehovah wat hierdie drie konings bymekaargebring het om hulle in die hand van Moab te gee.” 14  Eliʹsa het toe gesê: “So waar as wat Jehovah lewe, die God van die leërmagte en die Een wat ek dien,* ek sou nie eers na jou gekyk het of aandag aan jou geskenk het as dit nie was vir die respek wat ek vir koning Joʹsafat+ van Juda het nie.+ 15  Bring nou vir my ’n harpspeler.”*+ Toe die harpspeler begin speel, het die krag* van Jehovah oor Eliʹsa gekom.+ 16  Hy het gesê: “Dít is wat Jehovah sê: ‘Grawe slote oral in hierdie vallei,* 17  want dít is wat Jehovah sê: “Julle sal geen wind sien nie en julle sal geen reën sien nie, en tog sal hierdie vallei* vol water word,+ en julle, julle vee en julle ander diere sal daarvan drink.”’ 18  Maar dit is iets kleins in die oë van Jehovah,+ want hy sal Moab ook in julle hand gee.+ 19  Julle moet al die versterkte stede+ en al die beste stede verslaan, en julle moet elke goeie boom afkap en al die waterfonteine toestop, en julle moet elke goeie stuk grond met klippe onbruikbaar maak.”+ 20  En in die oggend, teen die tyd van die oggendgraanoffer,+ het water skielik uit die rigting van Edom gekom, en die land het vol water geword. 21  Al die Moabiete het gehoor dat die konings opgetrek het om teen hulle te veg. Daarom het hulle al die manne bymekaargeroep wat oud genoeg was om te veg,* en hulle het by die grens gaan staan. 22  Toe hulle die oggend vroeg opstaan, het die son op die water geskyn. En vir die Moabiete aan die oorkant het die water rooi soos bloed gelyk. 23  Hulle het gesê: “Dit is bloed! Die konings het mekaar vir seker met die swaard doodgemaak. Laat ons hulle gaan stroop,+ o Moab!” 24  Toe hulle in die kamp van Israel kom, het die Israeliete die Moabiete aangeval, wat voor hulle gevlug het.+ Die Israeliete het tot in Moab gegaan en die Moabiete doodgemaak so ver as wat hulle gegaan het. 25  Hulle het die stede afgebreek, en elke man het ’n klip op elke goeie stuk grond gegooi en dit sodoende met klippe toegegooi. Hulle het elke waterfontein toegestop+ en hulle het elke goeie boom afgekap.+ Uiteindelik het net die klipmure van Kir-Hareʹset+ bly staan, en die soldate wat met slingervelle gewapen was, het die stad omsingel en dit aangeval. 26  Toe die koning van Moab sien dat hy die geveg verloor het, het hy 700 manne met swaarde saam met hom geneem om deur te dring tot by die koning van Edom,+ maar hulle kon nie. 27  Hy het toe sy eersgebore seun geneem wat in sy plek sou regeer het en hom as ’n brandoffer+ op die muur geoffer. En daar het groot woede teen Israel ontstaan, en daarom het hulle van die koning van Moab af weggetrek en na hulle land teruggekeer.

Voetnote

Of “wat altyd water op Elia se hande uitgegooi het”.
Lett. “Wat vir my en vir jou?”
Lett. “voor wie ek staan”.
Lett. “hand”.
Of “musikant”.
Of “wadi”. Sien Woordelys.
Of “wadi”. Sien Woordelys.
Of “wat hulle met ’n lyfband omgord het”.