Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 22

Die apostels preek onbevrees

Die apostels preek onbevrees

Die Christengemeente groei vinnig ondanks vervolging

TIEN dae nadat Jesus opgevaar het hemel toe, het ongeveer 120 van sy dissipels tydens die Joodse Pinksterfees van 33 HJ in ’n huis in Jerusalem bymekaargekom. Skielik het ’n gedruis soos dié van ’n voortstuwende bries die huis gevul. Die dissipels het wonderdadig in tale begin praat wat hulle nie geken het nie. Wat kon hierdie vreemde gebeure verklaar? God het heilige gees aan die dissipels gegee.

Buite was daar ’n skare omdat besoekers uit baie lande vir die fees gekom het. Hulle was verstom toe hulle hoor hoe hulle eie tale vlot gepraat word deur Jesus se dissipels. Petrus het verduidelik wat gebeur het en verwys na die profeet Joël se profesie dat God sy gees sou “uitstort”, wat wonderdadige gawes sou verleen aan diegene wat dit ontvang (Joël 2:28, 29). Hierdie kragtige bewys van heilige gees het duidelik getoon dat ’n belangrike verandering plaasgevind het: God se guns het van Israel na die pas gestigte Christengemeente verskuif. Diegene wat God nou op aanneemlike wyse wou dien, moes volgelinge van Christus word.

Intussen het teenstand toegeneem, en vyande het die dissipels in die gevangenis gegooi. Maar in die nag het Jehovah se engel die deure van die gevangenis oopgemaak en vir die dissipels gesê om aan te hou preek. Met dagbreek was dit presies wat hulle gedoen het. Hulle het in die tempel ingegaan en die goeie nuus aangaande Jesus aan ander begin leer. Hulle godsdiensteenstanders was woedend en het hulle beveel om op te hou preek. Die apostels het onverskrokke geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:28, 29.

Die vervolging het toegeneem. Sekere Jode het die dissipel Stefanus van godslastering beskuldig en hom gestenig. ’n Jong man—Saulus van Tarsus—het toegekyk en die moord goedgekeur. Hy is toe na Damaskus om enigiemand wat Christus volg, in hegtenis te neem. Terwyl Saulus op die pad gereis het, het ’n lig uit die hemel rondom hom geflits, en ’n stem het gesê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my?” Saulus, wat deur die lig verblind is, het gevra: “Wie is u?” Die stem het geantwoord: “Ek is Jesus.”—Handelinge 9:3-5.

Drie dae later het Jesus ’n dissipel genaamd Ananias gestuur om Saulus se sig te herstel. Saulus is gedoop en het met vrymoedigheid van Jesus begin getuig. Saulus het later as die apostel Paulus bekend gestaan en het ’n ywerige lid van die Christengemeente geword.

Jesus se dissipels het tot op hierdie stadium die goeie nuus van God se Koninkryk slegs aan Jode en Samaritane verkondig. Nou het ’n engel aan Kornelius, ’n godvresende Romeinse leëroffisier, verskyn en vir hom gesê om die apostel Petrus te laat haal. Petrus, vergesel deur ander, het vir Kornelius en sy huisgenote getuig. Terwyl Petrus nog gepraat het, het heilige gees op hierdie nie-Joodse gelowiges gekom, en die apostel het hulle aangesê om in die naam van Jesus gedoop te word. Die weg na die ewige lewe was nou oop vir mense van alle nasies. Die gemeente was gereed om die goeie nuus wyd en syd te versprei.

—Gebaseer op Handelinge 1:1–11:21.