GEORGIË
Waar was julle al die tyd?
Artoer Gerechelia
-
GEBORE 1956
-
GEDOOP 1991
-
PROFIEL Net agt maande ná sy doop het hy sy huis en ’n florerende besigheid agtergelaat om te gaan dien waar daar hulp nodig was.
EK WAS pas gedoop toe die ouer manne my gevra het of ek my bediening wou uitbrei. Op 4 Mei 1992 het ek ’n spesiale vergadering bygewoon vir diegene wat gereed was om te trek na waar daar hulp nodig was. Die volgende dag het ek en my velddiensmaat na die hawestad Batoemi, in die Adzjarië-streek, getrek.
Toe ek die eerste keer in Batoemi gepreek het, was ek baie senuweeagtig. Ek het my afgevra: ‘Hoe kan ek ’n gesprek begin?’ Ek was verbaas deur die reaksie van die eerste vrou met wie ek gepraat het. Sy het uitgeroep: “Waar was julle al die tyd?” Sy was so gretig om meer oor die Getuies te leer dat sy sommer die volgende dag die Bybel saam met ons begin studeer het!
Voordat ons na Batoemi getrek het, het ons ’n lys adresse van belangstellendes gekry. Omdat ons nie die stad goed geken het nie, het ons mense op straat vir aanwysings gevra.
Baie mense kon ons nie help nie omdat die meeste straatname kort tevore verander is, maar hulle het in ons boodskap belanggestel. Kort voor lank het ons Bybelstudies met groepe van 10 tot 15 mense gehou.Net vier maande nadat ons daar aangekom het, het meer as 40 mense gereeld die vergaderinge bygewoon. Ons het ons dus afgevra: ‘Wie sal na hierdie nuwelinge kyk?’ Toe, as gevolg van konflik tussen die Georgiese weermag en mense wat onafhanklikheid in Abchasië wou hê, het al die lede van my vorige gemeente na Batoemi getrek. ’n Nuwe gemeente met ervare ouer manne en pioniers is in net een dag gestig!