Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Tanzanië: Voetgangers toon belangstelling in lektuur op lektuurtrollies in Dar es Salaam

GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

Die onbereikbares word bereik

Die onbereikbares word bereik

HOEWEL die huis-tot-huis-bediening steeds die vernaamste manier is waarop Jehovah se Getuies Bybelwaarheid verkondig, is die gebruik van aantreklike lektuurtafels en -trollies ’n baie doeltreffende manier om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Matt. 24:14). Koninkryksverkondigers het staanders, tafels en stalletjies gebruik om mense in openbare plekke te bereik. En sowat 250 000 lektuurtrollies is na gemeentes regoor die wêreld gestuur. Wat was die resultaat?

In Dar es Salaam, Tanzanië, het byna 700 mense vir Bybelstudies gevra sedert die program vir spesiale openbare getuieniswerk in stede in 2014 daar begin het. Talle belangstellendes het al vergaderinge bygewoon en leer meer oor God. Binne ’n jaar het mense uit lande in Afrika en uit die buiteland meer as 250 000 stukke lektuur van lektuurtrollies geneem.

In die Salomonseilande, waar minder as 2 000 verkondigers in ’n groot gebied preek wat uit meer as 300 bewoonde eilande bestaan, het spesiale openbare getuieniswerk ’n belangrike manier geword om saadjies van waarheid te saai. In die hoofstad, Honiara, het die broers meer as 104 000 tydskrifte en meer as 23 600 brosjures gelaat by mense wat van eilande en afgeleë dorpies kom waar daar geen Getuies is nie. Binne net een middag het hulle 400 kopieë van die boek Wat leer die Bybel werklik? versprei, en 60 mense het tuisbybelstudies aangevra.

Gewone pioniers Michael en Linda het vroeg een oggend ’n lektuurstaander opgestel langs ’n strand op die Margarita-eiland, Venezuela. ’n Man met die naam Aníbal het na die staander gekom en ’n Leer Bybel-boek geneem. Hy het hulle vertel dat sy pa sewe jaar gelede op daardie einste strand dood is en dat sy ma sedertdien aan depressie ly. Die volgende week het Aníbal teruggekom en vir Michael en Linda gesê dat dit die herdenking van sy pa se dood is. Hy het sy selfoon uitgehaal, sy ma gebel en Michael gevra om met haar te praat en haar te vertroos. Michael het dit toe gedoen. Van toe af het sy Michael en Linda ’n hele paar keer gebel, en hulle het vertroostende tekste vir haar gelees. Aníbal se ma het in een teksboodskap geskryf: “Ek voel vandag baie beter omdat julle my vertroos het en my gehelp het om my geloof op te bou.”

Spesiale openbare getuieniswerk is op 127 plekke in 14 stede in die Verenigde State georganiseer. Gedurende die eerste sewe maande van die 2015-diensjaar is 8 445 Bybelstudies begin! Hierdie vorm van getuieniswerk het ook ’n groot rol daarin gespeel om baie wat onbedrywig geword het, te help om weer terug te keer na ware aanbidding. Byvoorbeeld, toe ’n man met die naam Terry na een van ons lektuuruitstallings in Los Angeles, Kalifornië, gekyk het, het die Getuie-egpaar by die tafel hom gevra of hy al van ons lektuur gelees het. Hy het verduidelik dat hy een van Jehovah se Getuies is, maar dat hy al sowat vier jaar lank onbedrywig is. Die egpaar het Esegiël 34:11 gelees en met hom bespreek, waar Jehovah sê: “Ek sal my skape soek en vir hulle sorg.” Hulle het hom van ons webwerf en JW Broadcasting vertel. Die volgende oggend het Terry vir die broer ’n e-pos gestuur en verduidelik dat hy, net voordat hy die lektuurtafel gesien het, God gesmeek het om hom te vergewe omdat hy opgehou het om gemeentelike vergaderinge by te woon. Hy het ook vir hulp gevra om nader aan Jehovah te kom. “Toe groet julle my vriendelik”, het Terry gesê. “Julle het daardie aanmoedigende teks vir my gelees en gesê wat ek moet doen om weer na Jehovah se organisasie terug te keer. Dit was ’n antwoord op my gebed.”

Daar is vier plekke in Addis Abeba, Etiopië, waar spesiale openbare getuieniswerk gedoen word. Binne drie maande het die broers 37 275 publikasies versprei, en 629 mense het gevra dat die Getuies hulle moet besoek. Een van die talle mense wat ’n Leer Bybel-boek geneem het, was ’n bejaarde man wat dit onmiddellik begin lees het. In die verlede het hy aan ’n kweekskool gestudeer en hy het vrae oor Jesus en God se Koninkryk gehad. Hy het dus die volgende dag weer na die staander gegaan om antwoorde op sy vrae te kry. Die dag daarna het hy ’n Bybelstudie aanvaar, en teen die einde van die week het hy sy eerste vergadering bygewoon. Nou woon hy ons vergaderinge gereeld by en maak hy goeie vordering.

Etiopië: Lektuur in Amharies word in Addis Abeba uitgestal

’n Joodse man het in Mexiko na ’n lektuurstaander gegaan en die twee broers gevra of hulle iets het wat die dood bespreek. Hulle het vir hom gesê dat hulle nie meer van die tydskrifte het wat die dood bespreek nie, maar toe bied hulle vir hom ’n tydskrif oor die toekoms aan. Die man het die broer aan die arm gevat en gesê: “Ek stel nie belang in die toekoms nie. Ek wil myself net doodmaak.” Toe het hy begin huil. Die broers het hom gevra waarom hy so voel. “My seun is onlangs oorlede”, het hy in trane gesê. Hulle het toe hoofstuk 7 in die Leer Bybel-boek vir hom gewys. Hulle het die eerste twee paragrawe onder die onderhofie “Wanneer ’n geliefde sterf” vir hom gelees, sowel as die einde van die hoofstuk, waar die hoop vir die dooies bespreek word. Dit het sy hart geraak, en hy het die broer weer aan die arm gevat en gevra: “Is dit regtig waar?” Die broers het hom verseker dat Jehovah hierdie belofte beslis gaan nakom. “Wat moet ek doen om my seun weer te sien?” het hy gevra. Hulle het reëlings getref om die man tuis te besoek. En toe hulle daar aankom, kon hy nie wag om met die Bybelstudie te begin nie.

“Jehovah het hierdie program beslis geseën!” het ’n reisende opsiener gesê wat gehelp het om die program vir spesiale openbare getuieniswerk in New York te begin. “Dit was nie net ’n baie doeltreffende manier om tienduisende mense te bereik nie, maar dit het ons ook in aanraking gebring met talle onbedrywiges en uitgesettenes—‘verlore skape’—wat nou gehelp word om na die kudde terug te keer.”—Esegiël 34:15, 16.