Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Burundi: Nolla wys Die Wagtoring vir die mans wat die kole by haar gevra het

AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Afrika

Afrika
  • LANDE 58

  • BEVOLKING 1 082 464 150

  • VERKONDIGERS 1 453 694

  • BYBELSTUDIES 3 688 959

Getuieniswerk op ’n bromponie

Benin: Désiré gebruik ’n mediaspeler op sy bromponie sodat sy passasiers die goeie nuus kan hoor

In suidelike Benin is dit algemeen dat bromponies as taxi’s in stede gebruik word, en plaaslik word dit zems genoem. Désiré, ’n hulppionier, het ’n mediaspeler op sy zem geïnstalleer en twee luidsprekers op die passasiersitplek gerig. Hy speel die hele tyd opnames van publikasies en Bybeldramas. Wanneer passasiers op sy zem klim, luister hulle gewoonlik kort voor lank aandagtig. Teen die tyd dat hulle by hulle bestemming aankom, is baie so verdiep in die opnames dat hulle huiwer of selfs weier om van die zem af te klim totdat dit klaar is. Désiré sê: “Ek wil natuurlik hê dat hulle moet betaal en afklim sodat ek ’n ander passasier kan kry, maar ek weet dat mense die goeie nuus moet hoor, en dit is belangriker as geld. Buitendien, op hierdie manier versprei ek baie lektuur.”

’n Kind wat aangehou het

Nolla is ’n sesjarige meisie wat saam met haar gesin in die heuwels van Burundi woon. Eendag, terwyl die gesin kos op ’n koolstoof gekook het, het twee mans wat langsaan gewerk het, gevra of hulle van die kole kan kry om hulle eie vuur te maak. Nolla, wat nog nie in die skool was nie, het na die vuur omgesien toe die mans daar aankom. Sy het vir hulle ’n paar kole gegee. ’n Rukkie later het Nolla verby die twee mans geloop en gesien dat hulle die kole gebruik het om ’n sigaret aan te steek. Dit het haar baie ontstel en sy het vir hulle gesê: “As ek geweet het dat julle die kole gaan gebruik om ’n sigaret aan te steek, sou ek dit nie vir julle gegee het nie.” Sy het toe onthou dat sy ’n tydskrif by die Koninkryksaal gesien het met ’n prentjie van ’n sigaret op. Sy het na die Koninkryksaal gehardloop en twee eksemplare gaan haal van Die Wagtoring van 1 Junie 2014, wat die rookgewoonte bespreek. Nolla het na die mans toe gegaan, die tydskrifte vir hulle gegee en daarop aangedring dat hulle dit onmiddellik lees. Later het sy hulle weer gesien en vir hulle uitnodigings na die streekbyeenkoms gegee. Die mans was verbaas dat die jong meisie so aangehou het en hulle het twee dae van die byeenkoms bygewoon. Tydens middagpouse het Nolla hulle gesien en hulle genooi om ’n eenvoudige maaltyd saam met haar gesin te kom eet. Wat hulle by die byeenkoms gesien en gehoor het, het hulle so beïndruk dat albei mans die Bybel begin studeer het.

Getuieniswerk in tronke

Ouer manne in Liberië verkondig die Koninkryksboodskap in etlike staatstronke. Yves, ’n spesiale pionier in die hoofstad, Monrovia, verduidelik: “In Maart het drie gevangenes ongedoopte verkondigers geword. Daar is nou altesaam ses verkondigers in die Sentrale Gevangenis in Monrovia.” Hoe doen hulle velddiens? “Hulle kom elke Woensdag en Saterdag vir velddiens bymekaar”, verduidelik Yves. “Dan word hulle toegelaat om van sel tot sel te gaan en medegevangenes van die Bybel se boodskap van hoop te vertel.” Talle gevangenes het nou hulle eie Bybelstudie en woon die vergaderinge by wat by die tronk gehou word. ’n Verteenwoordiger van die Takkantoor het ’n openbare toespraak gelewer vir 79 gevangenes by hierdie tronk. Gereelde Bybelstudieklasse word by ses ander tronke gehou en van die gevangenes het positiewe veranderinge aangebring.

“Ons het dringend hulp nodig”

Daar is baie gedoen om belangstellendes in afgeleë plekke te help om die Gedenkmaal by te woon. Byvoorbeeld, die San, wat ook Boesmans genoem word, is die oorspronklike inwoners van Suider-Afrika. In die verlede het hulle ’n eenvoudige, nomadiese lewe as jagter-versamelaars gelei. Glenn, ’n spesiale pionier in die noorde van Namibië, het gereël om die Gedenkmaal vir 2015 te hou in ’n afgeleë San-gemeenskap, 270 kilometer oos van Rundu. Dit was die tweede keer dat ’n Gedenkmaal hier gehou is. Jehovah se Getuies het albei kere toestemming ontvang om die magistraatskantoor gratis te gebruik. Altesaam 232 het die Gedenkmaal bygewoon ten spyte van die feit dat dit voor en gedurende die Gedenkmaal swaar gereën het. Die mense in hierdie gebied praat die Khwe-taal, wat bekend is vir die talle klik-geluide. Die toespraak is uit Engels in Khwe getolk. Omdat daar nie ’n Bybel in Khwe is nie, is kleurskyfies vertoon om tekste soos Jesaja 35:5, 6 te verduidelik. Glenn, wat ’n aantal progressiewe Bybelstudies in die gebied hou, sê: “Ek kom die afgelope twee jaar een keer ’n maand hierheen. En dan kampeer ek ’n paar dae hier. Die vordering is maar stadig weens die taal en die afstand. Ons het dringend hulp nodig. Toe ek hierdie jaar na die owerheid gegaan het om reëlings te tref vir die Gedenkmaal, het ’n lid van die gemeenskapskomitee my gevra of ons asseblief ’n plek van aanbidding in die gebied sal bou. Hy het gesê dat die komitee die grond sou voorsien en dat hulle sou betaal om die gebou op te rig! Ons moes net die ‘pastoor’ voorsien of ten minste een van hulle as ’n pastoor oplei!”

Namibië: Twee verkondigers vertel ’n Himba-vrou van die goeie nuus