INDONESIË
Dit is waar ek wil begin!
Alexander MacGillivray, die takkneg in Australië, het diep in gedagte in sy kantoor heen en weer geloop. Hy het al etlike dae met ’n probleem geworstel en het uiteindelik ’n oplossing gevind. Nou moes hy met Frank Rice praat.
Frank, ’n geharde 28-jarige kolporteur (pionier), het ’n paar weke tevore by die takkantoor aangekom. Hy het die waarheid as ’n tiener geleer en het kort daarna met die kolporteurwerk begin. Hy het toe meer as tien jaar regoor die grootste deel van Australië gepreek, te perd of met behulp van ’n fiets, motorfiets of kampeerwa. Nadat Frank ’n rukkie by Bethel was, was hy reg om sy volgende gebiedstoewysing aan te pak.
Broer MacGillivray het Frank in sy kantoor ingeroep en gewys na ’n kaart van die eilande noord van Australië. “Frank, sal jy daarvan hou om die predikingswerk hier aan die gang te kry?” het hy gevra. “Daar is nie ’n enkele broer op al hierdie eilande nie!”
Frank se oog het geval op ’n string eilande wat soos pêrels geglinster het in die Indiese Oseaan
Die predikingswerk in Java
In 1931 het Frank Rice in Djakarta aangekom, ’n groot, besige stad op die eiland Java. Hy het ’n kamer naby die middestad gehuur en dit volgepak met bokse Bybellektuur, tot die verbasing van die huiseienaar.
“Aanvanklik het ek ietwat verlore gevoel en huis toe verlang”, het Frank vertel. “Mense het rondgeloop in wit katoenklere en helmhoede, terwyl ek versmoor het in my swaar Australiese klere. Ek kon glad nie Nederlands of Indonesies praat nie. Nadat ek tot Jehovah gebid het vir lei
Aangesien die meeste inwoners van Djakarta Nederlands gepraat het, het Frank hard gestudeer om ’n basiese kennis van die taal te verkry, en hy het kort voor lank van huis tot huis begin preek. Hy het ook Indonesies begin leer en dit geleidelik baasgeraak. “Die probleem was dat ek geen Indonesiese lektuur gehad het nie”, het Frank gesê. “Toe het Jehovah my na ’n Indonesiese skoolonderwyser gelei wat in die waarheid begin belangstel het en ingestem het om die boekie Waar is die dode? te vertaal. Nog boekies is daarna vertaal, en kort voor lank het baie mense wat Indonesies gepraat het, in die waarheid begin belangstel.”
In November 1931 het nog twee pioniers van Australië in Djakarta aangekom
Kort op Clem en Bill se hakke was Charles Harris, nog ’n geharde Australiese pionier. Vanaf 1935 het Charles die grootste deel van Java met ’n motorwoning en fiets gedek en lektuur in vyf tale versprei: Arabies, Chinees, Engels, Indonesies en Nederlands. Party jare het hy ongeveer 17 000 lektuuritems geplaas.
Die hoeveelheid lektuur wat Charles versprei het, het baie mense se aandag getrek. ’n Amptenaar in Djakarta het Clem Deschamp gevra: “Hoeveel mense het julle wat daar in Oos-Java werk?”
“Net een”, het broer Deschamp geantwoord.
“Verwag jy ek moet dit glo?” het die amptenaar verbaas gesê. “Julle moet ’n magdom werkers daar hê om soveel van julle lektuur oral te versprei!”
Die vroeë pioniers het voortdurend van plek tot plek getrek om soveel mense as moontlik te bereik. “Ons het die eiland van hoek tot kant gewerk en selde twee keer met dieselfde persoon gepraat”, het Bill Hunter gesê. Hulle het oral geestelike saad gesaai wat later ’n ryk geestelike oes opgelewer het.
Soematra hoor die goeie nuus
Ongeveer 1936 het die pioniers in Java bespreek hoe om die werk na Soematra uit te brei
Die pioniers het saam besluit om Frank Rice te stuur en het dus die bietjie geld wat hulle gehad het, saamgegooi om sy reisgeld te betaal. Kort daarna het Frank in Medan, Noord-Soematra, aangekom met sy twee velddienssakke, 40 bokse lektuur en ’n bietjie geld in sy sak. Frank was ’n man van sterk geloof. Hy het onmiddellik aan die werk gespring, vol vertroue dat Jehovah alles sal voorsien wat hy nodig het om sy toewysing uit te voer.
Tydens die laaste week wat hy in Medan gepreek het, het Frank ’n vriendelike Hollander ontmoet wat hom ingenooi het vir koffie. Frank het vir die man gesê dat hy ’n motor nodig het om die goeie nuus regoor die eiland te verkondig. Die man het na ’n stukkende motor in sy tuin gewys en gesê: “As jy dit kan regmaak, kan jy dit vir 100 gulde kry.” *
“Ek het nie 100 gulde nie”, het Frank gesê.
Die man het Frank stip aangekyk. “Wil jy regtig vir die hele Soematra preek?” het hy gevra.
“Ja”, het Frank geantwoord.
“Wel, dan kan jy die motor kry as jy dit kan regmaak”, het die Hollander gesê. “Wanneer jy die geld het, kan jy my betaal.”
Frank het aan die motor begin werk, en kort voor lank het dit glad geloop. Hy het later geskryf: “Met ’n motor vol lektuur, ’n tenk vol petrol en ’n hart vol geloof het ek in die pad geval om vir die mense van Soematra te gaan preek.”
’n Jaar later, nadat hy die hele eiland gedek het, het Frank teruggekeer na Djakarta. Hy het die motor toe vir 100 gulde verkoop en die geld aan die Hollander in Medan gestuur.
’n Paar weke later het Frank ’n brief uit Australië ontvang, waarin hy in kennis gestel is van ’n nuwe pioniertoewysing. Hy het onmiddellik sy tasse gepak en na Indo-China (nou Kambodja, Laos en Viëtnam) gegaan om die werk daar aan die gang te kry.