Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 6

Watter hoop is daar vir die dooies?

Watter hoop is daar vir die dooies?

1. Wat is die goeie nuus oor die dooies?

Toe Jesus in Betanië naby Jerusalem aangekom het, was sy vriend Lasarus al vier dae dood. Jesus het saam met Marta en Maria, Lasarus se susters, na die graf gegaan. ’n Rukkie later was daar ’n groep mense by hulle. Kan jy jou indink hoe bly Marta en Maria was toe Jesus Lasarus weer lewend gemaak het? – Lees Johannes 11:21-24, 38-44.

Marta het geweet van die goeie nuus oor die dooies. Sy het geweet dat Jehovah die dooies ’n opstanding op die aarde sal gee. – Lees Job 14:14, 15.

2. Wat gebeur ná die dood?

God het vir Adam gesê: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.” – GENESIS 3:19.

Mense is uit stof gemaak (Genesis 2:7; 3:19). Ons is nie geeste wat in ’n vleeslike liggaam lewe nie. Ons is fisiese skepsele. So, geen deel van ons hou aan lewe ná die dood nie. Wanneer ons sterf, sterf ons brein ook, en dan het ons nie meer gedagtes nie. Daarom het Lasarus niks gesê oor die tyd toe hy dood was nie, want die dooies weet niks nie. – Lees Psalm 146:4; Prediker 9:5, 6, 10.

Pynig God mense ná die dood met vuur? Die Bybel wys dat die dooies niks weet nie. Daarom is die leerstelling dat daar ’n hel is, definitief ’n leuen wat veroorsaak dat mense God blameer vir iets wat hy nie doen nie. Net die idee om mense met vuur te pynig, is vir hom aaklig. – Lees Jeremia 7:31.

Kyk na die video Wat is die toestand van die dooies?

3. Kan die dooies met ons praat?

Die dooies kan nie praat of hoor nie (Psalm 115:17). Maar party engele is sleg, en hulle praat soms met mense en maak asof hulle iemand is wat dood is (2 Petrus 2:4). Jehovah sê ons moenie met die dooies probeer praat nie. – Lees Deuteronomium 18:10, 11.

4. Wie sal weer lewe?

Miljoene dooies wat in die graf is, sal weer op die aarde lewe. Selfs mense wat nie vir God geken het nie en wat slegte dinge gedoen het, sal weer lewend gemaak word. – Lees Lukas 23:43; Handelinge 24:15.

Mense wat ’n opstanding sal kry, sal die waarheid oor God kan leer en wys dat hulle geloof in Jesus het deur aan hom gehoorsaam te wees (Openbaring 20:11-13). Mense wat weer lewend gemaak word en goeie dinge doen, sal vir ewig op die aarde kan lewe. – Lees Johannes 5:28, 29.

5. Wat vertel die opstanding ons van Jehovah?

Daar is hoop vir die dooies omdat God sy Seun gestuur het om vir ons te sterf. So, die opstanding vertel ons van Jehovah se liefde en onverdiende goedheid. Wie wil jy baie graag sien wanneer die dooies weer lewend gemaak word? – Lees Johannes 3:16; Romeine 6:23.